Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wanneer jou geleefde belewenis van ’n situasie afgewater, geïgnoreer of selfs ontken word, kan dit as “gaslighting” bestempel word.

Die wêreld waarvan ek droom vir my dogters

My dogters is nog onskuldig genoeg dat hulle heeltemal verbaas en geskok is as ons op Vrouedag vir hulle vertel dat daar ’n tyd was – en vandag nog steeds plekke in die wêreld is – toe dogters en vroue nie dieselfde dinge as seuns en mans mag gedoen het nie, soos byvoorbeeld om skool toe te gaan of enige soort beroep te beoefen.

Hulle skok en verbasing troos my dat ons reuse-vordering gemaak het wat vroueregte betref. En tog is die strewe na ware gelykheid tussen mans en vroue en die erkenning van die volle menswaardigheid van vroue nog nie ’n werklikheid nie.

Ek kom dit agter as ek ’n brief van my kinders se skool af ontvang, gerig aan “Liewe Mamma”. Daar is soveel dinge verkeerd hiermee – waar sal ’n mens begin? Selfs my dogter het op die eerste dag van graad 1 met ’n groot vraagteken in haar stem vir ons vertel dat Juffrou net die heeltyd praat van “Mamma”?

Die ironie hiervan is dat ek oral betrokke pa’s sien wat kinders oplaai en aflaai, kosblikke pak en boksterte vasmaak. Ek dink pa’s kan nog baie méér betrokke wees by hulle kinders, maar as die skool die heeltyd die sein stuur dat hierdie die terrein is van “Mamma”, ontvang ons pa’s herhaaldelik die boodskap dat kinders grootmaak nie eintlik vir ons beskore is nie.

En wat ek ook rondom my sien is ’n magdom ma’s wat totaal angstig en oorweldig is, asof hulle kinders se totale welsyn net van hulle afhang. Ek sien ma’s wat dinge vir hulle kinders doen en selfs vir hulle mans doen, wat hulle glad nie behoort te doen nie.

Maar geen wonder hulle voel so en maak so as elke boodskap van die skool aan “Mamma” gerig word nie. So raak ’n “onskuldige”, onnadenkende woordjie ’n loodsware wêreld van verwagtinge en skuldgevoelens wat op die skouers van vroue rus.

Gelukkig het ons dogters nou al agtergekom dat ek en my vrou nie altyd saamstem met die manier waarop ons samelewing oor mans en vroue praat en dink nie. So kom hulle nou die dag by die huis en vertel leedvermakerig vir hulle ma dat al die dogters saal toe moes gaan om te luister na ’n vrou wat vir meisies etiket en modellering leer, terwyl die seuns in die klasse agterbly en wiskunde en tegnologie doen.

Steeds modelwerk en etiket?

Dat daar in hierdie dag en tyd, terwyl die STEM-beweging dogters juis aanmoedig om Science, Technology, Engineering and Mathematics te studeer, nog steeds aan ons dogters voorgehou word dat modelwerk en etiket dinge is waarin hulle geïnteresseerd moet wees, terwyl die seuns wiskunde en tegnologie in die klas doen, sal lagwekkend wees as dit nie so tragies was nie.

Maar die fout lê nie net by ons skole nie. Dit is ’n hele samelewing wat op ’n sekere manier gesosialiseer is. Ons kerke is ewe skuldig daaraan om rolle aan ons dogters en seuns; vroue en mans toe te dig wat hulle inperk en hulle menswaardigheid misken.

Dit bly vir my fassinerend hoe dominees by troues kan preek uit Efesiërs 5 vers 22, waarin Paulus sê dat mans die hoof van hulle vrou is, maar vers 21 mislees waar Paulus sê dat mans en vroue uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig moet wees.

Ek sien selfs op Facebook sulke boosaardige sambreeltjies wat aangestuur word, waarin mense sê dat as die man heers oor sy vrou, dan heers God oor daardie huishouding, maar as die vrou heers oor die man, dan heers die duiwel oor daardie huishouding. Wáár kom mense aan hierdie bog? Beslis nie by Jesus nie.

