Rian Prins

7 Januarie 1938 – 22 Augustus 2018


Prof Jurianus Marthinus Gaukus Prins is op 7 Januarie 1938 gebore in Kaapstad. Sy vader was Johannes Barend Prins, ’n magasynmeester by die Suid-Afrikaanse Spoorweë. Sy moeder sterf toe hy agt jaar oud was en sy vader trou later met Maria Elizabeth Beyers Crous, ’n gekwalifiseerde onderwyseres, baie intelligent, wat met haar minsaamheid en nederigheid ’n huis van liefde en omgee skep.

Rian word in die omgewing van Hopefield groot. Hy begin sy skool­opleiding in 1944 aan die Laerskool Epping en is daarna leerling aan die Hoërskool Goodwood, waar hy in 1953 matrikuleer. Sy moeder het tot sy geestelike vorming bygedra en Rian het op ’n vroeë ouderdom besluit om predikant te word. Dit is merkwaardig dat Rian matriek slaag toe hy 15 jaar oud was. Hy besluit om in 1954 by Sanlam te werk, ’n geleentheid om nie net mensekennis op te doen nie, maar om voor te berei vir Stellenbosch omdat hy geroepe voel om predikant te word.

In 1955 begin hy met sy BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy betrokke is by die CSV-kampe en die doen van sendingwerk oor naweke. In 1958 word die jong Rian Prins student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy die BD-graad verwerf met die tema: “Die stedelike Bantoejeug en hulle sendingbearbeiding”. Dit was vier wonderlike jare en hierdie jongman sou nooit kon droom dat hy eendag ook predikante sal help oplei aan die kweekskool nie. Daar was ’n besondere band tussen Rian en prof Kolie Kotze, wie se prediking en bediening die latere leraar diep geraak het. Daarom was dr Rian se prediking altyd suiwer Woordverkondiging en altyd Christosentries. Hy was baie bewus van sy roeping as “bedienaar van die versoening”, soos Paulus dit in 2 Korintiërs 5 verwoord. Aan die einde van 1961 word hy as proponent gelegitimeer en vertrou die Here vir die onbekende toekoms.

Prop JMG Prins word op 7 April 1962 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Diamantveld in Kimberley. Hier beleef hy goeie tye en is ook betrokke toe die legendariese Kenne de Kock van Barkly-Wes, die bekende Pro Regno-kampterrein op die walle van die Vaalrivier by Barkly-Wes ontwikkel. Sy kollega is ds ZB (Zachie) Badenhorst, met wie hy ’n besondere verhouding het, ook met sy opvolger dr James Kemp. Die jong ds Rian het dadelik die potensiaal raakgesien en hierdie kosbare diamant in koninkryksdiens help ontwikkel en veredel. Intussen studeer hy deeltyds verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein, waar hy ’n Honneursgraad in Sielkunde behaal.

Die jong ds Rian Prins trou op 23 Maart 1963 met mej Elise Clark, ’n liefdevolle lewensmaat wat hom tot die einde toe met liefde en deernis on­dersteun, nie net in die bediening nie, maar ook toe hy die akademie betree. Sy onderskei haar nie net as bekwame orreliste nie, maar is ook ’n onderwy­seres in Wiskunde en Skeinat, wat met oorgawe die Here in die onderwys dien en uiteindelik ook ’n doktorsgraad in wiskunde behaal. Ds Rian en Elise is die eerste egpaar wat in die nuwe kerkgebou van Diamantveld getroud is, die kerkgebou wat ds Rian en sy medeleraar bou. Uit die huwelik is vier kinders gebore, drie seuns en ’n dogter. Hulle beleef groot hartseer toe hulle jongste seun Jurian in ’n motorongeluk in 2009 sterf.

