“Ons almal sukkel en struggle met dieselfde goed en ons het nie al die antwoorde nie,” het die Geestelike Leier van NG gemeente Moreletapark Dinsdagoggend aan ’n gehoor van meer as 450 mense tydens sy verwelkomingsboodskap by die makrogemeente se “Spesiale Beraad” gesê. Maar, het ds Pieter Badenhorst hervat: “As ons vra dat die Here ons lei, sal hy nie ’n pa wees wat, as ons hom ’n brood vra hy ons ’n klip gee nie.”
Die beraad, wat om 11:00 die oggend begin het en tot Woensdag om 13:00 sal duur, bestaan uit groepbesprekings en paneelbesprekings onder leiding van kerkfigure soos onder andere dr Johann Ernst, vorige aktuarius van die algemene sinode, ds Theo Danzfuss, voorheen aktuarius van die Hoëveld Sinode en leraar by NG gemeente Witfield en ds Norma Rossouw, voormalige voorsitter van Goudlandsinode en leraar by NG gemeente Vaalrivier.
Dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode, is ook in die gehoor gesien. Hy woon die beraad in sy persoonlike hoedanigheid by.
’n Refrein uit Badenhorst se verwelkoming was die idee van kerk in teenstelling met God se koninkryk op aarde. “Kerk is nooit kerk ter wille van kerk nie. Kerk is net daar ter wille van koninkryk … As jy hier sit om jou eie koninkrykie te verdedig of beskerm, gaan jy dit nie kry nie. Iets groter dryf ons,” het Badenhorst gesê.
Moreletapark as gemeente “fasiliteer” hierdie samekoms wat as ’n tipe “Waarheen nou?”-dinkskrum bemark is aan mense wat besorgd is oor Skrifgebruik in die NG Kerk, veral rondom kwessies soos homoseksualiteit. “Ek weet nie wat die uitkoms gaan wees nie, dit hang af wat die volgende twee dae gebeur,” het Pieter Breytenbach, die gemeentebestuurder, gesê. Hy het beraadgangers daarop gewys dat dit nie ’n teologiese gesprek gaan wees nie. Toe die geleentheid verlede jaar rugbaar geword het, het Breytenbach gesê die doel is:
- Om ’n gespreksforum te skep vir kleiner gemeentes, wat voel hulle het nie ’n stem nie.
- Om saam met ander wat soos hulle voel die pad vorentoe te bepaal.
Nommerplate van so ver as die Vrystaat en elders het op motors buite die kerkgebou gepryk en ’n oorwegend ouer gehoor het hul tuisgemaak in die bioskoopagtige sitplekke in die ouditorium vir die eerste van baie sitwerk wat voorlê.
“Wat het jou hierheen gebring?” wou Badenhorst by mense weet? “Dis al waaroor dit gaan: Passie vir Jesus … in ’n wêreld wat skreeu vir die eenvoud van ’n Verlosser,” het hy geantwoord. Badenhorst het selfondersoek deur ieder en elk aangemoedig voor verrigtinge begin en jy kon ’n speld in die reuse-ouditorium in Pretoria hoor val, toe daar tyd gemaak is vir stilgebed.
“Met ’n gesindheid van moet ons nie ons goed vat en loop nie, gaan ons nêrens kom nie,” het Badenhorst gemaan. “As jy sit met gesindheid van kwaadwees en bitterheid, gaan jy nêrens kom nie,” was sy afskopwoorde.

As die AS 2019 tot die slotsom gekom het dat hulle vasgeloop is m.b.t. die selfdegeslag-kwessie, waarom word lidmate dwarsdeur die NG Kerk nie die geleentheid gegun om te stem nie? Laat die hele kerk sodoende gehoor word.
Wat my in verwondering laat is dat die SGV debat daartoe lei dat jakkals hier met wolf se vrou trou. Wat ‘n diverse alliansie…
Baie dankie vir n goed georganiseerde beraad met baie stof tot nadenke Aan al die sprekers , fasiliteerders , ek wardeer julle toegewydheid
Nogmaals dankie
Indien julle hulp nodig het met strategie bepaling ek is meer as gewillig om te help
Dr SF Nieuwoudt
Waterval gemeente
Johannesburg
Die hele kwessie van homofielie het die eintlike skisma in die NG kerk oopgevlek. Die homofielie besluite is eintlik simptoom van die verskeurdheid rondom die Heilige Skrif. Let op: die pro-homofielie drukgroep se Skrifbeskouing is eintlik, soos een van hulle dit gestel het: die Bybel is ‘n verouderde boek, wat nie meer vir ons moderne mense kan voorskryf nie [vry weergegee uit die media-verslag]. Sodoende word die hele grondslag vir die bestaan van die NG Kerk prysgegee. Dan word dit ‘ n gewone vrywillige organisasie, sonder grondwet, want die kosbare belydenisskrifte wat uit die Skrif voortvloei, word uitgeskakel. Dis dan ou dokumente sonder waarde. Baie predikante hanteer dit reeds so. Indien daar nie ‘n terugkeer is na die Skrif en Belydenisse nie, sal talle lidmate hulle heil elders vind.