Vir my is die kwessie oor vroueregte baie eenvoudig. ’n Vrou is op geen wyse minder mens as ’n man nie. Vroue is geskape na die beeld van God. Christus het vir vroue aan die kruis gesterf. Die Heilige Gees is op vroue uitgestort.

Dit beteken vir my dat ek alles in die samelewing moet beveg wat my dogters kan laat dink dat hulle op enige manier minder mens is as seuns. Terselfdertyd beteken dit vir my dat ek alles in die samelewing moet beveg wat seuns laat dink dat hulle belangriker is as meisies.

As gelowiges moet ons elke aanname met wortel en tak uitroei, wat mense laat dink “vroue is mos so” en “mans is mos so”. Ons moet teen die grein beweeg van die aanvaarbare taal, kultuur en sisteme wat daardie aannames instandhou, want daar is immers nie meer man of vrou nie, sê Galasiërs 3:26, maar in Christus is almal nou één.

Ek moet alles in my vermoë doen dat elke vrou en man gesien en hanteer word as geskape na die beeld van God, iemand vir wie Christus gesterf het en iemand deur wie die Heilige Gees op wonderbaarlike wyses kan werk.

Ek weet nie hoekom voel mans so bedreig deur die strewe na die gelykheid en volle menswaardigheid van vroue nie.

Jy is deur ’n vrou in die wêreld gebring. Miskien is jy bevoorreg genoeg om getroud te wees met ’n vrou. Dalk het jy die onbeskryflike voorreg om dogters vir kinders te hê. Hoekom sal jy bedreig voel deur hierdie wonderlike mense wat God in jou lewe geplaas het?

Maar ek moet bysê, dit is nie net manne wat bedreig voel deur vroueregte nie. Daar is baie vroue wat ewe hard veg daarvoor dat mans die “hoof van die huis” moet wees en vroue “onderdanig” aan hulle mans; dat mans die “koning, priester en profeet” van die huis moet wees.

Opbloei van Gretha Wiid-vroue

Maar ek vind dit vreemd, want as ek kyk na hierdie vroue wat so praat, sien ek ’n “koning, priester en profeet” in eie reg. Ek sien meestal ’n vrou wat uiters bekwaam en toegewyd is, met Godgegewe gawes. Ek sien iemand wat ongelooflike leierskap uitoefen in haar huis en gemeenskap. Waarom plaas sy haar lig onder ’n maatemmer?

Mense wat slimmer is as ek verklaar die opbloei van Angus Buchan-manne en Gretha Wiid-vroue as ’n simptoom daarvan dat mans, veral wit mans in Suid-Afrika, se magsposisie in die samelewing uitgedaag is na 1994.

En daarom moet die mans se brose ego’s nou weer ’n bietjie deur die vroue gestreel word en die “kroon op hulle kop gehou word”. Dit terwyl vroue nog steeds minder ekonomiese, politieke en sosiale mag as mans het.

Eendag stap daar ’n man by my kantoor in. Ons is besig met weeklikse sessies waarin ek hom probeer help om te verstaan dat hy en sy vrou ’n span is en dat hulle sáám oplossings moet soek vir hulle huwelik en huishouding.

Ek het gedink ons maak ’n klein bietjie vordering, maar vandag is al ons harde werk tot niet. Want hy was by ’n manneontbyt waar die dominee gesê het dat mans weer hulle gesag moet terugneem in die huis. Nou is hy van voor af oortuig dat as sy vrou net vir hom sal luister, sal alles in hulle huwelik regkom. Hy dink nie dit is nodig vir hom om ook na haar te luister nie.

Terloops, ek ken die dominee wat daardie manneontbyt gehou het. Ek dink hy is ’n goeie ou. Ek vermoed dat hy sy vrou as ’n gelyke hanteer en dat hulle ’n goeie span vorm. Maar sy swak teologie en ondeurdagte woorde versterk die samelewing se aannames van mans se meerderwaardigheid en vroue se minderwaardigheid. Sonder dat hy dit besef, verwoes hy huwelike en die lewens van mense.

