Om die terugkeer van eredienste uit die ballingskap van inperking te vier, het die NG Gemeente Haakdoorn in Pretoria alles gedoen wat ons nie mag nie, maar sonder om een wet te oortree, vertel ds Koos Nel.

Ons het ’n erediens gehou met 87 mense teenwoordig, ons het gesing, ons het saam koffie gedrink en popcorn geëet – alles elkeen in sy eie motor: Ons het ’n “drive-in”-erediens gehou, met ’n vullis-trailer as liturgiese ruimte; met ’n gemaskerde “band” (lede twee meter uit mekaar), liedere en Skriflesing op WhatsApp, by die ingangshek (saam met die koors-meet, hande spuit en register hou) het elkeen ’n sakkie popcorn gekry en ’n bekertjie met ’n sakkie melktert of soetkoek cappuchino en ’n “stir”-stokkie – elkeen moes net hulle eie fles kookwater saambring.
Dit was so roerend, die idee het ontstaan dat ons elke jaar op die Sondag naaste aan 7 Junie ’n gedenkdiens hou: Die Here het ons eredienste weer teruggegee!


Lees ook: Pleidooi uit ‘hotspot’: Moenie eredienste hervat
Lees ook: Boer oor kospakkieprojek: ‘Dis ’n opdrag van God’

Geluk aan Haakdoorn! Die aanlynboodskappe wat die meeste gemeentes nou al vir meer as twee maande uitsaai, is alles goed en wel. Dis beter as niks en ons is dankbaar daarvoor. En seer sekerlik is daar nuwe geleenthede en verhoudings wat so ontstaan. Maar dis nie dieselfde as die gemeentelike byeenkoms van vlees en bloed rondom die Woord waar die g e m e e n s k a p van gelowiges beleef en beoefen word nie. Het gemeentes nie dalk uit vrees vir die virus hulle in ‘n nuwe soort gemaksone tuisgemaak waar daar nie meer innoverend gedink word nie? Sal daar nog gemeentes oor wees as ons uiteindelik weer vrylik kan byeenkom? Daar móét maniere bedink word waar gelowiges mekaar weer gereeld kan sien en ervaar. Haakdoorn probeer, en hulle verdien ons gelukwensinge.