Boer oor kospakkieprojek: ‘Dis ’n opdrag van God’

“Ek is baie bekommerd. Daar gaan meer mense aan honger­te as aan Covid-19 doodgaan.”

Só sê Rossouw Cillié, groente- en vrugteboer en uitvoerende hoof van Laastedrif Boerdery in Ceres in die Wes-Kaap. Cillié het in die inperkingstyd byna 1 000 kospakkies met groente en vrugte per week aan honger mense voorsien.

Hy is een van duisende Suid-Afrikaanse voedselprodusente, gemeen­skaps­organisasies, kerke en ander ge­loofsorganisasies wat weerloses in die samelewing probeer beskerm teen die onafwendbare ekonomiese swaarkry wat vir talle voorlê.

LEES OOK: ‘The greatest of all is L.O.V.E.’

Behalwe sy betrokkenheid in die breër gemeenskappe waar sy ses plase, wat van die Sandveld aan die Weskus tot onder Matroosberg strek, het Cillié in die grendeltyd met AgriSA hande gevat om die kosboksies met groente en vrugte na die Kaapse Vlakte te versprei.

Cillié sê sy gemeenskapshart het hy by sy ma Irene, wat onlangs oorlede is, geërf. Hy vertel dat sy ’n omgeemens was wat altyd uit haar pad gegaan het om vir mense te gee. Dit is dié leefwyse van gee wat hulle by haar oorgeneem het. Cillié sê sy ma het ook geglo dat ’n mens nooit met iets mag mors nie. Rossouw sê ’n draaipunt het vir hom gekom toe hy besef het hoeveel van die voedsel wat op sy plase geproduseer word, steeds verlore gaan. “Daar is groente en vrugte wat die klant of die supermark nie wil hê nie, maar wat steeds hoëgehalte produkte is.” Dit is juis dié beginsel om waarde tot kos toe te voeg wat hulle met die verspreiding van die kos­pakkies implementeer, sê hy.

Cillié vertel hoe baie hy van waardetoevoeging tot kos by die werksmense leer. Hy gebruik die broccolikop as ’n voorbeeld: “Ons is geneig om die blare van die broccoli weg te gooi. Ek vra toe vir my werksmense om ’n boksie groente op te maak wat hulle onder andere vir sop kan gebruik. Tot my verbasing sit van die vroue, wat in een van die pak­huise werk, die blare van die broccoli in die boks van bruikbare produkte. Ek was verbaas. Ons is gewoond om net die broccolikop te gebruik, maar daar voeg die vroue waarde tot die blare wat ons sou weggooi. Ek wil net beklemtoon dat die produk wat ons vir mense verpak goeie gehalte is. Ek vat altyd eers die verpakte produk huis toe voor ons dit uitstuur. Ek moet dit ook kan eet. Dit is nie asof ons vir die mense gemors­kos gee nie,” benadruk Cillié.

Hy sê dat hulle baie dankbaar is om die fasiliteite te hê om die voorsiening, verpakking en die vervoer van die kos­pakkies moontlik te maak.

Cillié se geloof speel ’n fundamentele rol in sy boerdery en die noodsaak in sy hart om vir ander te gee. “Ek is ’n gelo­wige en ek is ’n produk van my Skepper. Ek glo dat Hy elkeen van ons toegerus het om ons deel te doen. As geleenthede soos dié krisistyd oor ’n mens se pad kom, moet jy nie sê dit is te veel moeite nie,” sê hy. Cillié sê die kosboksieprojek is ’n opdrag van God. Hy weet die dryf van hierdie projek is wat hy nou moet doen. Hy erken dat hy moeg is en soms voel asof hy nie meer energie het nie, maar God gee vir hom die krag om te doen wat hy moet doen om te help.

Cillié sê hulle het al onder kritiek deur­geloop omdat hulle net op sekere plekke help. Maar hy sê hulle het besluit om liewer êrens ’n klein vaalkol van hulp te maak as wat hulle nêrens ’n verskil maak nie. Hy is baie bekommerd oor die nood in Suid-Afrika: “Die nood is werklik groot. Veral na die stedelike gebiede toe. Ek dink die nood is baie groter as wat ons besef. Almal praat daaroor, maar voor jy nie begin betrokke raak nie, besef jy nie hoe groot die nood werklik is nie,” sê Cillié.