2 Januarie 1933 – 20 Maart 2019
Prof Jasper Jacobus Burden is op 2 Januarie 1933 gebore op ’n plaas in die distrik Garies in Namakwaland. Sy geboorte val saam met die groot droogte van 1933, wat mens en dier in ’n wurggreep van dood en verwoesting vasgeknyp het. Hy kom uit ’n geslag mense wat kon vasbyt en aanhou tot die einde toe.
Jasper begin sy skoolopleiding in ’n plaasskool, die hartaar van Namakwaland se onderwys. Hy matrikuleer in 1951 aan die Hoërskool Nuwerus, ’n karaktervolle dorp aan die hoofpad na Springbok. Jasper voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1952 na die Universiteit Stellenbosch, waar hy studeer en hy verwerf in 1954 die BA-graad met Grieks en Hebreeus as hoofvakke. Hierna verwerf hy ook die MA-graad in Semitiese Tale.
Jasper word in 1955 student aan die Teologiese Seminarium, waar hy in 1958 as proponent gelegitimeer word en ook die BD-graad verwerf. In 1957 en 1958 gee hy deeltyds klas in Hebreeus, tydens dr Charles Fensham se oorsese studies in Amerika. Na legitimasie aanvaar hy in 1959 ’n aanbod van die Christelike Studentevereniging, om geestelike werk te doen en besoeke te bring aan die Afrikaanssprekende universiteite en kolleges in Suid-Afrika. Dit was ’n baie geseënde jaar in sy geestelike mondering en sy lewensvisie word verbreed.
Intussen voel Jasper Burden steeds geroepe vir die Transkeisending en op 11 Junie 1959 word hy beroep as sendeling na die Sipetu-sendingstasie, wat onderhou was deur en verbind was aan die NG Studentegemeente van Stellenbosch. Omdat hy ongetroud was, woon hy aanvanklik op ’n nabygeleë handelstasie te Cwaka. Op 2 Januarie 1961 is hy getroud met mej Annette Durand van Britstown, wat ’n jaar lank ’n huishoudkunde-onderwyseres was in Oudtshoorn. Prof Jasper skryf later in sy herinneringe: “Terug op Sipetu, het die bouery aan die hospitale en woonhuise in alle erns begin. Vir die eerste aantal jare was bouery, boekhouding en taalstudie die onverwagte en belangrikste elemente van hierdie jong paar se sendingwerk. Gemeentebou was immers afhanklik van goeie beheer oor Xhosa – nogal ’n moeilike taal om te praat. Die algemene hospitaal kon eers in die middel van 1963 geopen word, aangesien ’n geneesheer aanvanklik nie gevind kon word nie. Ondertussen is ons eerste drie kinders gebore: Sumé in 1961 en die tweeling, Elnèmarie en Randu in 1963.”
In die winter van 1967 word hy dosent aan die Teologiese Skool te Decoligny naby Umtata, waar sy lang bediening begin as dosent en later professor in Teologie. Hy skryf: “Een van die uitstaande fasette van die werk in hierdie tyd was ons teologiese besinning oor mediese sendingwerk, onder die leiding van kollegas soos ds David Bosch en ds Gerhard Jansen, albei werksaam op Madwaleni in hierdie jare. Die onderrigopdrag aan die Teologiese Skool Decoligny, was Ou Testament en Pastorale Sorg. Dit het ’n heroriëntering en verdieping in teologie meegebring in die algemeen en Ou Testament en Semitiese Tale in die besonder.” Hy verwerf in 1971 die DLitt-graad in Semitiese Tale onder prof Charles Fensham en in 1975 die DrsTh-graad in Ou Testament onder prof PA Verhoef van die Kweekskool te Stellenbosch. In 1974 is hy met ’n studietoer na Duitsland, waar hy studeer aan die Universiteit van Heidelberg, wat aan hom blootstelling bied aan die Europese akademiese gebied met groot betekenis vir sy teologiese ontwikkeling.
In 1975 kom daar ’n skerp draai op sy bedieningspad, toe hy aan die einde van die jaar aangestel word as senior lektor in die Departement Ou en Nuwe Testament aan die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria. Hy skryf later: “Ons verhuising na Pretoria het vir ons huisgesin groot aanpassings aan die godsdienstige en politieke klimaat beteken. Op akademiese gebied, deur blootstelling aan kollegas en die breëre akademie, het dit weereens verdieping en heroriëntering op my spesialisasiegebiede, meegebring”. In 1977 word hy professor aan Unisa en word telkens bevorder tot hy van 1988 tot met sy aftrede in 1995 dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika is. Hieroor het hy geskryf: “My onderrig en navorsing aan die Universiteit van Suid-Afrika, het gelei tot spesialisasie en publikasie van boeke en artikels in die velde van Ou-Testamentiese poësie en teologie, Psalmstudies, die verbond in die Ou Testament en veral, die studie van die Ou Testament in Afrikakonteks.”
Na prof Jasper Burden se aftrede in 1995, word hy deur die Universiteit van Suid-Afrika aangestel om ’n leersentrum vir hulle studente in die Oos-Kaap te begin. In 1997 trek hulle terug na Pretoria, waar hy naby sy kinders is. Hy skryf: “Dit bring my by die enigste nalatenskap wat ’n mens het, naamlik jou kinders en kleinkinders.”
Vroeg in 2019 kry prof Jasper Burden ’n beroerte waarvan hy nie herstel nie. Hy bly ernstig siek en sterf op 20 Maart 2019, waarna op ’n waardige wyse tydens ’n roudiens van hom afskeid geneem word. Hy en sy vrou Annette het vyf kinders: Sume, Elnèmarie, Randu, Jasper en Chrisann.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.