Ons, gemeenskap van onheilige heiliges

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Miskien is dit ’n verdrietige belydenis om te maak, maar dink ek aan al die kerkdienste wat ek in my jong dae as predikantskind bygewoon het, dink ek nie juis aan Pa se preke nie. Ek dink aan dit wat voor en ná die diens gebeur het.

Hoe oom Hansie, die koster, se vaalbruin Toyota Corona-bakkietjie altyd eerste op ’n Sondagoggend voor die kerk stilgehou het, regs van die groot, ou denneboom oorkant die straat. Hoe oom Hansie uit die bakkie klim en met sy baadjie oor sy arm, sy kuif blink van die Vitalis-haarolie, die konsistoriedeur eerste oopsluit.

Hoe die ander rygoed daarna by die kerk aankom. Oom Stoffel se Ford F100-bakkie, met hom en tannie Klein­tjie voorin, en een van die plaaswerkers se seuntjie agterop om die agt hekke tussen Volstruispan en die dorp oop te maak. Jurgie, die poskantoorklerk, se Anglia, met die lang lugdraad, met ’n Outspan-lemoentjie van plastiek bo-op.

Elkeen het elke Sondag op presies dieselfde plek stilgehou. Oom Willie het sy groen Chev Kommando links van die denneboom voor die kerk geparkeer, en hy het eers ’n sigaret langs die Kommando staan en rook terwyl tannie Mercia en Klein-Willie en sy twee sussies in die motor bly sit het. Oom Bontie het nooit soos die ander sy Holden neus-eerste geparkeer nie. Hy het die Holden in trurat tussen oom Willie se Kommando en juffrou Smit se Datsun SSS ingetrek, asof hy vinnig ná die diens iewers heen wou ontsnap. Tannie Hester Muntingh het reg voor die hekkie gestop in haar Ford Escourt. Sy het as kind polio gehad en het met een kruk oor die weg gekom. Dit was die kortste pad vir haar tot in die kerk.

Lees ook: Egpaar al vir weke in woonstel in Viëtnam 

Dit is opmerklik: Mense gesels voor ’n kerkdiens nooit juis veel met mekaar nie. Dit is asof jy by ’n stil plek in jouself ingaan wanneer jy kerk toe gaan. Jy sal iemand dalk gedemp groet, vinnig iets fluister, en dan by die trappies opstap.

Ma het geglo ons moet minstens tien minute voor die diens al in die pastoriebank voor in die kerk sit. In die meeste kerke – dit is duidelik aangedui met ’n bordjie – is daar nie meer ’n pastoriebank nie. Eintlik was die pastoriebank onnodig as ek nou daaraan dink, want elkeen het op ’n Sondag op presies dieselfde plek gesit. Die gemeenskap van die heiliges.

Pa het dit ook geweet, want as daar iemand vreemd die dag in die kerk was, het hy dit dadelik van die preekstoel af gemerk, en gesê: “Ek sien ons het besoekers saam met ons hier vanmôre. Ons sê baie welkom aan hulle.”

Die manier waarop iemand ’n kerkgebou betree, sê nogal iets van daardie een en hoe dit in daardie een se huis gaan.

Tannie Lettie het gewoonlik ’n hele paar tree voor oom Toors die kerk ingestap: Regop, haastige tannie Lettie, met oom Toors krom agterna, een van die Prediker se sprinkane wat homself moeisaam voortsleep tot in die derde bank van voor af. Die mense het gesê oom Toors ly aan sy senuwees en wil sommige dae nie uit die kamer kom nie.

Oom Stoffel het voor tannie Kleintjie in die paadjie afgestap en by die bank gaan staan waar hulle twee bont kussings, elk met ’n gehekelde oortreksel, gewag het. Oom Stoffel het gewag dat tannie Kleintjie eerste by die bank inskuif, en wanneer tannie Kleintjie gaan sit het, het die bank gekraak. Dis nie van eet dat tannie Kleintjie so groot is nie, iets is fout met haar kliere, het die mense gesê.

Lees ook: Jou skuif, dominee!

Party het hulle kussings in die kerk gelos, soos oom Stoffel en tannie Kleintjie, maar oom Patrys het elke Sondag sy groen kussinkie saamgebring. Hy het die kussinkie jare tevore op Ellispark gekoop toe die Springbokke teen die Leeus gespeel het, en met die tyd het hy die springende springbok daarop al dof gesit.

Baie van die vrouens – ook Ma – het net voor die begin van die diens ’n pak­kie sen-sen of Mint Impereals uit die handsak gehaal, enetjie op die handpalm uitgeskud, en dit so ongesiens as moontlik in die mond geglip, asof hulle wil sekermaak die asem ruik goed in die huis van die Here.

Ná die diens het almal mekaar gul en vrolik buite die kerk omhels en gegroet, en Ma het al wat leef en beef oorgenooi vir koffie of tee langsaan in die pastorie.

Dit was asof elkeen van ons elke Sondag ’n klein hergeboorte beleef het. Pa het ons van die preekstoel af tot in die hel verdoem, maar teen die einde van die preek weer daaruit gehelp met die belofte van God se ewigdurende liefde. Tot die volgende Sondag.

Natuurlik gaan dit lankal nie meer so by ’n kerk nie, maar wie is dit wat gesê het: “Gee my ’n kind tot op die ouderdom van sewe, en ek wys jou die man wat hy sal word”?

