VIDEO: Ja vir (klein) eredienste op Vlak 3

Gelowiges sal eersdaags weer saam kan aanbid, het president Cyril Ramaphosa in ’n regstreekse uitsending aan die nasie gesê. Maar wel met streng voorskrifte.

“Soos ons na Vlak 3 beweeg op 1 Junie besef ons die diep begeerte onder geloofsgroepe om terug te keer na hulle pligte,” het Ramaphosa oor die jongste aanpassings in die regulering van openbare saamtrekke soos eredienste gesê.

Kerke, sinagoges, moskees en tempels mag (tydens Vlak 3) dienste hervat, maar saamtrekke sal beperk word tot 50 mense of minder afhangend van die grootte van die venues, het Ramaphosa tydens die toespraak, wat sowat 15 minute geduur het, gesê. Sosiale afstande sal gehandhaaf moet word en gesigmaskers sal gedra moet word.

Alle geloofsrituele wat selfs die minste risiko (vir die oordra van Covid-19) behels, moet vermy word. “Sanitasie is van groot belang,” het Ramaphosa gesê.

Meer as 500 Suid-Afrikaners is dood aan die virus; en daar is tans sowat 20 000 infeksies.

Ramaphosa was vol lof vir die rol wat geloofsleiers die afgelope paar weke gespeel het om gehoorsaamheid aan te moedig ten opsigte van die streng maatreëls van inperking wat die regering in plek gestel het om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Hy het ook die noodverleningsrol van godsdiensorganisasies beklemtoon. “Ons erken die belangrike rol wat die geloofsgemeenskap gespeel het; baie daarvan is onder ekstreme omstandighede en met minimum hulpbronne gedoen.”

’n Nasionale gebedsdag sal ook op Sondag 31 Mei gehou word.

Die aankondiging kom ná die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) op 19 Mei ’n skrywe aan Ramaphosa oorhandig het om te vra vir groter ruimte vir die oopmaak van kerklike byeenkomste. Lidkerke van die SARK is gevra om voorstelle te maak oor hoe kerke binne die raamwerk van die ramptoestand kan funksioneer.

Van die voorstelle was dat klein eredienste gehou word, lidmate se koors by die deure gemeet word en dat daar nie gesing word nie. Kerke word self aanspreeklik gehou vir die veiligheid en nakoming van die voorkomende maatreëls en gemeentes moet toesien dat die nodige sosiale afstand tydens die kleiner eredienste gehandhaaf word. Die gebruik van gesangboeke en Bybels in die banke is taboe en kategese word tot verdere kennisgewing opgeskort.

Word 'n vriend van Kerkbode

3 thoughts on “VIDEO: Ja vir (klein) eredienste op Vlak 3

  1. Muller Oosthuizen says:

    In die lig van die NG Kerk se Pinksterreeks (deur Coenie Burger), lê Opb 2 swaar op my hart … dat kerke weer hul 1e liefde sal opneem, nl om die liefdesverhouding met God die volle sirkel te beem en TE GETUIG!
    Eerder as om cosy in die kerkgeboue te sit.
    Ek sê maar net. Namens ‘n vriend, Johannes.

  2. Johanna van Daalen says:

    Sal Sondag se dag van gebed in die kerkgebou mag plaasvind?

  3. Alet Kleynhans says:

    Ten minste is dit ‘n begin. Christenmense is verantwoordelik en ek is seker hul sal seker maak alles word verantwoordelik gedoen. Dis net die sing, dis soo lekker om saam te sing.

Comments are closed.