Bloedbruide van Christus – Vrouemartelaars in die eerste eeue
Jaap Durand en Verena Schoeman
Uitgewer: Bybel-Media, 2019
Die swaartepunt van Bloedbruide is die teologiese refleksie op die ontwikkeling van martelaarskap per sé. Die skrywers slaag goed daarin om die historiese agtergrond van martelaarskap te skets, van die Ou Testament deur na die tussentestamentêre tyd, na die Nuwe Testament en dan die situasie in die eerste eeu. Dit is verfrissend en verrykend om hierdie gedeeltes te lees en jou daarin te kan ingrawe. Die navorsing en die teologiese beredenering is deeglik en netjies gedoen. Die skrywers vermy ook die strik om Christus se versoeningswerk aan die kruis direk aan martelaarskap gelyk te stel, asof dit al is wat Christus se versoeningswerk sou behels.
Ten spyte van die boek se titel, word daar net een hoofstuk afgestaan aan die vrouemartelaars. Dit is interessant dog moeilik om te lees van die vier vroue, veral aangesien die detail van hulle marteling (in lyn met die martelaretradisie) beskryf word. Dit is ook hier waar ’n mens begin wonder oor die titel van die boek. Die vroue-martelare maak hulleself as ’t ware los van hulle vrou-wees. Hulle hanteer hulle marteling deur hulle eie vroulike liggame te transendeer en sien hulleself in terme van die manlike liggaam. Dit laat ’n mens wonder of hulle hulleself as “bloedbruide” sou beskryf.
Hoewel die geskiedenis van die martelare natuurlik ’n kosbare deel van die kerk se geskiedenis is, is dit tog jammer dat die skrywers nie aandag gee aan die kwessie van geromantiseerde geweld teen vroue nie. Daar word ook nie aandag gegee aan die vroeë kerk se eie pogings om sin te maak van die spesifieke aard van die marteling van vroue nie.
Bloedbruide is ’n kosbare eerste tree in die herontdekking van die verhale van vroue-martelare. Die boek stop egter te vroeg, terwyl daar nog verdere denke nodig is. Dit sal goed wees as hierdie boek ’n gesprek rondom die vroue-martelare en hulle betekenis vir die hedendaagse kerk kan oopmaak.
▶ Dr Carin van Schalkwyk is predikant op Philippolis.