Kerke pleit vir selfregulasie tydens Vlak 3

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), waarvan die NG Kerk ’n lid is, het op 19 Mei ’n skrywe aan pres Cyril Ramaphosa oorhandig waar daar vir meer vryheid rondom godsdienstige aktiwiteite gepleit word. 

Met Vlak 3-regulasies “op die horison”, sê die kerkleiers onder meer dat godsdienstige byeenkomste met beperkte getalle in “veiliger areas” van die land toegelaat behoort te word indien die nodige voorkomingsmaatreëls in plek is, berig Jacobie M Helena

SARK, onder voorsitterskap van aartsbiskop Thabo Makgoba, vra in dié dokument vir ’n gesonde balans tussen die toelating van godsdienstige byeenkomste, onder andere eredienste, terwyl die reëls van die inperking stééds nagekom word. Dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, sê dat kerke van die begin van die grendeltyd af baie ondersteunend was in die handhawing van die regulasies wat deur die president afgekondig is. En dat kerke dit wil steeds doen. Maar, verduidelik hy in ’n verklaring wat op 21 Mei uitgereik is, kerke wil en kan deur hul diens en getuienis aan gemeenskappe ’n belangrike rol speel. 

SARK voer aan dat daar ’n toenemende burgerlike ongehoorsaamheid in die samelewing heers en dat kerke ’n beduidende positiewe rol kan speel om dié gedrag aan te spreek. “Kerke kan ’n groot rol speel om die gedrag van mense te verander. Dís hoekom daar vir groter oopstelling van die godsdienssektor gepleit word,” sê Claassen. SARK hoop Ramaphosa sal wannneer hy weer die nasie toespreek, op hul versoek reageer. 

  • Kerkbode publiseer Claassen se volledige skrywe hieronder. 

Kerke in gesprek met pres. Ramaphosa

Die NG Kerk het saam met lidkerke van die Suid Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) met president Cyril Ramaphosa in gesprek getree oor die rol van kerke in die tyd van Covid-19. Ná die skuif na vlak 4 van die ramptoestand en met Vlak 3 op die horison, word die vraag al dringender gevra waarom daar nie ook aan kerke groter ruimte gegun word vir die oopmaak van kerklike byeenkomste nie?

Die ramptoestand regulasies wat kerklike byeenkomste verbied, het oor die breë spektrum van die godsdiens-sektor reaksie uitgelok. ’n Splinter Moslem-groepering het selfs die hof genader om die regulasies tydens Ramadan opgehef te kry. Daar is ’n onrustigheid te bespeur en tekens van burgerlike ongehoorsaamheid in die breë samelewing is plek-plek aan die groei.

Dit maak dit dringend noodsaaklik dat die rol wat kerke in die breë samelewing speel en kan speel tydens grendeltyd deegliker oorweeg moet word. Kerke kan ’n groot rol speel om die gedrag van mense te verander. Hierdie rol dien onder andere as motivering vir die oopstelling van godsdienstige byeenkomste, met bepaalde beperkings.

In die lig hiervan is die lidkerke van die Suid Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) gevra om voorstelle te maak oor hoe kerke kan funksioneer binne die raamwerk van die ramptoestand-regulasies.

Kerke was van die begin van die afgekondigde grendeltyd ondersteunend ten opsigte van die nodige regulasies en protokolle om die verspreiding van die virus te voorkom en wil dit steeds wees. ’n Gesonde balans moet egter gevind word tussen die oopmaak van godsdienstige aktiwiteite en voldoening aan maatreëls om verspreiding van die virus te beperk. Die kerk wil en kan ook deur sy diens en getuienis aan gemeenskappe ’n baie belangrike rol speel.

Onder voorsitterskap van aartsbiskop Thabo Makgoba (Anglikaanse Kerk) is ’n dokument opgestel wat voorstelle van die lidkerke bevat. Die dokument is op 19 Mei aan die president oorhandig deur die dagbestuur van die SARK se Uitvoerende Komitee en reaksie van regeringskant word afgewag. Die SARK hoop dat die voorstelle reeds in die president se toespraak op Donderdag 21 Mei aandag sal geniet.  

