‘Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Beste Afgevaardigde,

Debatte en gesprekvoering oor homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings is teen hierdie tyd minstens verlammend – vir álmal. As ampsdraers wat gay is, wil ons ons getuienis deel.

Ons word herinner aan God se uitnodiging na die nagmaaltafel. As lidmate van die kerk, weet ons dat dit God self is wat ons uitnooi na die nagmaaltafel. Ons is oortuig dat ons mekaar kan ontmoet by ’n nagmaaltafel – nie te danke aan gravamina en beswaarskrifte, of selfs hofsake en ope briewe nie, maar in gehoorsaamheid aan God se uitnodiging.

As ampsdraers, weet ons dat wanneer ons die nagmaal bedien, dit ons taak is om seker te maak dat niemand met die brood of wyn oorgeslaan word nie. Tog is ons as gay persone nie aan tafel saam met julle by die sinodesitting nie, en kan ons nie saam brood breek nie. Baie van ons ander broers en susters het ook nie ’n uitnodiging ontvang nie. Iemand sal vir hulle moet intree.

Dit is sommige se oortuiging dat gay mense niks het om te bied nie. Daarom gaan daar óór en námens ons gepraat en besluit word by vanjaar se Algemene Sinode. God se tafel word egter juis voorberei vir die wat oënskynlik niks het om te bied nie.

Ons aanstellings, as ampsdraers, het ons verras oor wat gebeur wanneer die kerk waag. Dit het uitgekring in ’n reeks eerlike gesprekke. Ons het al baie hieruit begin leer. Ons het ontdek hoe kosbaar mense se geloofsreis saam is. Ons het ontdek hoe empaties en vreesloos ons mense se drome en vrese moet ontvang. Ons is ook besig om taal te probeer vind om met mekaar oor ons verskille te  praat. Hierdie soeke laat ons geloofsgemeenkappe dikwels weerloos.

Ons leer ook dat dit juis gesprekke oor moeilike onderwerpe is wat vir ons die geleentheid skep om mekaar te vind. In die luister-ruimtes leer ons mekaar ken en waardeer. En die geskenk van God se nagmaaltafel is juis dit – dat ons ná mekaar toe draai, eerder as weg van mekaar. Dit is hier waar ons onsself minder ernstig kan opvat en ons voorkeure en vrese ligter kan leer vashou. By God se tafel skep ons taal wat genees en nie verder verwond nie.

Daar is baie gelowiges wat wel wonde dra, en wat goeie rede het om verward te wees oor God se uitnodiging. Ons is besig om te leer dat die kerk vir sommige ’n vyand is, wat hulle sukkel om lief te hê. Aan God se tafel, word ons ook herinner dat elkeen van ons skuld moet bly bely. Hier kan ons eerlik wees oor ons eie swakheid en die skeiding wat ons skep, want die ‘swakheid van sommiges’ leef in ons elkeen.

Die nagmaalstafel help ons ook om te weet dat wanneer ons – juis as gay persone – die brood breek en die wyn uitdeel, ons ruimte kán en wíl maak. Dis nie óns uitnodiging nie. Dit is nie óns tafel nie. Dit is nie óns kerk nie.

Hiermee wil ons ons broers en susters wat regtig worstel met God se Woord oor homoseksualiteit uitnooi. Ons bly vertrou dat God álmal by die tafel wil hê. Ons het die waarde van in gesprek bly só tasbaar beleef in ons gemeentes vanjaar. Ons het die waarde van vertroue stel in mekaar as ’n sigbare teken van ’n onsigbare werklikheid beleef.

Mag vrees plek maak vir liefde. Mag standpunte plek maak vir saam op pad wees. Mag aannames plek maak vir genade. Mag niemand by die sinodesitting met die brood of die wyn oorgeslaan word nie.

Ds Louis van der Riet (Kraaifontein-Parke)
Ds Philipp Dietmann (Stellenberg)

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.