Ander se seerkry-stories

Trauma en God
Saamgestel deur Anika Marais
Uitgewer: Kreativ-SA, 2019


Trauma en God is saamgestel deur ’n ma, Anika Marais, wat ’n behoefte gehad het om haar verhaal van seer saam met ander se verhale te deel. Juis omdat sy tydens haar eie trauma besef het dat daar geen handleiding vir trauma is nie en dat elke persoon se ervaring uniek is.

Dit is wat die boek is: verhale van vroue wat verskillende traumatiese ervarings gehad het en hulle getuie­nisse deel van hoe God hulle in dié tye bygestaan het. Dit kan baie help om sulke verhale te lees wanneer jy self deur iets gaan, om te weet jy is nie alleen nie, jy is nie die enigste een met seer nie.

Elke verhaal se skryfstyl verskil. Dis gemaklik en eerlik en herinner jou dat gewone mense hierdie verhale met ’n opregte hart met die wêreld deel.

Hierdie boek sal ek aanbeveel vir enige iemand wat mooi en ware ge­tuie­nisse wil lees. Ek sal nie al die verhale na mekaar aanbeveel vir iemand wat onlangs deur trauma gegaan het nie.

Dit is beter om ’n verhaal te kies waarmee geassosieer kan word en vir eers net daar stil te staan. Andersins is dit ’n interessante lees.

Trauma en God herinner ons aan God wat teenwoordig is in ons wêreld, selfs in die seer.

Ds Nicole Hamman-Forrest is predikant by die NG gemeente Suikerbos in Drie Riviere-Oos in Vereeniging.