Mans en hulle wonde
Cas van Rensburg
Uitgewer: Hemel & See Boeke, 2019
Mans is om verskillende redes op die oomblik onder druk. Cas van Rensburg se boek, wat ná sy dood verlede jaar gepubliseer is, bied ondersteuning vir die oorgang wat mans belewe.
As Jungiaanse sielkundige kyk hy na die geskiedenis, Bybelverhale, drome en sprokies. Oscar Pistorius se verhaal vol woede en geweld kom ter sprake, asook die baie Bybelverhale oor pa’s en seuns. Vars lees-moontlikhede gaan só oop terwyl daarop gelet word hoeveel “pare” in die Bybel voorkom wat, soos by droom-analise, verskillende aspekte verteenwoordig van dieselfde persoonlikheid wat integrasie nodig het.
Waar vroue dikwels seuns se opvoeding behartig, moet die “moeder-kompleks” in die manword-proses besleg word. Manlike rolmodelle is hiervoor nodig en die afwesigheid daarvan veroorsaak ’n krisis vir baie seuns. Terwyl die “heldereis” (soos in talle sprokies) vir seuns onontbeerlik is, moet hulle ook met hulle pa’s “deal” en hulle “agterlaat”.
Soos ’n hoofseun word gehoop om Pa se aandag, maar intussen huil seuns na binne … totdat hulle kwaad word. Mans se onvermoë om met hierdie gevoelens van frustrasie in aanraking te kom en dit te verwoord, kan tot geweld lei – die afbrekende manlikheid waarvan sprake is.
Van Rensburg bied stof tot nadenke op pad na die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, wat van 25 November tot 10 Desember gedenk word. Dat mans se onverwerkte wonde dikwels gereflekteer word deur dit wat hulle vroueliggame aandoen, roep tot verantwoording en eienaarskap.
▶ Laurie Gaum fasiliteer werkswinkels in gendergelykheid en -versoening, manlikhede en seksualiteit.