Johan Gerhardus Heyl | 1937 – 2020

Daar val elke dag seders maar by geleentheid val daar een só spesiaal dat ’n mens weet ’n oomblik van stilte is gepas … of om jou hand aan papier te sit en ’n laaste eerbetoon te toon.

Johan Heyl is op 30 Julie 1937 in Pretoria gebore. Hy was sy tyd ver vooruit en van die lesse wat hy sy kinders geleer het, is lesse wat ons almal moet hoor. Veral in Suid-Afrika! Dit kan die lewe vir ons almal soveel makliker maak.

Johan het ’n oordrewe sin vir regverdigheid gehad. Dit was vir hom belangrik dat alle mense dieselfde behandel moet word. Die opinie van ’n kind was nie vir hom minder werd as die opinie van ’n volwasse persoon nie. Op ’n ander vlak ja, maar net so belangrik om gehoor te word.

Sy dogter Anita vertel: “My pa het nooit onderskeid gemaak tussen my en my broers nie. Ek het net soveel dinge saam met hom gedoen as hulle. Ek het van kleins af geglo mans en vroue het dieselfde waarde en is gelykes. Dit was nogal vir my ’n skok toe ek in my volwasse lewe die wêreld buite ons ouerhuis tref!”

Sy siening herinner my aan iets wat Paulus geskryf het: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

Ek self het sy onvoorwaardelike aanvaarding as hulle predikant beleef. Let wel nie hulle “vroue predikant” soos wat ek dikwels moet hoor nie. Dit was vir my so ’n groot eer en voorreg dat hy my gekies het om sy gedenkdiens te mag hou.

Verder het hy empaties gelewe en was dit vir hom belangrik dat jy nie vinnig oordeel of veroordeel nie. Jy moet jouself eers in die ander persoon se skoene plaas voor jy iets mag sê oor ’n situasie. Hy was ’n uiters kritiese denker wat geglo het enige saak het vele kante en moet van alle kante af beskou word.

Sy kinders sê: “As ons by pa aangekom het met ons menings en opinies, het hy altyd gesê: “Ek hoor wat jy sê, maar het jy al só hieroor gedink?” Dan sou hy die saak vanuit ’n paar ander hoeke belig. ’n Mens kon altyd baie lekker met hom gesels en ook soms lekker koppe stamp. Hy sou egter nooit sy eie mening op jou afdwing nie. Hy sou al die moontlike opsies aan jou voorhou en selfs al kies jy nie een daarvan nie was dit ook reg. Hy het dit nooit teen jou gehou nie. Dit was net vir hom belangrik dat jy alles deurdink en opweeg voor jy ’n besluit maak.”

As meganiese ingenieur met ’n MBA het hy ’n uitstekende kop vir besigheid gehad. Hy het altyd gesorg dat hy sy denke stimuleer en bybly met dit wat in die besigheidswêreld aangaan. Op 82 het hy nog vir die kinders gesê: “Ek dink dit is tyd dat ek nou weer ’n nuwe besigheid moet begin. Ek het ’n paar goeie en vars idees!”

Van sy uitstekende bestuurslesse was die volgende:

Wanneer jy ’n persoon moet teregwys of straf, doen dit eenkant en privaat. Werk is nie die persoon se hele lewe nie. Respekteer hom/haar en dra jou boodskap respekvol oor.

Wanneer jy egter ’n persoon beloon of erkenning gee, roep almal bymekaar en doen dit in die openbaar. So bou jy in die persoon se lewe in.

Johan en Carina

Sy seun Johannes vertel van ’n gebeurtenis wat ’n diep indruk op hom gemaak het. Hulle het ’n plaas naby Middelburg gehad. Sy pa was vreeslik lief vir die natuur en sy diere. Op ’n dag het iemand by hulle plaas aangekom op soek na werk.

“Nou wat is jou spesialiteit?” het Johan die man uitgevra. “Ek werk die beste met skape”, het die man geantwoord.

Johan het gesê dat hy baie jammer is maar hy het reeds mense wat met sy skape werk en hy is baie tevrede met hulle. Hy het die man uitgevra oor waar hy vandaan kom. Hy het van ver buite Middelburg gekom en Johan vra toe hoe hy hier beland het.

“Ek loop maar so van plaas tot plaas en soek werk”, het die man geantwoord. “Maar dan moet jy baie moeg wees! Sit dan kry ek vir jou iets om te eet en te drink.”

Johan het vir hom kos en koffie gegee en terwyl die man besig was om te eet het hy al die buurplase gebel om te hoor of iemand ’n skaapwerker soek. Hy het iemand gekry en sy nommer vir die werksoeker gegee. Toe het hy egter een van sy eie werkers geroep en gevra dat hy die werksoeker na die buurplaas moet neem en daarna al die pad terug na sy huis toe. Hy het ook vir die man geld en ’n streepsak meel gegee.

Johannes het sy pa na die tyd gevra: “Hoekom het pa dit vir ’n vreemdeling gedoen? Pa het soveel meer gedoen as wat van pa verwag word.”

Johan se antwoord was: “Dit is ons plig. Ek is in staat om hom te help. ’n Mens kan nie altyd help nie maar wanneer jy kan, móét jy. Omdat jy die vermoë het om te help, móét jy help!” Dit was vir hom ononderhandelbaar.

’n Ander merkwaardige storie kom uit seun Cobus se mond. “Ons almal maak foute. Met pa het jy geweet dat al het jy ’n fout gemaak en jou kop gestamp, kan jy maar na hom toe gaan. Hy sal jou nooit verwyt of oordeel nie. As jy met hom daaroor wou praat, was jy welkom. Hy het jou egter onvoorwaardelik aanvaar en geen verwyte geslinger nie. Sy ondersteuning wat altyd daar was, is wat ek die meeste van hom gaan mis!”

Te midde van al sy wysheid was hy ’n terggees en vurige Blou Bul-ondersteuner wat nooit kon ophou spog met sy pragtige vrou Carina nie. Selfs in die hospitaal toe hy baie siek en op sy laaste was, het hy net oë vir Carina gehad. Dit het gesorg vir baie pret tussen die kinders en familie.

’n Mens kan nog so baie sê maar ek dink hierdie paar woorde gee reeds vir ons almal baie om aan te kou en te oordink …

Johan Heyl, ons salueer jou en dank die Here vir elkeen van ons wie se lewens deur jou aangeraak is! Jy het voorwaar geleef vanuit ’n diep Bron van Liefde!


Johan Gerhardus Heyl
30 Julie 1937 – 20 Februarie 2020