Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Dikwels wanneer ek iemand langs die langpad sien, dink ek aan ’n rubriek van die bekende ds IL de Villiers wat ek jare gelede in ’n tydskrif of ȇrens gelees het," vertel Dana Snyman hieronder. "In die rubriek vertel De Villiers hoe hy, wanneer hy by ’n ryloper verbyry, altyd wonder of dit nie dalk Jesus was wat daar gestaan het nie. Dit was seker ook maar net ’n ander manier van De Villiers om te sȇ hy voel skuldig om by party mense verby te ry."

‘The greatest of all is L.O.V.E.’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dit is nie ’n storie dié nie.

Saterdagoggend ry ek met die N7 anderkant Vanrhynsdorp, Namakwaland in. Heel wettig ry ek, met ’n permit wat verklaar ek is van die media, ’n essensiële werker. Verby die afdraai na Moedverloor en Nuwerus. 30 Mei 2020.

Die bakkie se radio is ingeskakel op RSG en oor die nuus is berigte van nog Covid-19-sterftes in die Kaap, ’n drankwinkel in Soweto wat geplunder is en rassehaat in Amerika.

En toe, duskant Bitterfontein, is die man daar. Regs van die pad kom hy aangestap.

Hoe vinnig het dinge nie verander nie: Ek merk dadelik hy dra nie ’n masker nie. Op sy regterskouer het hy ’n bondel goed, en in sy linkerhand is twee inkopiesakke.

Dalk is dit ’n soort skuldgevoel wat my knaend by mense langs die pad laat stilhou, al help ek nooit juis veel nie. Dikwels wanneer ek iemand langs die langpad sien, dink ek aan ’n rubriek van die bekende ds IL de Villiers wat ek jare gelede in ’n tydskrif of ȇrens gelees het. In die rubriek vertel De Villiers hoe hy, wanneer hy by ’n ryloper verbyry, altyd wonder of dit nie dalk Jesus was wat daar gestaan het nie. Dit was seker ook maar net ’n ander manier van De Villiers om te sȇ hy voel skuldig om by party mense verby te ry.

Hierdie kêrel, Saterdagoggend, was een van dié wat nie ryloop nie. Hy het net gestap, asof hy nie regtig iewers spesifiek heen op pad was nie. Boonop nog in hierdie tyd waarin daar allerhande beperkings op jou beweging geplaas is.

 

Hierdie manne wat so dwaal langs die land se paaie – jy kry sulkes – is dikwels nie baie spraaksaam nie. Maar die een van Saterdagoggend het maklik gepraat.

Sydney, het hy gesȇ, is sy naam, en toe het hy sy van vir my gespel: “Noqhewa.”

Sydney Noqhewa. Hy is 48 jaar oud en kom oorspronlik van Alice in die Oos-Kaap. In 1998 het hy op ’n taxi geklim met ’n soetkys vol klere en drome en Wes-Kaap toe gekom. Eers het hy by ’n familielid in die Kaap gewoon. Later het hy vir hom ’n sinkhut staangemaak in Nomzamo naby die Strand.

Dit het hierdie Sydney in ’n kort tydjie vir my vertel terwyl ons daar langs die stil N7 duskant Bitterfontein gestaan het. Dit is ’n storie wat ’n mens al soveel keer gelees of gehoor het: Hoe daar nie vir iemand, ’n man of ’n vrou, werk in die landelike gebiede is nie, en hoe hy of sy of hulle stad toe trek op soek na werk en ’n beter lewe. Die storie van duisende, miljoene mense.

Sydney praat Engels en gebruik kort-kort die frase: “To be honest with you.”

“I went to Upington two years ago,” het hy byvoorbeeld vertel, “but to be honest with you I first wanted to go to Springbok.” En dan weer: “I had my own schack in Nomzamo, but to be honest with you it burned down.”

