Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nico Burger

8 Maart 1921 – 13 September 2019


Ds Nicolaas Franciscus Petrus Burger is gebore op 8 Maart 1921 in die distrik Vanwyksvlei, die jongste van vier seuns. Sy ouers is Jacobus Wilhelmus Burger en Engela Helena Burger, twee godvresende kinders van die Here. In die groot droogte van 1933 is sy pa op die trekpad dood toe hy met sy skape getrek het na Botswana. Nico begin sy skoolopleiding in 1928 aan ’n plaasskool in die distrik Carnarvon en is van 1937 tot 1940 leerling aan die Hoër Tegniese Skool in Pretoria. Hierna gaan werk hy as bode by die Departement van Mynwese in Pretoria en ontvang die roeping om predikant te word. Hy studeer deeltyds aan Tukkies en behaal in 1948 die BA Admissie-graad wat hom toegang gee tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch.

Nico is van 1948 tot 1951 student in die Eikestad en word aan die einde van 1951 as proponent gelegitimeer. Op Stellenbosch ontmoet Nico vir Ansie Liesching, die enigste dogter van haar ouers wat boer in die distrik Murraysburg. Hulle trou op 10 Februarie 1951 en uit die huwelik is vyf kinders gebore.

Prop NFP Burger word op 2 Augustus 1952 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Heilbron-Suid, waar in sy dienstyd ’n kerksaal gebou word. Hierna kom ’n beroep na die NG Gemeente Pretoria (Bosmanstraat), in die hart van Pretoria. Hier word ds Nico op 24 November 1956 bevestig en ’n besondere vier jaar verryk sy bediening. ’n Roepstem kom na die NG Moeder­gemeente Bethlehem, waar hy en sy gesin vyf besonderse jare beleef in die hart van die Vrystaatse hoogland. Op 15 Oktober 1965 word hy bevestig in die NG Gemeente Pinelands in die skadu van Tafelberg, ’n besonderse ervaring vir die leraarspaar en hulle kinders. Ds Nico Burger keer op 2 Augustus 1969 terug na die Noord-Vrystaat, toe hy leraar word van die NG Gemeente Koppies, waar hy ’n dekade lank die Woord van die Here bedien.

Op 20 April 1979 word ds Nico Burger leraar van die NG Gemeente Zastron in die Suid-Vrystaat, waar hy hard werk tot hy op 26 April 1986 sy emeritaat aanvaar. Ds Gerdrie van der Merwe, predikant van Smithfield en konsulent van Zastron, oorhandig aan ds Nico demissie namens die Ring van Smithfield. Hy was geliefd onder sy mense en gewaardeer vir sy vurige en evangeliese prediking. Sy was ’n orre­lis en mense van Zastron het altyd gepraat van ds Nico en Ansie Burger wat so mooi kon saam sing. Benewens hulle geseënde bediening het hulle oral vriende gemaak. Sy toewyding aan sy roeping en die oorgawe waarmee hy die Woord verkondig het, het talle mense aangeraak.

Na ds Nico Burger sy emeritaat aan­vaar vestig die gesin hulle op Stellenbosch. Later verhuis hulle na Caledon, waar hulle seun, dr Wilhelm Burger, destyds predikant was. Hulle word in­woners van Huis Heidehof, tehuis vir bejaardes in Caledon. Hier saai hy steeds evangeliese saad en het ’n besonderse bediening onder die inwoners en personeel. Na Ansie se dood gaan woon ds Nico in Onrusrivier waar sy seun dr Wilhelm die gemeente Onrusrivier bedien. Hier sterf hy op 13 September 2019 in die ouderdom van 98 jaar. Ds Nico en Ansie Burger het vyf kinders: Alrina woon in Pretoria, Wilhelm op Onrusrivier, Engela op Wellington en Anneli in Potchefstroom. Nicolene is getroud met ds Johann van Rooyen, tans leraar van die NG Gemeente Vredenburg aan die Weskus. Met oupa Nico se dood was daar 15 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Tydens ds Nico se roudiens bring sy kinders hulde aan hierdie besonderse man van God: “Ons kinders onthou ons ouers as liefdevol, ondersteunend met hegte familiebande. Die saamsing saans by huisgodsdiens om die tafel en kosbare familievakansies sal ons altyd waardeer. Sy opregte geloof en toewyding het ’n geloofwaardigheid aan die evangelie verleen wat dit vir ons kinders maklik gemaak het om hom daarin na te volg. Pa was ’n Godsman, ’n voorbeeld van diensbaarheid, omgee en uitreik na sy medemens.”

Dr Wilhelm skryf: “Pa het my geleer van geloofstoewyding, vrymoedigheid en totale afhanklikheid aan die Here. Hy het my geleer van entoesiasme vir die lewe, om lekker te lag, opwindende familievakansies, passievolle tennis­wedstryde en liefde vir musiek. Ek het geleer van respek vir mense, deernis vir weerloses en ’n hartlikheid teenoor almal. Die laaste nagmaal op sy sterfbed was eenvoudig, maar ek het my verbeel ek hoor engelekore sing …”


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top