So … “whats on your mind?” vra Facebook. Vir dae en weke is die gay-debat, die sinode en die kerk “on my mind”. Dit is skrywes, briewe, kommentare, vrae, verslae en gesprekke. Dit is dreigemente en verdagmakery. Dit is planne om uit die verband te tree of te skeur. Dit voel of ons huis van alle kante af gebombardeer word met dié gesprekke (en aanvalle).
“Gister kry ons kantoor ’n e-pos waarin ons gemeente se leraars daarvan beskuldig word dat ons die lidmate mislei (dwaling). Ons bly nie by die Waarheid nie. (Ons neem nie die Bybel ernstig op as ons ruimte vir meer as een standpunt skep nie.) Die e-pos sê dit, die behoudendes se berade uiter dit en die briewekolomme skree dit. En dit maak seer, want ons is ook lief vir die Bybel en wil nie die Here se wil “mislei” (wanvoorstel) aan mense nie.”
Om eerlik te wees – dit maak my gedagtes vol en maak my soms moeg vir die kerk … (what is on your mind?).
En dan gebeur vanoggend.
Een van die groot voorregte in my werk is om vir die gestremde mense van Paul Jungnickel-huis te preek. Dit is nogals ’n belewenis. Tussendeur rolstoele en stemme wat my aandag soek, stap ek deur meer as 100 mense wat die eenvoud van die lewe vier en omhels. Wanneer ek (uiteindelik) voor kom, dan wil almal vertel hoe dit met hulle gaan en wat gebeur met familie, liggaamsdele, konflik oor liefdesdriehoeke en vele meer interessanthede van die week. Ek hoor die “peep-peep” van rolstoele wat “reverse” (soos ’n groot trok) om hulle plek finaal te vind en een stem wat vir ’n ander sê: “Ek wil gou gaan pie-pie”.
Al hoe ek dit tot bedaring kan bring is om te begin sing.
Dan kom die volgende hemelse oomblik – Jody-Ann speel klavier. Ek kan jou nie vertel wat dit aan jou (as ’n musikant en klavierspeler) doen om hierdie wonderwerk te beleef nie. Sy is blind en ek dink minimaal outisties (of soortgelyk). As sy begin speel helder die kerkgangers se gesigte op. En dit kom lê diep in my siel, in ’n plek wat alles van die sinode en die debatte wegspoel. Dan sing almal: “Amazing grace”, “Loof Hom met die tromme”, “Praat ek mense, engele-tale” en “Ek sien ’n nuwe hemel kom”.
Voor my oë is ’n koor van gesigte wat opgewonde is oor die lewe en die eenvoud van geloof; die voorreg van kerk toe gaan. En hulle is uit alle rasse en uit alle klasse. En hulle maak my nooit seer nie. Hulle omhels my. Letterlik.
Ek vra of hulle nog die Onse Vader kan opsê en hulle begin spontaan: “Onse Vader wat in die hemel is …” En toe vra ek of hulle Psalm 23 saam met my kan opsê terwyl ek lees. Dit is vandag se Skriflesing. En die koor van entoesiastiese gelowiges spreek saam die Woord: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie …”
En toe kan ek die Waarheid verkondig: Die Here is jou Herder en het jou lief – net soos jy is. Hy het jou lief met al die etikette om jou nek en jou liggaam soos dit is.
Jody-Ann sukkel tot voor die klavier en trek los met nog ’n lied. Ek vra: “Vir wie moet ons vandag bid?” Almal skree uit om die lysie vol te maak en ek sê: “Moenie worry nie – die Here ken al die name, al kan ek nie almal onthou nie.” Na die gebed is almal tevrede dat almal “gecover” is en deur die Here beskerm word. Toe spreek ek die seën uit en sukkel weer by die deur uit. Dit is ’n gedoente want almal wil my vashou en groet. Hulle wil net gou vertel van die tone wat seer is en die meisie wat siek is. Ek moet asseblief steeds vir oom Hansie, wat steeds in die hospitaal is bid, want ek het nie sy naam nou-nou in my gebed spesifiek genoem nie.
En skielik is die diep plek in my siel weer gevul met bedieningsvreugde (soos die slim ouens dit noem). Ek het darem seker ook die Gees en die Waarheid beet. Of dalk het Hulle my eerder beet? Hoe anders sou die Here dan nou met my ook gepraat het oor die paradokse van ons teologie? Dit is kompleks en eenvoudig. Gelukkig is daar krag in beide. Sy Gees help my ook. Al is ek die “dwaalleraar” wat die middelgrond kies in komplekse sake om vir ruimte oor moeilike goed te pleit. Al is ek self ook eintlik gebroke. Al herinner die Here se Gees (wat ook in my is) my van die liefde, die eenvoud en waaroor die evangelie in essensie gaan. Toe ek in my bakkie sit, op pad huis toe, dink ek: Die liefde is ’n vreemde ding, dit vind jou, dikwels onverwags. Dit is die mooi van die evangelie, is dit nie? Die Liefde kies jou.
Daar is sulke oomblikke in die kerk wat eerder my kop moet besig hou. En dit alles te danke aan die uitgeskuifde, gestremde, gebroke, hemelse mense van Kungwini.
Ek verstaan nou beter hoekom Henri Nouwen na sy massiewe bediening, preke en professoraat uiteindelik by ’n gestremde huis die dominee geword het (dalk was hy ook moeg vir iets …). Daar het die Here sy lewe kom ontmoet met ’n nuwe insig oor geloof (en die vreemde ding wat ons liefde noem).
▶ Dr Zander van der Westhuizen het hierdie inskrywing op sy persoonlike Facebookblad gemaak en dit word hier met die skrywer se toestemming herpubliseer. – Red.
