Dikwels is dit wat dóér ver aan die gebeur is nie so belangrik vir ons nie. Dit is eers as ons self deur dit wat daar gebeur geraak word dat dit ook werklik vir ons begin saak maak.
Dit raak ons almal egter nie op dieselfde manier nie. Daarom dat dit laat dink aan Karl Barth se Church Dogmatics (1951, 1978), die deel oor vryheid vir lewe, ook in Nederlands vertaal as Gezond zijn en ziek zijn (1952), waar hy skryf oor die lewe, die lewe ín die lewe, en dit wat die lewe of lewe in die lewe verhinder, soos siekte. Wanneer een siek is, is almal siek, sê hy. Of meer spesifiek: Wanneer een in die samelewing siek is, is die hele samelewing siek in al haar lede.
Dit gaan vir hom nie net daaroor dat ons seker moet maak dat almal versorg word in hulle siekwees nie. Maar ook dat voorsorg getref moet word, dat dié wat siek kán word dalk nie siek word nie. Daarmee bedoel hy egter ook nie net voorsorg in terme van deesdae se hand sanitizer en voorraad vir die volgende weke nie, dit wat ander nie het nie, en weens die ophoop nou geen hoop op het nie!
Hy het dit veral oor omstandighede. Nie almal kan hulle in dié dae afsonder nie, nie almal kan hulle van ander distansieer nie, en so gaan die nie-almal-kan-lys aan. Daarom sou Barth vandag dalk vra dat ook óns juis in tye soos hierdie vra hoe die omstandighede van almal so verbeter kan word dat die voorsorg wat wel getref word inderdaad voorsorg is vir almal wat dalk siek kan word.
Ter inleiding van Life together (1939, 1954) dink Dietrich Bonhoeffer na oor hoe wonderlik dit is as Christene saam is, juis ook liggaamlik saam is. Vir hom is die dag alleen (The day alone) juis ook belangrik vír die dag saam (The day together). Die dag saam is alleen in die lig van die dag alleen wenslik, en andersom. Those who take refuge in community while fleeing from themselves are misusing it to indulge in empty talk and distraction, no matter how spiritual this idle talk and distraction may appear. In reality they are not seeking community at all, but only a thrill that will allow them to forget their isolation for a short time. Daarom: Wie nie alleen kan wees nie, moet volgens hom versigtig wees vir saam wees.
Dikwels is dit egter nie vir mense moontlik om waarlik saam te wees nie. As een van die redes waarom mense vir tye ten minste liggaamlik van mekaar verwyder is, wys ook Bonhoeffer op siekwees. Daarom dat dit so wonderlik is as hulle wél saam kan wees.
Hoekom?
Want in die saam wees kan hulle wéés. Hier word dit wat hulle húlle maak nie deur ander verswelg nie. Hier is daar ruimte vir hulle, vir húlle-wees. Ook hulle ruimte vir wees word hier nie weggeneem nie. Hier is daar spasie vir hulle. En die spasie word nie deur ander opgeneem nie. Dit word juis wedersyds aan die wat daar saam is gegéé.
Wat gegee word is juis in die nie-opneem-nie. Dit is in die onttrek, die withdrawal. Vir Michael Welker, in God the Revealed (2012, 2013), hoort die onttrekking selfs tot die wese van Christenwees. Hulle onttrek hulleself van ander juis vír ander, dat ánder kan wees, ruimte en spasie kán hê, vir léwe – en volgens hom is dit nie net soms so nie.
Die onttrekking is egter aktief, nie passief nie. Dit is nie ʼn vryheid van nie, maar ʼn vryheid vir. Daarom dat ons onttrekking dalk in hierdie tye daarin moet wees dat dit ook onttrekking vir ander moontlik maak. Want dit is nie net onttrekking tot voordeel van ander waarin lewe is nie, maar ander se aktiewe onttrekking, of ten minste móóntlikheid om te onttrek.
Wanneer een in die samelewing siek is, is die hele samelewing siek in al haar lede. Of soos Barth dit later stel: Where some are necessarily ill the others cannot with good conscience will to be well.
- Dr Henco van der Westhuizen is dosent in historiese en konstruktiewe teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
