Kerk en Covid-19: Barmhartigheid is in ons DNS

Die Koronavirus het dalk nie alles heeltemal so deurmekaar gekrap as wat ons dink nie. Só is die mees basiese behoeftes van mense volgens Maslow se behoeftehiërargie steeds onveranderd: Mense moet eet en geklee wees; mense moet veilige beskutting hê; mense moet weet dat hulle nie alleen is nie. Net so is die roeping van die kerk onveranderd as ons byvoorbeeld dink aan die opdrag in Matteus 25:35-46 om na die hongeres en siekes, die vreemdelinge en die gevangenes om te sien. Te midde van die dringende vrae oor hoe ons as kerk kan help, is die breë riglyne daar, was dit nog altyd daar: As daar nood is, moet ons help! Die liefde van Christus dring ons.

Hoe help die NG Kerk mense en gemeenskappe in nood? Met Covid-19 word hierdie vraag weer gevra en dan dikwels met een oog op die werkswyse van ander hulpverleningsorganisasies. Die waarheid is dat die werkswyse van die kerk uiters uniek is en in daardie opsig nie vergelykbaar met ’n organisasie met enkelvoudige doelwitte (soos suiwer noodverligting) nie. Die invloed van die kerk het sy oorsprong in die feit dat dit ’n integrale deel van die plaaslike gemeenskap vorm. Hulpverlening ge­skied vanuit hierdie diep-gesetelde verhoudings en netwerke. Die verskyning van Covid-19 het onmiddellik hierdie dinamika by elke plaaslike gemeente in elke dorp van ons land geaktiveer. Dit is ongelooflik om te sien hoe gemeentes se bewussyn van mense se nood verhoog het en die eerste bekommernis nie nét die sorg en oorlewing van die eie gemeente is nie.

Ds Nioma Venter

Die sinodale strukture van die NG Kerk verskaf deurlopend ondersteuning aan plaaslike gemeentes om hulle in staat te stel om meer effektief in gemeen­skappe te wees. Daarom sal ons vind dat wanneer die kerk byvoorbeeld ’n rampfonds bestuur, hulp nie buite-om die plaaslike gemeente gelewer word nie, maar juis deur die plaaslike gemeente na die gemeenskap. In hierdie tyd beleef ons ook dat ons nie met vaste sekerhede en bekende beste-praktyke werk nie, maar met ontwikkelende realiteite (emer­ging practises) wat vra dat ons innoverend en kreatief te werk moet gaan.

Dit is feitlik onmoontlik om die betrokkenheid van die NG Kerk tydens die huidige Covid-19 pandemie te kwantifiseer, veral omdat rand-en-sent nie die enigste waardebepalende faktor is wanneer dit by die kerk se diensle­we­ring kom nie. As lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, is die NG Kerk tot op regeringsvlak konsulterend betrokke. In reaksie op die SARK se versoek het gemeentes regoor die land heen vandeesweek hulle geboue geregis­treer as sentra vir hulpverlening. In die tien sinodes van die NG Kerk is daar twaalf geregistreerde kerklike maatskap­like diensterade wat noodsaaklike diens­te aan etlike honderde duisende mense in dié tyd lewer. Dit sluit tehuise vir bejaardes, kinderhuise, kinderbe­skermingsdienste en voedingskemas in. Vanuit die 1 109 NG gemeentes regdeur die land vind daar op ’n geïntegreerde wyse diep menslike ondersteuning en noodverligting plaas. Dit geskied op ’n tipies kerklike wyse, waar die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie en waar die aksies van individuele lidmate, gemeentes en kerklike organi­sasies nie aan die groot klok gehang word nie. Dit gaan oor mense en hulle nood alleen.

Met slegs ’n week in die grendelstaat van Covid-19 in, is daar alreeds ’n groot aantal verhale van liefde en deernis wat vertel word. In die Wes-Kaap het ’n anonieme skenker vandeesweek een miljoen rand geskenk wat deur Badisa en gemeentes van die NG Kerk en die VG Kerk na kinders in vroeëkinder­ont­wikkelingsprogramme gekanaliseer word. Op ’n klein Vrystaatse dorpie het ’n restauranteienaar wie se besigheid weens die grendelstaat moes sluit, sy kombuis en fasiliteite aangebied en word daar nou daagliks sop voorberei en versprei. In Khayelitsha vat vyf NG gemeentes hande met vyf onafhanklike kerke om mense van kos te voorsien. Op Swellendam spring die VG Kerk as deel van die Diensgroep Diaconia van die NG en VG Kerk in om haweloses te help voed. Dieselfde gebeur op George. In die middestad van Bellville voorsien ’n aantal gemeentes daagliks saam met ander kerkgenootskappe MES-aksie van die nodige middele om hawelose mense te versorg. Uit die Sinode van Wes-Kaapland se rampfonds word R200 000 se beskermende drag aangekoop en versprei vir gesondheidswer­kers. In die Vrystaat skakel gemeentes met hulle plaaslike rampondersteu­ningspanne en vorm deel van die menslike ketting van omgee en versorging.

Dit mag so wees dat die kerkgeboue gesluit is, maar die kerk is oop – so oop soos wat dit nog altyd was vir mense in nood. Na ’n toer deur Langa, reik ’n NG gemeente in Durbanville nou via die toer­leier na gesinne in Langa uit en voor­sien hulle weekliks van kospakkies. Hierdie is nie ’n tipiese “fly by night” poging nie. Dit is hoopvolle, langdurige verbintenisse wat volhoubaar gemeenskap bou en meelewing beliggaam.

Covid-19 is ’n tyd om te fokus op die waardes van geloof en menswees. Barm­hartigheid was nog nooit vir die kerk ’n nuwe terrein of ad hoc aksie nie. Dit is in ons DNS. As beelddraers van die lewende God beliggaam ons sy liefde en sorg vir ’n noodlydende wê­reld. Daarom is die werkswyse anders en lyk die hulp wat vanuit die kerk aangebied word anders as dié van ander humanitêre ondernemings. In die kerk bemark ons ook nie, maar getuig ons en die verhoë vanwaar dit gebeur vang nie noodwendig altyd die kollig nie. Dit is ook reg so. God kry die eer!

Ds Nioma Venter is assessor van die NG Sinode Wes-Kaapland asook van die Algemene Sinode en tans waarnemende moderator terwyl ds Nelis Janse van Rensburg met sabbatsverlof is.

One thought on “Kerk en Covid-19: Barmhartigheid is in ons DNS

  1. Renier Schoeman says:

    Baie insiggewend ,en n prysenswaardige verhaal!
    Baie dankie daarvoor en sterkte aan alle betrokkenes.
    GROETE EN STERKTE
    Renier Schoeman
    Welgemoed Gemeente

Comments are closed.