Terugblik: Preke en sterftes te midde van die Groot Griep

Hoe is die Groot Griep ’n eeu gelede in kerkgeledere verstaan? Jan Lubbe stel ondersoek in.


Op Donderdag 31 Oktober 1918 het De Kerkbode soos gebruiklik weer deur die pos gekom. Dit was nie vanselfsprekend nie, hier midde-in die Groot Griep. Twee dekades tevore het sy net-net die hitte van die oorlogstryd van 1899-1902 deurleef. Nou was dit haar Kaapse stalgenoot, die bloedjong Burger, wat dit kwalik kon volhou; redaksielede tot die dood toe siek. ’n Tyd van enorme beproewing regdeur die land.

Uit die vergeelde bladsye van daardie Kerkbode kom skrikwekkende berigte. In Kimberley is teen die einde van Oktober 1918 reeds 4 406 gestorwenes getel; in die pastorieë van Burgersdorp, Smithfield en Fauresmith is predikantskinders oorlede; in Bloemfontein het die saakgelastigde van die Vrystaatse Kerk siek geword; uit Kaapstad het ds AC Murray (seun van ds Charles Murray) na die armoedekolonie by Kakamas vertrek om daar as enigste geneeskundige te gaan help. Hy het na sy teologiese opleiding ook ’n kursus in geneeskunde in Edinburgh, Skotland gedoen. In die noorde van Natal is ’n kerkraadskonferensie afgelas en in Standerton is die bevestiging van prop Esterhuijzen “wegens de heerschende influenza epidemie onbepaald uitgesteld”. Ds JM Louw, skriba van die Transvaalse sinode, het namens die moderamen ’n dag van gebed vir Sondag 3 November uitgeroep. “De hand Gods rust zwaar op het land onzer inwoning,” skryf hy. Met ’n teks daarby, Jesaja 26:20 (já, nét soos nou weer!): “Ga henen, mijn volk! Ga in uwe binnenste kamers en sluit uwe deuren; verberg u als een klein oogenblik totdat de gramschap overga …” Die Here trek uit om die ongeregtigheid te straf …

Hoe is die Groot Griep in kerkgeledere verstaan?

Die Kerkbode-redakteur, ds PGJ Meiring, wy sy hoofartikel van 31 Oktober aan “Ons verlies”: Oral, in baie huisgesinne is “pijnlike verdriet en dikke duisternis” beleef. Hy betreur die dood van vier jong predikante: die bekende dr Tobie Muller van Philippolis, en di CP van Niekerk van Worcester, J Röscher van Somerset en JZ Moolman van Wellington. Die Here het gegee, die Here het geneem; “met betraande oogen zoeken wij dit den Godsman Job na te zeggen.” In die volgende Kerkbode verskyn sterwensberigte van di SW Pienaar van Merweville en GJ Rosseau van Piet Retief. Só gaan die lys aan. Wat staan ons te doen? Die voorbeeld van die 34-jarige Tobie Muller het aangegryp: Onvermoeid gaan hy voort met siekebesoeke; sy laaste erediens uit 2 Samuel 24 – Dawid, lydend onder sy gewete vanweë die volkstelling en Gods oordeel, drie dae van pes en sewentigduisend sterfgevalle. ’n Biddag? Of moet die kerke sluit? vra die redakteur. Verskeie burgemeesters, ook in Kaapstad, het markte en teaters gesluit en ook gevra die kerke moet. Die Aartsbiskop van Kaapstad sê nee; gelowiges soek nou na troos en bemoediging; wél sal hy priesters vra om “de diensten kort te maken”. Die Metodiste Kerk het saamgestem. Op die platteland het enkele NG Kerke hulle eredienste opgeskort. Redakteur Meiring verskil: Daar is ’n liggaamlike kwaad wat deur die land trek maar ook ’n geestelike kwaad – perdewedrenne en danspartye gaan aan! – en dié is erger; “die geslotene kerken vullen ons met grooter vrees dan de bacillus catarrhalis”. Die “Dag des Heeren” verloor sy heiligheid, en dít terwyl ons onder die “beproevende en kastijdende hand Gods verkeert”!

In die volgende uitgawe publiseer Kerkbode die preek van ds TC Dönges van Hoopstad oor Eksodus 8:19, die uitroep van die farao se towenaars tydens die muggieplaag oor Egipte: “Dit is die vinger van God!” Ons beleef ernstige tye, het ds Dönges gepreek. Tiperend. ’n Wêreldoorlog en die verlies en verhongering wat dit gebring het, en nou die griepepidemie. Onsigbaar klein is die draer, “dwarrelen in de lucht en worden ongemerkt door mond en neus ingeademd”, en derduisende sterf! Waarom? Dit is Gods strafgerig oor ons sondes: persoonlike, huislike en volksondes! Onbekeerlikheid en hoogmoed, selfsug en geldsug, wêreldsgesindheid, Sondagontheiliging, onkerklikheid, bygeloof, dronkenskap, onsedelikheid en nou ook nog ’n skreiende onverskilligheid oor wat God tot ons toeroep! Sal ons tot stilstand kom en luister?

Daar was wél ook ander sieninge in die NG Kerk oor die epidemie; hierdie is maar ’n dwarssnit, gedateer Hervormingsdag 1918. Terloops, die redakteur het óók opgemerk dat vanjaar – gegewe die epidemie – die gebruiklike “Hervormingspreek” tersyde geskuif word ten gunste van ’n aktuele preek, soos bogenoemde. Sou Luther met sy spiritualiteit van ’n warm hart en nugter denke dalk juis kon help, wil ’n mens ’n eeu later jouself afvra. Nietemin, in dieselfde Kerkbode verskyn ’n eerste “In Memoriam” vir wyle Tobie Muller, geskryf deur sy eertydse leermeester op Stellenbosch, die gryse prof JI Marais. Die dood van so ’n jongman is ’n misterie en hoewel dit ons diep smart besorg, troos ons ons aan dit wat in Christus volbring is. Hy is deur die skaduwee van die doodsvallei die lig anderkant in. ’n Maand later, steeds verbyster deur die lewensverlies en lyding, plaas De Kerkbode nóg vier van talle huldeblyke aan die nagedagtenis van Tobie Muller. Onder andere een van Bennie Keet, toe leraar te Graaff-Reinet, pas gepromoveer aan die Vrije Universiteit in Amsterdam en later bedaarde teoloog op Stellenbosch. Hy onthou sy boesemvriend se natuurlike egtheid, sy wonderlike geesdrif en sy “levende gereformeerdheid”. En dan eindig Keet: Wie sal die werk van die Here verstaan? “God leere ons om niet te willen verstaan, maar te gelooven.”

Slaan die hand van God of troos die hand van God? Is dit die verkeerde vraag?

’n Eeu later – sovele oorloë en sterftes later – doem die vraag weer in ons gemoed op, in preke en in WhatsApps wat sirkuleer. Roep “towenaars van farao” weer uit: Kyk, die vinger van God! Miskien moet ons raaksien dat papier, sóós van die Kerkbode en ons preekmanuskripte, geduldig is. Só ook die geskiedenis. En dat ons daarom ons woorde moet weeg. Selfs minder maak, voorlopig. Ons klarighede heroorweeg. Veral, wanneer ons soos nou, voor die groot misterie te staan kom.