Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Herberg Kinderhuis in Robertson sukkel in die grendeltyd om kos vir die kinders te voorsien en om die gewone uitgawes soos elektrisiteit te dek. Foto verskaf

Covid-19: Kinderhuise voel die knyp

 “Die donasies het opgedroog en dit het ’n rimpeleffek.”

Só vertel Petro Uren van die Herberg Kinderhuis op Robertson in die Wes-Kaap. Uren, wat die bemarking van die kinderhuis behartig, het haar na Facebook gewend om vir donasies te vra omdat die kinderhuis in die grendeltyd groot finansiële uitdagings in die gesig staar. Uren verduidelik verder: “Donateurs kan nie meer soos oudergewoonte donasies self na die kinderhuis toe bring nie. Die donasies kan nou slegs elektronies ontvang word. Die koronavirus veroorsaak óók dat die kinderhuis weens veiligheidsredes nie enige kleredonasies kan ontvang nie,” verduidelik Uren. Sy sê die twee grootste uitdagings vir die Herberg Kinderhuis is om die 122 kinders se skool- en koshuisfondse te betaal en om vir hulle kos aan te koop.

Hermien Bezuidenhout van die Catherine Robson Kinderhuis in Vereeniging, Gauteng, sê hulle grootste uitdaging tydens die grendeltyd is om die kinders gesond te hou deur hulle behoorlik te voed. Hulle werk baie hard om vir die kinders gebalanseerde maaltye te gee om te verhoed dat hulle nie siek word nie. “Ons is ekstra streng met die kinders oor persoonlike higiëne en om die kinderhuis kiemvry te hou, want die winter kom al nader,” verduidelik Bezuidenhout.

Alhoewel die Môrester Kinder- en Jeugsorgsentrum in Ladysmith, KwaZulu-Natal, ook soortgelyke uitdagings in die gesig staar, vertel Lizette van Niekerk van die wonderwerkbaba wat op die eerste dag van die grendeltyd by hulle aangesluit het. “Op die eerste dag van grendeltyd het ’n vrou haar twee dae oue baba vir ons gebring. Die vrou het gesê sy kan nie vir die baba sorg nie. En watter wonderwerk is dit nie dat die vrou die insig gehad het om in die beste belang van die baba op te tree en die kind nie net in ’n vullisdrom te los nie.” Van Niekerk sê die baba groei ongelooflik mooi in die grendeltyd. Hulle het ook twee babas wat onderskeidelik drie weke en drie maande oud is. Van Niekerk sê dit is ’n uitdaging om met die koop van formulemelk en doeke voor te bly.

Indien jy die kinderhuise wil ondersteun, kontak gerus die onderstaande persone:

  • Petro Uren: 084 586 2583 (Herberg Kinderhuis)
  • Lizette van Niekerk: 083 306 7016 (Môrester Kinder- en Jeugsorgsentrum)
  • Hermien Bezuidenhout: 016 455 1733 (Catherine Robson Kinderhuis).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Covid-19: Kinderhuise voel die knyp”

  1. Dra die NG kerk verantwoordelikheid net vir die kinderhuise waavoor hier vir fondse gevra word? Dit lyk onregverdig om n paar noodoproepe te hanteer en dan fondse aan te vra vir net sekere kinderhuise wat geraak word. Kerkbode, wat veronderstel is om die spieël van ons kerk te wees,maak hom so skuldig aan selektiewe voorkeur. Hoeveel ander kinderhuise ly nie hieronder nie.
    Dit bring my by n.verdere probleem. In ons dorpie het seker limate inisiatief geneem en n sopkombuis geopen vir behoeftiges. Skenkings van bestanddele of geld is aangevra. Daar word slegs geklop aan die deur van blanke lidmate. n Ander groep wou sien dat die barmhartigheid verder strek na ook die township aan die onderpunt van die dorp. Dit word tans met groot welslae uitgevoer. n Diep hartseer egter, is ook die gesindheid van hulle wat vee besit en vleis skenk “nét aan wit mense.” Ek lê hierdie stuk rasbeheptheid ook aan die deur van ander kerke en organisasies. Moet ons nie in ons kerk kan uitreik na die nood van hierdie wêreld, veral in hierdie buitengewone omstandighede, en die gesindheid van Christus openbaar nie? Hy het nie onderskei nie. Hy het nie geselekteer nie. Hy was n slaaf. Vir almal. Word Sy liggaam dan onder ons verdeel?
    VDM Emeritus Reddersburg

  2. Henning Brits

    Inderdaad so , dat alle kinderhuise swaar kry ,hoekom sonder die Kerkbode net hierdie 3 kinderhuise uit?? Die Redakteur behoort van beter te weet!!

  3. Geagte lesers, sonder twyfel kry vele mense en instellings swaar in hierdie tyd. Sien gerus die berig hierbo as ‘n aanknopingspunt tot ‘n breër gesprek oor nood in kinderhuise asook ander instellings en NRO’S wat van donasies afhanklik is. Ons het elders berig oor die aanbeveling dat gemeentes / lidmate in dié tye moet fokus daarop om in te skakel by bestaande netwerke wat hulle vertrou en ken. Miskien help dit as ook hierdie berig in daardie gees gelees word. Vir meer daaroor: https://kerkbode.christians.co.za/2020/04/08/kerk-en-covid-19-barmhartigheid-is-in-ons-dns/

Comments are closed.

Scroll to Top