As iemand te veel kere in ’n kort tydjie vir jou vertel hy is eerlik, is dit nooit vir my ’n goeie teken nie. Dit is amper soos ’n makelaar wat ’n Bybelvers pleks van ’n foto op sy WhatsApp-profiel het of ’n Bybel wat op ’n motorwerktuigkundige se tafel lȇ.

In die Kaap het hy allerhande los werkies gedoen om geld te verdien: verfwerk, tuinwerk … Sydney was een van die ouens wat jy bedags op ’n straathoek sal sien sit, bereid om min of meer enigiets vir kontant te doen. Die storie van duisende.

Maar nadat sy sinkhut afgebrand het, soos in plekke soos Nomzamo gebeur, het hy die langpad gevat, te voet, op soek na nuwe geleenthede. Eers na Springbok, toe na Upington.

Op Upington het hy geld verdien deur blikkies en ander stukke metaal langs die pad op te tel en aan ’n skrootysterplek te verkoop. Snags het hy meestal in die veld geslaap.

Lees ook: Ons, gemeenskap van onheilige heiliges

“But I’m on my way to Vredendal now. To be honest, I believe there is something for me.” Wat daardie iets is wat op Vredendal vir hom wag, weet hy nie. Hy ken niemand op Vredendal en was nog nooit voorheen daar nie. “But to be honest with you, God is good to me.” En hy is nie bang vir die virus nie.

Dit is ’n anderster gevoel om op die sonverbrande vlaktes duskant Bitterfontein te gesels met ’n werklose man, wie se aardse besittings bestaan uit ’n bondel gekreukelde klere en nie veel meer as ’n tandeborsel en ’n buisie tandepasta nie – en daardie man sȇ vir jou: “God is good to me.” Kort daarna vra hy of hy vir my ’n gedig kan opsȇ. En die volgende oomblik dra hierdie Sydney Noqhewa vir my 1 Korintiërs 13 voor – die hele een, en teen die einde spel hy die woord “love” uit, byna soos ’n kind in ’n praatkoor op skool. “L.O.V.E.”

Daarna sȇ hy ook Johannes 3 vers 16 vir my op: “So lief het God die wȇreld gehad …”

Ek het my kamera in die bakkie gaan haal en hom gevra om dit weer te doen. In my beursie was nie veel om vir hom te gee nie. Ek was haastig, en reeds laat vir ’n afspraak met ’n oom op ’n plaas naby Garies.

Die volgende oggend op pad terug, weer met die N7, het ek die hele tyd uitgekyk vir Sydney Noqhewa. Hy was nȇrens nie.

Net voor ek Saterdagoggend by hom weg is, het hy vir my gevra watse werk ek doen.

“I’m a writer,” het ek geantwoord.

“Just remember,” het hy gesȇ. “What I told you is not a story.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

9 thoughts on “‘The greatest of all is L.O.V.E.’”

  1. Muller Oosthuizen

    Sjoe, ja – geen lewe is ‘n storie nie en baie min lewens is mooi. But God is good.

  2. Willie Viljoen

    What a story of a thankfull man no matter his circumstances. Well put Dana as only you can

  3. Mariette Oberholzer

    Wat ‘n groot getuienis het hierdie man nie! Hy het niks, maar hy het alles!

    God is good . Gestroop van die wêreldse besittings, is LOVE en sy Joh3:16 getuienis vir hom redding. Hierdie man is ryk aan hemelse skatte.

    Dana… jy het ‘n besonderse ontmoeting gehad.

  4. Ek hou van jou “stories” want dit het altyd soveel sprekende waarhede oor al ons mense in Suid Afrika. Dankie, jy leer ons.

  5. Vanoggend geluister na “leef in dankbaarheid” wat n wonderlike voorbeeld is hierdie man nie. Dankie Dana.

  6. dana snyman

    Baie dankie, julle… Muller, Andre, Willie en Hugo… Ek waardeer wat julle se… Als genade. Als genade.

Comments are closed.

Scroll to Top