Vroeg in 1967 neem ds Rian Prins ’n beroep aan na die NG Gemeente Pietermaritzburg, waar hy ’n groot rol speel in die KJV se gebiedsuniekomitee en ondervoorsitter is van die SKAE in Natal. Na ’n geseënde dienstyd ont­vang hy demissie van die kerkraad van Pieter­maritzburg en vertrek na Nederland waar hy verder studeer. Hier word hy in die lente van 1970 ’n jaar lank leraar van die Gereformeerde Kerk Edam in Nederland. Hulle woon in ’n lieflike gemeubileerde pastorie op die Westervesting. Hy het geleer om in Nederlands te preek, twee keer per maand gepreek, siekes besoek en huisbesoek gedoen.

Terug in Suid-Afrika word hy op 6 November 1971 leraar van die NG Gemeente Brenthurst in Brakpan, waar hy ’n geseënde dienstyd beleef saam met kollegas di Willie van Rensburg en Sarel Terblanche. Hier is Elise Prins die voltydse orrelis. In 1973 ontvang hy die doktorsgraad in Teologie met die proef­skrif wat handel oor die Heidelbergse Kategismus as kategetiese leerstof. Hier ervaar hy ’n geseënde dienstyd tot ’n beroep kom as leraar van die NG Kerk Kaapstad (Groote Kerk) in die moeder­stad aan die hange van Tafelberg.

Met sy bevestiging op 20 Julie 1975 betree dr en mev Rian Prins ’n besondere tydvak in hulle gemeentebedie­ning. Daar het ’n mooi verhouding met sy medeleraars, di Jan van Vuuren en Kobus van der Westhuyzen, bestaan en hulle het goed as wenspan saamgewerk. Tydens sy dienstyd het die geestelike werk onder die jeug ’n bloeitydperk beleef en daar is wye akkers gesaai, ’n besondere tyd om die Here voor te dank. Huisbesoek was ’n groot prioriteit in sy bediening, want hy het geglo hy kan veel beter vir mense die Woord bedien, as hy hulle in hulle huis leer ken het met persoonlike kontak.

’n Beroep kom aan die einde van 1980 as senior lektor na die kweekskool op Stellenbosch, waar hy met die opening van die Fakulteit Teologie in 1982 sy plek as senior lektor agter die kateder in die profeteskool in die Eikestad inneem. Hy is verantwoordelik vir die dosering van kategetiek en jeugsorg by die kweekskool en met sy praktiese raad en leiding beteken hy baie vir die studente. Hier lewer hy uitstaande werk van hoogstaande gehalte en met sy liefde en insig is hy ’n gewaardeerde kollega in die dosenteraad. Daar is groot waardering vir sy werk toe hy in 2003 aftree as dosent aan die kweekskool in die Eikestad. Hy het deur die jare ’n indrukwekkende lys publikasies, wetenskaplike artikels, handboeke en populêre artikels nagelaat. Die egpaar het in hulle strandhuis by Rooi Els gaan woon, maar in 2008 weer teruggetrek na Stellenbosch.

Na sy amptelike aftrede het dr Rian Prins steeds betrokke gebly met navorsing en sy vlerke verder gesprei. Op 1 Maart 2010 word dr Rian Prins deur die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit aangestel as buitengewone professor in Praktiese Teologie. Hy word beskou as dié kenner van jeugpastoraat en die pastorale bediening van adolessente in Suid-Afrika. Hy het ook navorsingsprojekte van stapel gestuur oor postmoderniteit en jeugbediening.

Die Here beskik dat dr Rian Prins in 2008 betrokke raak as leraar en pastor en bedienaar van die Woord in die NG Gemeente Stellenbosch-Noord, waar hy besondere diens verrig en die mense met liefde en deernis aanraak tot in 2014. Later word dr Rian in 2009 met Parkinson se siekte gediagnoseer, wat eers die laaste twee jaar van sy lewe sy tol begin eis. Rian het nog in Oktober 2012 meer as 100 kilometer van die Camino in Spanje na Santiago gestap.

Hierdie besondere mens en leermeester van predikante sterf op 22 Augustus 2018. ’n Roudiens word op 25 Augustus 2018 in die NG Moederkerk Stellenbosch gehou en is gelei deur prof Daniël Louw, ’n oud-kollega aan die kweekskool op Stellenbosch.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.