Piet Nieman

25 Januarie 1934 – 20 Junie 2014


Pieter Jacobus Nieman is op 25 Januarie 1934 gebore te Ventersburg in die hart van die Vrystaat. Sy oupa aan vaderskant was Pieter Jacobus Nieman, ’n boer in die distrik Ventersburg, en trou met ’n Burger-boernooi van Winburg. Sy oupa aan moederskant was Jurie Jacobus Naudé, wat geboer het op die plaas Alabama in die distrik Bultfontein. Tydens die Anglo-Boereoorlog is hy as krygsgevangene oorsee verban, terwyl ouma Naudé ’n groot deel van die oorlog ’n voortvlugtige was en die verskroeide aarde-beleid van die vyand eerstehands ervaar. Sy word later gevang en gestuur na die konsentrasiekamp te Brandfort.

Piet Nieman se vader was Philippus Johannes Nieman, wat sy hele beroepslewe van 50 jaar wy aan ’n Britse maatskappy wat sement vervaardig. Sy moeder was Jurie Smartryk Naudé, gebore in die konsentrasiekamp op Brandfort. Sy het haar hele lewe lank die letsels gedra van haar vroeë kinderlewe in die konsentrasiekamp.

Ds Piet skryf in 1991 oor hulle invloed op sy lewe: “Vandat ek tot my verstand gekom het, was daar geen tydperk waarin my ouers nie intens betrokke was by die werk van die Here nie. Die evangeliebediening op streng gereformeerde basis, wat ek nagestreef het, is grootliks te danke aan my Naudé-familie se invloed. Ds Gertjie Naudé, my ma se jongste broer, was destyds ’n bekende kerkman in die Vrystaat en het diep spore op kerklike gebied getrap. Twee van haar jonger susters was ook getroud met predikante, ds SP Malan en ds Unio Joubert, wat albei die gemeente Kuruman bedien. ’n Neef van my pa, ds Piet van Rensburg, was ook predikant op Deben.”

Piet Nieman begin sy skoolloopbaan in 1940 op Hennenman en matrikuleer in 1953 aan die plaaslike Hoërskool Hennenman, waar hy leiding neem as hoofseun in die skool en ’n aktiewe rol in die ACSV speel. In dié tyd was ds JF Mentz leraar op Hennenman, ’n rolmodel vir Piet en iemand wat instrumenteel betrokke was tot sy opleiding as bedienaar van die Woord.

Piet se voorbereiding vir sy teolo­giese opleiding ontvang hy aan die Universi­teit van Suid-Afrika en hy volg daarna ’n vierjarige kursus aan die Sendinginstituut op Wellington. Aan die einde van 1960 word hy as proponent gelegitimeer. Hy ontvang ’n beroep as sendeling na die werkkring Benede-Oranje, met standplaas Upington. In 1963 aanvaar hy ’n beroep na die NGKA Senekal-De Rust, nadat ds PB Botha en die kerkraad van die NG Kerk Senekal-De Rust besluit het om sendingwerk binne eie grense te doen. Nadat die NG Gemeente Stella nege maande lank sonder ’n leraar is, slaag ’n beroep op ds Piet Nieman en hy word die naweek van 5 Mei 1972 in die gemeente Stella ontvang en bevestig. Na ’n dienstyd van vyf jaar, neem die gemeente Stella op 9 September 1977 afskeid van die leraarspaar met hulle vertrek na die NG Gemeente Britstown. In die agt jaar leer ds Piet Nieman en gesin die Karoo en sy mense liefkry, maar hy is gehoorsaam op die Meester se roepstem in die winter van 1985 toe hy afskeid neem met sy vertrek na Postmasburg.

Ds Piet en Arabella Nieman word op 26 Julie 1985 herder en leraar te Postmasburg. In sy dienstyd brand die NG Kerkgebou te Postmasburg die nag van 26 November 1988 af, ’n dramatie­se gebeurtenis in die geskiedenis van die gemeente. Op die skouers van die drie leraars, ds Piet Nieman, ds Johan Leeuw­ner en ds Desmond Ras (kapelaan Leergevegskool), rus ’n groot ver­antwoordelikheid om die gemeente in die moeilike tyd by te staan. Na deeglike besinning word die ou kerktoring behou en ’n nuwe kerkgebou opgerig wat die naweek van 28 April 1991 ingewy word.

Na ’n dienstyd van tien jaar op Postmasburg emeriteer ds PJ Nieman op 18 Junie 1995 en hulle verhuis na die Strand. Hy raak gou geliefd en tree op 1 April 1996 in diens van die NG Gemeente Die Strand as pastorale hulp, wat verantwoordelik is vir die geestelike bearbeiding van drie tehuise vir bejaardes in die Strand.

Na ’n leeftyd van diens in die koninkryk van die Here, sterf ds Piet op 20 Junie 2014 in die Strand. Tydens ’n huldigingsdiens is daar met groot waardering melding gemaak van sy sterk roeping en sy geestelike arbeid tot die einde van sy lewe. Hy het tydig en ontydig die Here se Woord met oorgawe verkondig, so is siele vir die Here gewen en hy kon hierdie roeping vol vreugde tot die einde beoefen.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.