Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Foto: Wikimedia Commons

Martin Buber – ’n lewe van dialoog

Maurice Friedman vertel van die dag toe Dag Hammarskjöld, ’n gewese sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, se vliegtuig in Noord-Rhodesië (Zambië) neergestort het. Hammarskjöld het ’n manuskrip by hom gehad van ’n vertaling wat hy besig was om te maak van Martin Buber se klas­sieke werk I and Thou. Dit is vanweë die filosofie van dialoog, soos dit in die boek beskryf word, dat Dag Hammarskjöld Buber herhaaldelik vir ’n Nobelprys vir literatuur genomineeer het.

Wie was Martin Buber en waarom het ons en die generasies wat na ons kom, nodig om aan sy voete te sit en by hom te leer?

Martin Buber (1878-1965) was ’n dosent aan die Universiteit van Frankfurt en in protes teen Hitler se opmars het hy sy pos bedank en gee hy later klas aan die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem. Hy was van die eerste religieuse eksistensialiste en die eerste Joodse een.

Hierdie Joodse denker het ’n filosofie ontwikkel met die oog daarop om dia­loog tussen individue, groepe en nasies te bevorder. Dit was sy lewensdoel om dialoog aan te moedig en om ma­nie­re te vind om kommunikasie wat verkeerd geloop het te herstel.

Dialoog

Hoe lyk die dialoog wat hier ter sprake is? Dialoog manifesteer waar harte ontmoet. Daarom dat Buber kon sê: “In the beginning is relation”. Dialoog tussen mense sal nie vorder waar die ander se teenwoordigheid geminag word nie. ’n Eenrigting monologiese gesprek is uitgesluit, omdat dialoog juis oor same­spraak tussen twee of meer partye gaan. Dialoog vind in gemeenskap met mense plaas. Gabriel Marcel maak ’n onderskeid tussen beskikbaarheid en onbe­skik­baarheid wat sentraal is waar dit by intersubjektiwiteit kom. Die afwesigheid van beskikbaarheid verhinder intersubjektiewe verhoudinge.

Dit is hoogmoed (die idee dat ’n mens selfgenoegsaam is) wat maak dat ’n mens vervreemd van ander raak. Son­der om die opregte teenwoordigheid van jou gespreksgenoot te erken, kan dialoog nie plaasvind nie, want dan het alleenspraak arrogant en waardeloos geword. Inteen­deel, die dialoog waaroor dit hier gaan, sluit nederigheid, weerloosheid en we­dersydse respek in. Dit sluit ook ’n openheid teenoor jou gespreksgenoot, ’n ge­willigheid om te leer en om met jou volle aandag te luister, in.

Ich und Du

Buber se belangrikste werk staan be­kend as Ich und Du. Hy was ’n meester van die Duitse taal wat ook sy moedertaal was. Hierdie Duitse werk word later in Engels as I and Thou vertaal. Hy beskryf hierin twee vorme van verhou­dinge waarin ons betrokke kan raak.

Ek-Dit

Buber praat van die verhouding tussen ’n subjek en objek soos byvoorbeeld tussen die mens as aktiewe subjek met ’n potlood as passiewe objek. Volgens Buber is die subjek die “Ek” en die objek die “Dit”.

Hy verwys verder na die devaluasie van mense asof hulle geen menslikheid of individualiteit het nie. In hierdie geval word mense “ditte”. Dan word etikette om mense se nek gehang en word daar na “Ek-Dit”-verhoudinge verwys wanneer ons ander mense as objekte behandel en hulle deur vooroor­dele verneder. Julian Müller skryf êrens dat dit is soos ’n klomp mans wat om ’n vleisvuur staan en dan neerhalend van die “vroumense” praat. Kobus Anthonissen verwys na Karl Barth wat ook skryf oor die wonder dat ons kan sien. Barth skryf dat die belangrikste dimensie van menslike ontmoeting is wanneer twee mense mekaar in die oë kyk. Dis dan dat ’n mens jou medemens werklik raaksien. Buber herinner ons daaraan dat “all living is meeting”.

Om mense te objektiveer beteken ook om hulle uit te buit en te manipuleer. Martin Luther King het in een van die mees invloedryke dokumente van die burgerregtestryd direk verwys na Buber se empatiese idees. Hy bekla die lot van mense wat as minderwaardig en onmenslik as objekte behandel is. Hierdie tipe verhoudinge is onpersoonlik. Simon Baron-Cohen praat van “empathy erosion” (as plaasvervanger vir die woord “evil”) as die oorsaak dat mense ander mense as objekte kan behandel. Dit is ’n insig wat volgens hom ten minste teruggaan na die filosofie van Martin Buber.

