Wat brugbediening vir ons kerk kan en wil beteken

Soos ’n gids of konsultant kan ’n brugleraar ’n gemeente help om self in die kortste moontlike tyd die nodige ontdekkings te maak, skryf BENNIE BRINK.


Dink aan hoe ’n groepie kleuters sonder toesig moet voel voor ’n golwende hangbrug in die bos waar die ander kant van die brug in die ruigtes verdwyn. Die lengte van die brug na die ander kant is nie duidelik nie en die diepte van die kloof word deur die digte takke geheim gehou. ’n Mens kan jou nie ’n meer onseker en reddelose posisie voorstel nie.

Dit is presies hoe veral klein gemeen­tes heel dikwels voel wanneer hulle le­raar skielik geroep word om elders te gaan arbei. Of dit goed gegaan het en of dit sleg gegaan het, daar kom ’n leemte van onsekerheid wat enige mens wil vermy. Die natuurlike keuse is om so gou moontlik ’n plaasvervanger te kry sodat ons uit hierdie ongemaklike posisie van onsekerheid kan glip. Die onus word vierkantig op die skouers geplaas van die persoon wat ons gaan aanstel. Die grootste en enigste verantwoordelikheid wat die leiers van die gemeente het, is net om die regte persoon aan te stel. Met toegewyde gebed, uitgesoekte kundigheid en selfs professionele prosedure word onderhandel en seker gemaak wie die regte een is. ’n Deeglike pro­­ses en tog onvolledig.

Die feit wat baie maklik en dikwels misgekyk word is dat gemeentewees ’n spanpoging is en die leraar net ’n spanlid is met spesifieke opdrag. Indien die le­raar al die verantwoordelikheid moet dra sal die gemeente moet soek na ’n fiktiewe superheld. Ongelukkig is gemeenteopdrag nie ’n fiktiewe saak nie en daarom moet daar liewer gefokus word op die werklikheid. Om dus die pro­ses volledig te maak moet daar ge­kyk word wie is die gemeente, met huidige inligting, in huidige omstandig­he­de, hui­di­ge behoeftes en huidige roe­ping.

Interimbediening, met die klem op bediening en nie op interim nie, wil juis gemeentes met hierdie proses help. Dit is baie moeilik om iemand anders te evalueer maar nog moeiliker om sel­f­evaluasie te doen. Om hierdie rede wil brugbediening as ’n gereedskapstuk dien om die gemeente oor hierdie brug te help. Soos ’n gids of ’n konsultant kan die brugleraar die gemeente help om self in die kortste moontlike tyd die nodige ontdekkings te maak, behoeftes te bepaal en besluite te maak. Niemand weet vooraf wat aan die ander kant van die brug is, hoe lank dit is of hoe diep die kloof is nie. Niemand kan dit vooraf bepaal of sê nie, dit moet vars ontdek word. Daarom word die brugleraar ook nie die permanente nuwe leraar nie, anders word dit bloot hy of sy wat geëva­lueer word en die gemeente-ontdekking gaan verlore.

In ’n tydperk van ses tot agttien maande help die brugleraar die gemeen­te om te konsentreer op ’n paar fokus­areas. Die tyd is nie vasgestel nie omdat elke gemeente ’n eiesoortige uitdaging het. In hierdie tyd word gefokus op die gemeenteverhaal van begin tot op hede. Daar word gekyk na die identiteit van die gemeente, geografies, demografies en wat spiritualiteit betref. Deurentyd is daar noue samewerking met die kerk­ver­band. Leierskap en bedieningstrukture kry aandag en met ingeligte besluit­neming word daar besin oor die ge­­meen­te se toekoms en roeping. Met al hierdie nuwe vars kennis kan ingeligte besluitneming gedoen word oor die toe­koms soos die beroeping van ’n permanente leraar. Wat oor die algemeen as kwesbare tyd in die gemeentelewe beskou word, kan deur brugbediening verander word in vrugbare en lewensvernuwende tyd.

Ons leef in onseker tye. Alhoewel dit nog altyd waar is het die Koronapandemie dit nou met dik lyne kom onderstreep. Verandering wat nog altyd ’n baie aktuele saak was, is nou meer as ooit uitgewys as onignoreerbaar. Brugbediening wil selfs kyk na ’n korter “noodbrug”-tyd om gemeentes te help wat in die nood is om nuut te kyk en moontlikhede te ontgin, selfs vir korter tydperke. Ons het nie maar net oorbrugging nodig tussen die vorige en volgende dominee nie; ons het dalk ’n brug nodig tussen ’n vorige en nuwe bedieningsbenadering en -aanslag. Op 14 Mei het die Digital Learning Community ’n geleentheid digitaal aangebied met die tema “Nie ‘pause’ nie maar ‘reset’: Geloof en kerk vars geleef in Covid-19-tyd”. In sommige gevalle is dit dalk selfs “restart”. ’n Nuwe tydvak het finaal met ’n donderslag aangebreek waar do­minee sowel as gemeente nuut moet dink oor die rol wat elkeen moet speel as dissipels van ons Here in ’n tyd soos hierdie waarin ons vandag leef.