Goeie teologie en beter taal is ook maar net die begin van ’n baie langer proses, want heel dikwels is dit nie die dinge wat ons sê nie, maar die dinge wat ons nié sê nie, die dinge waaraan ons nie eens dínk nie en wat ons as vanselfsprekend aanvaar, wat die grootste impak het.

Byvoorbeeld, toe ek ’n klein seuntjie was, as ons klaar geëet het, het die mans en die seuns aan tafel bly sit, terwyl die vroue en dogters opgestaan het om die tafel te begin afdek. Niemand het vir my gesê ek moet bly sit nie.

So het ek as seuntjie ’n klomp boodskappe geïnternaliseer oor wat seuns en dogters doen, wat vroue en mans doen, sonder dat iemand ’n woord daaroor vir my gesê het.

Ek sidder vir die dag wanneer ’n seuntjie wat vandag so by die tafel bly sit, of voor die TV lê, terwyl sy sussie help afdek en skoonmaak, voor my deur kom staan en vir my vra of hy met my dogter kan trou.

’n Studie in Frankryk het getoon dat ten spyte van die Franse se progressiewe lewensuitkyk en Fransmanne se bekendheid daarvoor om goeie kokke in die huis te wees, dat vroue wat in professionele beroepe staan nog steeds meer as 70% van die las dra in die huishouding.

Die swaarste las wat vroue dra, is egter nie dat hulle die meerderheid van die take in hulle huis doen nie, maar die feit dat hulle die “mental load” dra om te dínk aan alles wat in die huis en met die kinders móét gebeur.

Die belangrike ding wat ons moet besef is dat die probleem nie lê by hierdie individuele vrou wat ’n beheervraat is of by daardie individuele man wat lui en onbetrokke is nie.

Die groter probleem lê by ’n samelewing waarin ons dogters van kleins af speelgoed-baba’s en -teestelle kry vir geskenke en voortdurend vertel word hoe pragtig hulle lyk in daardie rokkie of haarstyl, terwyl seuns gewere en skroewedraaiers kry en vertel word hoe sterk en slim hulle is. Selfs die blou Lego-stelle vir seuntjies het meer indrukwekkende onderdele as die “dumbed down” dogtertjie-Lego-stelle in pienk!

Die dinge waaraan ons aandag moet gee, is die dinge wat ’n mens nie eens oplet nie – die dinge wat vir ons “normaal” voel en wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Dit is hoekom feminisme mense soms irriteer, want dit rig ons aandag op al die “onskuldige” woorde wat ons gebruik – die onnadenkende aanmerkings en grappies wat ons maak. Mense is dan gewoonlik verontwaardig en sê feminisme is belaglik of oorsensitief.

Die groter punt wat mense dan mis, is dat dit nie regtig gaan oor hierdie woordjie of daardie grappie as sulks nie. Die skynbare “onskuldige” woordjies en grappies pas binne ’n groter sisteem waarin ons kinders (en volwassenes!) boodskappe ontvang oor vrouwees en manwees, wat impliseer dat vroue minder waarde het as mans.

Ek droom van ’n wêreld waarin my dogters nie raakgesien sal word omdat hulle mooi, aantreklik of sexy lyk nie, maar omdat hulle geskape is na die beeld van God.

Ek hoop op ’n wêreld waarin my dogters nie hoef te veg daarvoor om as mans se gelykes beskou te word nie, want in Christus se genade is almal gelyk.

Ek beywer myself vir ’n dag wanneer vroue nie hoef skuldig te voel omdat hulle nie ’n super-vrou is wat in ’n beroep staan én kinders grootmaak én ’n huishouding aan die gang hou nie, maar die gawes en roeping wat die Gees hulle gegee het, voluit kan uitleef.

  • Dr Van Zyl is lid van die Taakspan Gendergeregtigheid van die Wes-Kaapse sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top