Wanneer ons empatie afgeskakel is, is ons in die “Ek”-modus. In so ’n geval tree ons in verhouding met ander mense asof hulle bloot dinge is. Die meeste mense is in staat om nou-en-dan so op te tree. Ons ry in ons gerieflike motors en sit in ons lugverkoelde kantore, maar is verleë oor die haweloses wat op straat ’n sukkelbestaan moet voer. Of ons net tydelik of permanent in hierdie modus verkeer, ignoreer ons die “U”. Om ander mense te behandel asof hulle blote objekte is, is een van die slegste dinge wat aan ’n ander mens gedoen kan word.Dit kom onder andere neer om hulle uit te buit en te manipuleer. Dit is dan dat ’n mens verby hulle kyk sonder om te sien dat dit ’n medemens is.

Ek-U

Die tweede tipe verhouding waarvan Buber praat, noem hy die “Ek-U”-verhoudinge. Ek kan nie ’n Ek-U-verhou­ding produseer deur my eie aksie en wil nie, want sodanige verhouding is slegs wederkerig wanneer die ander kom om my te ontmoet soos ek hom ontmoet. “Ek-U”-verhoudinge verwys na ’n persoon wat met ’n ander persoon in verhouding tree met die volle erkenning van die ander se volledige mensheid. Die ander persoon word as subjek er­ken en nie maar net as ’n middel tot ’n doel nie.

Hierdie “Ek-U”-verhoudinge is we­derkerig. Beide persone behou hulle eie subjektiwiteit in hulle ontmoeting waar­­tydens hulle bewus word van die ander persoon as ’n subjek eerder as ’n objek.Verder impliseer dit om ’n ander persoon as ’n unieke mens, gelykstaande aan jouself, te behandel. Dit sluit ook ’n poging in om na die wêreld deur hulle oë te kyk en hulle gedagtes en gevoelens te probeer begryp. Dit is dan wanneer jy empatie met ’n medemens kan hê. Wanneer jy mense ken, kan jy hulle in die oë kyk, hulle ’n naam gee en sodoende hulle individualiteit erken. Dit is ’n baie kragtige ding om ’n individu se mensheid te erken, want dit dien as beginpunt om met ’n wyer kring van mense empatie te hê.

Hoe kan ons die wyshede van Buber se filosofie in ons lewe toepas? Hy praat van die “Ek-U”-dialoog as ’n po­ging “to come into relation” met andere en te ontdek wie hulle regtig is. Volgens Buber word ons slegs volledig mens wanneer ons regtig opregte gesprekke met ander het wat die “Ek-U”-filosofie beliggaam. Ander mense is nie objekte nie en ook nie verlengstukke van onsself nie. Hulle is mense en ons moet hulle uitnooi tot “face to face conversations that help to break the I-It barrier” (Roman Krznaric).

In die slotgedeeltes van I and Thou dink Buber na oor wat die im­plikasies van sy filosofie is vir die wyse waaroor hy oor God dink en praat. Hy verkies om te praat van die “Absolute U”. God kan nooit ’n “Dit” word nie. Hy kan nooit as objek beskou word wat wag om as passiewe objek ontdek te moet word nie. Trouens om God te ken, behels ’n persoonlike verhouding met Hom. Buber redeneer dat in die “Ek-U”-verhoudinge ontmoet jy God. God vind ons, half onverwags, in die proses van dialoog. Buber se “dialogiese per­so­na­lisme” en skrywers soos Emil Brun­ner se Truth as Encounter sien God ook as aktiewe subjek.

Die Britse teoloog, Alister McGrath, skryf dat God die inisiatief wegneem van mense in sy selfopenbaring deur die historiese en persoonlke vorm van Jesus Christus. Teologie word dan die menslike reaksie op God se selfbekendstelling eerder as die menslike soeke na God.

Ten slotte

In die begin is verwys na Buber as ’n eksistensialis. Dit behels basies ’n protes teen die siening dat mense dinge is en eis dat ons die persoonlike bestaan van die mens ernstig sal opneem. Eksistensia­lisme vra van ons dat ons die devaluasie van mense sal staak; dat ons sal ophou om mense as objekte te behandel asof hulle geen subjektiewe en outentieke bestaansreg het nie. Buber het inder­daad intellektuele status gegee aan die pro­bleem van die verhouding tussen mense. En wie van ons sal nie uitgedaag voel deur die wys­hede van Martin Buber nie?

  • Francois Preiss is ’n oudpredikant en opleidingskonsultant: leierskapsopleiding.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top