Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die nagmaaldiens op 14 Junie het amptelik van 15:00 tot 18:00 geduur en ds Wimpie Wasserman en sy span het vooraf sowat 1 000 wegneemhouertjies vir die bediening van die sakramente bestel. Foto: Jan Steyn

Deurry-nagmaal: ‘Ons wou lúister; en nie worsmasjien wees’

Drie bedienings-“bane” is die afgelope Sondag in ’n parkeerarea van ’n gemeente in Krugersdorp uitgemerk vir iets wat ’n mens jou kwalik in pre-Korona-tye sou kon voorstel: ’n Deurry-nagmaaldiens, kompleet met musiekbegeleiding deur ’n eensame kitaarspeler op ’n verhogie en op ’n erg veilige afstand.

“Ons het vir mekaar gesê, dit moenie voel soos ’n worsmasjien nie,” vertel ds Wimpie Wasserman, leraar by Rant en Dal Prisma.

 

Die diens op 14 Junie het amptelik van 15:00 tot 18:00 geduur en Wasserman en sy span het vooraf sowat 1 000 wegneemhouertjies vir die bediening van die sakramente bestel. Die eerste motors het al teen 14:40 op ’n snerpend koue Gautengdag begin toustaan en die laaste lidmaat het om 17:58 opgedaag, het Wasserman op Maandag 15 Junie via Zoom aan Kerkbode vertel.

“Wat vir my swaar was, was die magdom mense wat gehuil het,” het Wasserman gesê. Hy sê vele lidmate is baie eensaam in die grendeltyd. Die skielike kontak – selfs van agter ’n masker en binne ’n motor – was vir vele “soos ’n damwal wat breek”.

Die dominees het by elke voertuig se insittendes inge-“check” oor hoe dit met hulle gaan, vir hulle gebid, die nagmaal ingestel. Foto: Jan Steyn

Lees ook: ‘Die Here het ons eredienste weer teruggegee!’

Wasserman vertel hy het hulp gehad van die afgetrede ds Jannie Pelser, asook prop Adelle Swanepoel, ’n “uitstekende teoloog” verbonde aan die gemeente. “Ons moedig lidmate aan om regtig te sê wat hulle voel,” het Wasserman verduidelik en gebieg dat die sowat 100 interaksies wat hy gehad het, ook vir hom emosioneel uitputtend was.

Rant en Dal Prisma se musiekdirekteur, Hansie Roodt, het onder unieke omstandighed die afgelope Sondag gesorg vir ‘n gewyde atmosfeer tydens die deurry-nagmaaldiens. Foto: Jan Steyn

Die dominees het by elke voertuig se insittendes inge-“check” oor hoe dit met hulle gaan, vir hulle gebid, die nagmaal ingestel en daarna kon die lidmate die brood en sap wegneem of op die perseel gebruik.

Sowat 300 volwassenes het die diens bygewoon en die gemeente beplan ’n soortgelyke opvolgdiens omdat Wasserman glo dat hierdie soort saamwees ’n waardevolle aanvulling tot goed soos video- en oudiopreke gedurende die grendeltyd bied.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top