Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Anton Schoonees

17 Oktober 1932 – 13 Februarie 2019


Ds Lukas Antonie Schoonees is op 17 Oktober 1932 gebore te Theunissen in die Oranje-Vrystaat. Sy vader was Stefanus Esias Schoonees, ’n onderwyser wat 36 jaar lank Afrikaans en Duits gegee het in Theunissen. Sy moeder, Maria Johanna Petronella Baard, was ook ’n onderwyseres. Sy broer ds Fanie Schoonees skryf: “Anton was die stil een in die huis. Hy was meestal altyd met sy neus in ’n boek, ’n regte boekwurm. Hy was die oudste van ons vier kinders en daar het van hom ’n invloed en voorbeeld uitgestraal, ’n sagte aanmoediging uitgegaan. Nooit het daar ooit ’n lelike of vloekwoord of onvanpaste grap van hom gekom nie.”

Anton begin sy skoolopleiding in 1939 aan die Laerskool Theunissen en word in 1947 leerling aan die Hoërskool Theunissen, waar hy in 1950 matrikuleer. In 1951 is betrokke by die Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte te Pretoria, waar hy die innerlike roe­ping ontvang om predikant te word. In 1951 vertrek hy en sy jonger broer Johan na die Universiteit van Pretoria, waar hulle ’n kamer deel. Nadat hy die BA-graad aan Tukkies verwerf, vertrek Anton na Stellenbosch, waar hy in 1955 student word aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Hy word aan die einde van 1958 as proponent gelegitimeer. Hy ontmoet op Stellenbosch vir mej Helene Geldenhuys, met wie hy op 20 Februarie 1958 getroud is op Hermanus. Tydens hulle bediening in vyf gemeentes, het sy haar man met liefde en deernis bygestaan. Uit hulle huwelik is twee kinders gebore.

Prop Anton Schoonees vertrek in 1959 na die NG Gemeente Walvisbaai, waar hy drie maande lank afloswerk doen saam met ds Thys Burger. Toe ds Thys ’n beroep na Jacobsdal in die Vrystaat aanvaar, word prop Anton in sy plek na Walvisbaai beroep en op 11 April 1959 bevestig. Op 6 Mei 1961 loop sy pad na die NG Gemeente Kalkrand, wat pas afgestig het van die NG Gemeente Mariental. Ds Anton en sy vrou woon aanvanklik in die kerksaal. Hy skryf: “Mettertyd is daar ’n baie gerieflike pastorie gebou, met ’n groot binneplaas waar daar gedurig rye en rye biltong gehang het. Op Kalkrand word ons gesin uitgebrei met ’n seuntjie, Stefano, en ’n dogtertjie, Petra. Interessant genoeg, ontvang ek in die vier jaar ses beroepe, onder andere na Usakos, Swakopmund, Mariental, Maltahöhe, die Strand in die Kaap en Goodwood. Na vier fantastiese jare, verhuis ons na die NG Gemeente Goodwood in die Kaapse Skiereiland op 14 April 1965 en my medeleraar was die geliefde ds JS Kloppers.”

Op 13 Julie 1970 word hy bevestig as leraar van die NG Moedergemeente Upington, met ds Frans Stassen as medeleraar. Na sy vertrek na Pretoria, word dr Jurgens Hendriks beroep, ’n neef van ds Anton Schoonees. Die twee werk heerlik saam en ds Anton het gedink hy gaan op Upington bly tot hy aftree. Maar ’n beroep kom na die NG Gemeente Caledon in die Overberg, waar hy op 5 Oktober 1975 bevestig word.

Oor sy beroep daarheen skryf ds Anton later: “Nadat ons so ’n week of twee op Caledon geland het, kom ’n diaken na my en sê dat hy vir my wil vertel hoe dit gebeur het dat ek na Caledon beroep is. Ek gee hier ’n kort weergawe van hom aan my: Dominees, jy weet mos hoe dit gaan as kerkraadslede ’n beroep moet uitbring. Die manne staan buite die kerk rond en koukus en maak propaganda vir sekere predikante. Ek het by hulle verbygeloop en alleen in die kerkbanke gaan sit met die Kerkjaarboek in my hand. Met my vinger het ek so al langs die ry name afbeweeg. Toe ek by die naam kom van ds LA Schoonees, Upington, het my vinger net daar vasgesteek. Ek besluit toe om die naam op die nominasielys te skryf, sonder om enige iemand daarvan te sê. Ons moes vier keer stem en op die ou einde is jy toe beroep. Toe ds Hannes van der Merwe sê wie die meeste stemme gekry het, toe spring daar twee of drie manne op en sê: Wie het hierdie predikant genomineer? Ons weet niks van hom nie. Sal die persoon vir ons meer inligting gee? Ek het doodstil bly sit en was sprakeloos oor wat so pas gebeur het. Maar ek het geweet dit kan net toegeskryf word aan die werk van die Heilige Gees. Die hele gebeurtenis was vir my ’n groot geloofsversterking.”

Hier werk ds Anton Schoonees met groot oorgawe en ’n besondere band word met die boere gesmee. Na ’n onsuksesvolle operasie in Kaapstad, is hy verplig om op 29 Julie 1990 ver­vroegde emeritaat te aanvaar. Sy broer ds Fanie Schoonees skryf: “In 1990 doen hy ná ’n operasie ’n gehoorprobleem en balansdefek op wat hom noodsaak om uit die bediening te tree. Dit was vir hom ’n groot slag, maar hy het sy las met groot geduld gedra. Hy het sy brood met eenvoud en geduld geëet.”

Die egpaar verhuis na Kaapstad waar hulle ’n huis betrek in “De Waterkant”, naby Adderleystraat met ’n pragtige uitsig en Tafelberg in die agtergrond. Hier beleef die egpaar ’n geseënde aftrede, tot met sy heengaan op 13 Februarie 2019. Ds Fanie Schoonees skryf: “Twee weke voor Anton se heengaan het ek hom in die hospitaal besoek. Ek het hom pastoraal bemoedig uit Johannes 10 vers 28: ‘Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.’ Anton het, te midde van sy asemnood met ’n helder stem gesê: ‘Ja, ek glo dit met my hele hart.’” Na sy dood vind ’n treffende begrafnisdiens in die NG Gemeente Tafelberg plaas, ’n laaste groet aan ’n besondere dienskneg in die Koning se diens.


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top