In my sal ek altyd daardie seuntjie wees wat op ’n Sondagoggend saam met Ma by die pastoriebank inskuif. Natuurlik was hulle nie regtig heiliges daardie mense nie: Oom Bontie se Holden het soms tot laataand agter die hotel gestaan, en tannie Lettie het ’n slag vir drie maande weggeloop stad toe, en daardie seuntjie agterop oom Sarel se F100-bakkie was nie in die kerk welkom nie. ’n Mens sou eerder kon praat van ’n gemeenskap van onheilige heiliges. Ons.

Dit is aan hulle, hierdie onheilige heiliges, waarna ek Sondagoggend verlang het toe ek in my stil huis stil voor die rekenaar gaan sit het, alleen met ’n beker koffie, en op YouTube begin soek het na ’n kerkdiens om by te woon.

16 thoughts on “Ons, gemeenskap van onheilige heiliges

  1. Sarel Strydom says:

    Dankie Dana so tipies van ons groot word jare

  2. Tjaart Meyer says:

    Skitterend Dana! Dankie – jy het my laat lag, laat huil en weer laat dink!

  3. Stef Bothma says:

    Dankie Dana, ja-nee, dis hoekom ek maar spoedig die lees van die Wet en die lied van verootmoediging gelos het uit die liturgie …. wou eerder boodskap van hoop as elke Sondag se oordeel bring. Groete. Stef Bothma

  4. Hantie (neé de Klerk) says:

    Sowaar. Onthou daai jare goed. Ook pastorie-bank kinders gewees. Ses van ons. Ma het orrel gespeel. Ouboet moes orde handhaaf. Die een tannie toe daar so oor rugby wat sos ‘n afgodsdiens geword het,
    gebid : “Dankie Here dat ek nog nooit in my lewe football gespeel het nie.”

  5. Marina van Zyl says:

    Dankie Dana…….. Die van Zyl’s van Mton het ook hulle plek! Kom nie reg op geen ander plek nie….!

    En is dit vreemd as iemand nuut naby jou sit…… Voel of jy kort kort moet seker maak jy is in die regte kerk!

    Wonderlik geskryf……..
    Piet wens net hy kon tussen die ou voertuie beweeg……. Asof dit vandag is!

    Baie liefde

  6. Willie Pienaar says:

    Absoluut in die kol.

  7. John says:

    Mense het nie veel verander van daardie tyd nie, behalwe dat kerke baie leeg is en in die platteland net ou mense die ere dienste bywoon.

  8. Johan van den Heever says:

    Danie Dana. Daar in Ritchie in die Norrd Kaap se klein kerkie het ek ook hierdie groepe gehad. Na al die jare onthou ek die meer hulle name maar wel hulle optredes soos deur jou beskryf

  9. Leny Blokland says:

    Ek het in ‘n ander land groot geword maar het so dieselfde ervaar. Dankie Dana, so goed geskryf, vooral die sin van: my Pa het ons af in die hel verdoem en aan die einde van die preek ons weer daaruit gehelp deur Christus sy ewig durende liefde! Pragtig!

  10. Phia Redman says:

    Uitmuntend uitgebeeld, die ou susterskerke wat jou altyd met n skuldgevoel gelaat het, so asof jy skelm gedans het gisteraand. Maar ook die saamwees as familie in een bank op jou plek met pa in die diakenbank.

  11. Suna says:

    So goed gestel.. moes smile.. “Pa het ons van die preekstoel af tot in die hel verdoem, maar teen die einde van die preek weer daaruit gehelp met die belofte van God se ewigdurende liefde. Tot die volgende Sondag.”

    Laat my dink aan kinderdae by Hopefield se moederkerk.

  12. Trusie Scheepers says:

    So waar. Dis nog hoe ek dit onthou, alhoewel ek moet erken dat ek ook my spesiale plekkie in die kerk het. Voor my sit die Verkeershoof en agter my die Brandweerstasie se hoof. Ek noem dit die 911 hoekie.
    Geniet jou stories baie.

  13. Ria Jacobs says:

    Dankie Dana! Jy het nou weer baie herinneringe na vore gebring.

  14. M. Oosthuizen says:

    Dana jy het n skitterende manier om n situasie te beskryf. Ek en my familie het ook eenmaal gevlug van n gemeen te waar die dominee die gemeen te met n sweep die hemelpoorte wou in jaag.

  15. Lindy Pretorius says:

    So waar Dana – seker maar die ding dat ons nie meer wil Kerk toe nie? Want vir my is “die Kerk” ons “mense” en nie die gebou nie! Baie dankie vir jou- soos altyd só goed geskryf!

  16. ANDRE JACOBS says:

    Ja, dit laat my ook terugdink aan my kinderjare in Jamestown in die Oos-Kaap. Altyd styf teen ma ingekruip en na die dakplate gestaar. Twee van hulle was agterstevoor…dit het my gefasineer.Die preek was nie regtig van belang nie…die tel van die dakplate was my kos.Het eers baie later in my lewe begin luister wat die predikant sê.
    Ons moes kerk toe stap..nes dit reën is die kar uitgetrek..reën, wind, hael…enigiets dodeliks het nie die Jacobse uit ‘n Sondagdiens gehou nie!!

Comments are closed.