Tydens hierdie gesprek was minister Lindiwe Zulu van die Department Maatskaplike Ontwikkeling ook teenwoordig. Die minister het ’n paar terloopse opmerkings gemaak wat hopelik ook iewers in ’n direktief  van die departement vervat sal word. Sy het onder andere genoem dat daar geen probleem behoort te wees met die kerk se pogings om kospakkies uit te deel nie. Die Departement sal graag ondersteunend wees waar probleme ondervind word. Erkenning van beraders wat deur die kerk aangebied word, sal aandag kry asook die akkreditering van predikante/pastore as noodsaaklike werkers.

Versoeke aan die regering

Die dokument wat deur die SARK aangebied is, bevat in hooftrekke die volgende versoeke vir oorweging deur die regering:

  1. Dat veiliger gebiede, onderhewig aan die resultate van die toetsproses wat die regering tans onderneem, geïdentifiseer word. Sekere dele van die land is veiliger as ander. In veiliger areas behoort godsdienstige byeenkomste met beperkte getalle toegelaat te word indien die nodige voorkomingsmaatreëls in plek is;
  2. Dat meer godsdienstige byeenkomste en aktiwiteite ruimte gegun sal word in vlak drie.  Kerke moet self aanspreeklik gehou word vir die regulering van veiligheid en die instandhouding van voorkomende maatreëls  om die risiko van infeksie te voorkom;
  3. Dat kerke self die bevoegdheid sal hê om geselekteerde predikante, leke-werkers en vrywilligers te akkrediteer  as “noodsaaklike kerklike werkers” om noodsaaklike geestelike en pastorale werk uit te voer. ’n Geringe aanpassing van die bestaande regulasies kan byvoorbeeld wees dat kerke self predikante kan opdrag gee om begrafnisse uit te voer en ook  spesifieke opdragte om pastorale berading te doen soos nodig in spesifieke situasies. Die leierskap van elke kerk sal hiervoor verantwoordelikheid neem.
  4. Dat kerke verbonde aan SARK die geleentheid gegun word om selfregulering te doen vir die nakoming van COVID-19 regulasies soos hierbo voorgestel;
  5. Dat kerke oorweeg word vir finansiële bystand ingevolge COVID-19-verwante bepalings. Dit sluit in die tydelike werknemer / werkgewershulpskema (TERS) en ander ondersteuning aan kerklike werkers wat noodsaaklike pastorale dienste aanbied soos predikante, versorgers en beraders.
  6. Plaaslike munisipaliteite word versoek om dringend die betaling van belasting deur kerke op te skort gedurende die grendeltyd.

Kriteria vir die oopstel van plekke van aanbidding

Voorgestelde kriteria, waarvoor kerke verantwoordelikheid sal neem en self sal reguleer vir die heropening van plekke van aanbidding is ook aan die president aangebied. Al die voorstelle is nie op die NG Kerk van toepassing nie maar kortliks wel die volgende:

