As daar een ding is wat die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria goed kan doen, is dit eerstejaarskampe. Met meer as 40 jaar se eerstejaarskamp-ervaring, is dit nog steeds een van ons jaarlikse hoogtepunte en 2020 was geen uitsondering.
Universiteitsoord het vanjaar 889 studente by hulle eerstejaarskamp ontvang. Nadat die kamp se getalle oor die jare afgeneem het, het dit oor die laaste drie jaar weer begin omkeer. Vir die huidige geslag dominees was die inskrywings vir vanjaar se kamp ’n rekordgetal, waaroor ons baie dankbaar is.
Die eerstejaars en hul ouers is op 20 Januarie ontvang met ’n spesiale verwelkomingserediens. Vanjaar het ons ook ’n mini-basaar gehou om die atmosfeer en saamkuier nog meer feestelik te maak. Daarna het die drie studentewyke se eerstejaars vertrek na hul onderskeie kampterreine.

Dit was ’n week vol speletjies, sport, nuwe vriende, lofprysing en aanbidding en ’n geleentheid om jou studentelewe saam met God te begin. Die week lange kamp het uitgeloop op ’n Eerstejaarsdiens op 26 Januarie waar hulle die groot Universiteitsoord- kerkgebou lekker vol gesit en vol gesing het. Op die oomblik is die eerstejaars, saam met die res van die gemeente, besig met ’n spesiale oriënteringspreekreeks om die jaar reg af te skop.
Dink veral aan ons eerstejaarstudente en bid vir hulle in hierdie besondere oorgangstyd in hulle lewe.