Brugbediening wil nie net ’n gaping vul nie, maar juis gemeentes help om ’n kwesbare tyd betekenisvol te gebruik om te groei en sinvolle ontdekkings te maak.

Ds Bennie Brink is emerituspredikant en sekretaris van die Werkgroep vir Brugbediening NG Kerk.


Brugbediening: Vraag-en-antwoord met ds Fanie Steyn (FS)

Jy het so pas die brugbedienings­proses in die gemeente Ellisras-Wes (Limpopo) afgehandel. Is die brug­bediening meer toepaslik op die platteland?

FS: Nee. Brugbediening is ewe veel van toepassing op die platteland as in stadsgemeentes. Ek was ook onlangs brugpredikant in Bergtuingemeente as kleiner stadsgemeente in Pretoria. Elke gemeente is deel van die koninkryk. Elke gemeente is uniek wat samestelling, demografie, grootte, bedie­ningstyl, ens. betref. En veranderinge in ’n gemeente moet op elkeen se eie bodem en tyd hanteer word.

Wat sou jy sê, is die langer-termyn effek van die brugbediening na twee jaar in Bergtuingemeente?

FS: Die proses wat met die hele gemeente en kerkraad hanteer is, het beteken dat almal ingekoop het om te kom by die besluite oor die toekoms van die gemeente. Die effek is dat Bergtuin as kleiner gemeente onafhanklik wil bly voortbestaan. ’n Deeltydse leraar is beroep en hulle leef nou saam as groter familie. Bergtuin se slim vooruitbeplanning was om die kerkgebou ’n aantal jare gelede aan ’n ander denominasie te verkoop met die voorwaarde dat Bergtuin dit mag gebruik. Dit beteken onder andere dat die gemeente nie tyd en kragte aan die kerkgebou se onderhoud hoef te wy nie, maar kan fokus op dit wat werklik vir die koninkryk saak maak.

Jy het die beginsels van die brugbe­die­ning al verstaan en begin uitdra nog voordat dit in die NG Kerk geïmplementeer is. Het die behoefte hieraan die afgelope 14 jaar verskuif?

FS: Nee, nie die behoefte nie, maar die bewuswording van die “sukses” van brugbediening het baie toegeneem. Daar is intussen met dank kennis geneem van die verdieping en gesonde groei in gemeentes waar die brugbediening gevolg word.

Watter uitdagings spreek die brugbediening tans aan?

FS: ’n Groot uitdaging is om deeglik kennis te neem van die veranderende wêreld – en invloede daarvan op die kerk – en hoe dit die kerk in die buiteland, in Suid-Afrika en in die spesifieke gemeente raak. Dit bring mee dat daar weer nuut en vars oor die praktyk van kerkwees gedink moet word. So ook ten opsigte van die uitleef van die Bybelse beginsels en die persoonlike verhouding met die Here. Brugbedie­ning help om ons te stroop van die oënskynlik belangrike dinge wat soms op die periferie lê en die kern van God se wil raak te sien / te herontdek.

Die keuse van die regte leraar vir ’n spesifieke gemeente is belangrik. Die gemeente bid saam vir iemand wat sal kan inpas by die verlede, hede, toekoms en eie omstandighede van die gemeente. Hierin behoort die brug­leraar goeie leiding en hulp te kan bied. In ’n liggaamsmodel van ge­meen­tewees neem gemeentelede me­de-eienaarskap van hierdie prosesse.

Slaag die brugbediening in die NG Kerk?

FS: Ja! Daar moet nog ’n noukeuriger evaluering gedoen word. Maar daar is tans reeds talle aanduidings dat gemeentes waar brugpredikante gewerk het, in ’n groot mate herleef en hulle heroriënteer om opnuut kerk van Chris­tus te probeer wees. Deeglike oor­gangsbestuur by gemeentes met predikantsvakatures is noodsaaklik. Dit is meer haalbaar wanneer dit met begeleiding van ’n opgeleide en ervare brugpredikant kan plaasvind.