  1. Kerkgeboue moet voorberei word. Voordat kerke geboue oopgemaak word vir eredienste, moet elke gemeente / plaaslike kerk voorbereid wees. Elke gemeente moet ’n taakspan hê bestaande uit persone met vaardighede en kennis van die bepaalde riglyne.
  2. Terwyl bywoning aangemoedig word, moet gemeentes toegesien dat die nodige sosiale afstand tydens byeenkomste gehandhaaf word en moet die grootte van groepe beperk word.
  3. ’n Register van bywoning van elke byeenkoms moet bygehou word.
  4. Skoonmaakmiddels  moet beskikbaar wees vir alle geboue voor en na dienste om fasiliteite deeglik te steriliseer vir ’n volgende byeenkoms. Vloere en banke en stoele moet voor en na byeenkomste afgevee word.
  5. Toilette moet higiënies gehou word:  Verseker voldoende beskikbaarheid van alkohol-gebaseerde handreinigers, seep-, water- en papierhanddoeke  moet voorsien word. Lopende water en hande was met vloeibare seep moet moontlik wees. Papier handdoeke moet weggegooi word in ’n bak met ’n deksel. As daar ’n tweede of selfs derde diens volg, is alle voorsorgmaatreëls wat vir die voorbereiding op die eerste diens gevolg word, van toepassing
  6. Ingange:  Geen gegroet by die deur nie; getalle sal bepaal word deur sosiale afstandsvereistes volgens die regulasies. Elke persoon se temperatuur sal geneem word en diegene met ’n lesing van 38 grade Celsius en hoër, sal gevra word om terug te keer huis toe. Voorsiening van alkohol-gebaseerde handreinigers by alle ingange. Persone by ingangsportaal sal verantwoordelikheid neem om handreinigers op elkeen te spuit.
  7. Kontaktyd: Verminder die tydsduur van eredienste tot een uur. Laat minstens 30 minute toe voor die volgende diens.
  8. Insameling van dankoffers:  Insameling sal geskied deur toe koeverte wat by die deure in houers geplaas word. Insameling moet geskied wanneer mense uit die kerkgebou beweeg terwyl sosiale afstand gehou word.
  9. Daar mag nie gesing word nie: infeksie is ’n groter moontlikheid as daar gesing word. Instrumentale musiek of solosang kan die tydgleuwe vul waar lofsange gewoonlik gesing word. Geen gesangboeke en Bybels in die banke nie, alle inligting moet elektronies in die erediens deurgegee word.
  10. Daar mag geen samedromming binne en buite die kerk wees nie. Mense wat dienste bywoon mag nie in groepe stap nie.
  11. Roetine vergaderings soos kerkraad en ander vergaderings moet onbepaald uitgestel word.
  12. Sondagskool word tot verdere kennisgewing opgeskort.

 

Konferensie met die president en ministers – 20 Mei.

’n Zoom-konferensie het op 20 Mei plaasgevind tussen die president, ministers Zulu, Mkhize, Cele, Dlamini-Zuma en godsdiensleiers.  Die breë godsdienstige spektrum van Suid-Afrika: Christene, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, die Joodse geloof en Afrika tradisionele godsdienste was verteenwoordig. Gustav Claassen, die Algemene Sekretaris, het as deel van die Christelike groepering deelgeneem. Van die sake wat deur die dokument van die aartsbiskop hanteer is, is ook deur godsdiensleiers herhaal. Die volgende vertoë is deur godsdiensleiers gerig:

  •   Dat alle pastore / predikante / imams / priesters (godsdienswerkers) as “noodsaaklike kerklike werkers” beskou word en toegelaat word om betrokke te wees by berading, die verspreiding van voedsel en die ondersteuning van ander noodsaaklike werkers soos byvoorbeeld gesondheidsdienste.
  •   Dat ’n weg gevind word om godsdienstige byeenkomste oop te maak met regulasies en protokolle in plek om infeksies te voorkom.
  •   Kerkgeboue moet as plekke geïdentifiseer word waar voedsel verskaf kan word.
  •   Dat die regering maskers en handreinigers aan kerke verskaf.
  •   Die godsdiens sektor moet as ’n belangrike agent gesien word in die proses van om mense se gedrag te verander.
  •   Dat geldelike ondersteuning vir godsdienswerkers moontlik gemaak word.

Dat 29 Mei 2020 ingeruim word as ’n Nasionale Biddag.

Die president het onderneem om die voorstelle van die godsdienstige leiers ernstig te neem. Na konsultasie met sy ministers sal daar weer met godsdiensleiers in gesprek getree word.   

  • Uitgereik deur dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris: NG Kerk, 21 Mei 2020