Oop deure – wat Openbaring ons oor die kerk se lewe en roeping leer deur Coenie Burger
Uitgewer: CLF, 2020
Dit is menslik om in hierdie vreemde en onseker tye vrae te hê, te twyfel en soms met God te worstel. Ons vra ook vrae oor die rol van die kerk in krisistye. Coenie Burger se nuwe boek is juis relevant in die onsekere tye wat pandemies bring. Hierdie boek is meer as net ’n uitleg van die boek Openbaring. Verskeie temas word bespreek, soos ekologiese rampe, toenemende konflik, morele kwessies, asook die onseker tye van pandemies.
Die skrywer bring ’n nuwe perspektief aan die leser – soos gesien deur die lens van ’n missionale denker. Hierdie lens skep geleenthede vir leraars en kerkleiers om te besin oor die kerk se roeping en identiteit in moeilike en uitdagende tye. Die NG Kerk poog om meer en meer missionaal te wees. Dit skep ’n geleentheid om meer kreatief en prakties te begin dink oor kerkwees. Kerke dink oor hoe hulle in onseker tye hulle deure kan oopmaak, wat lei na missionale transformasie. Sodra omstandighede dramaties verander, is ons as kerk geneig om energie te verloor. Dit is juis in hierdie tye dat ons vergeet van diegene buite gemeentes. Openbaring herinner ons daaraan om die missionale werk voort te sit. Die swaarkry en onsekerheid waarin ons gedompel is as gevolg van die globale korona-pandemie, wys dat swaarkry deel van die lewe is.
Die boek Openbaring is bekend daarvoor dat dit ontoeganklik en ingewikkeld is, maar ’n beter verstaan daarvan getuig dat ons in moeilike tye meer geleenthede het vir getuienis en diens. Burger skryf: “Ons kan meer doen as wat ons dink – as ons ons oog gevestig hou op Christus en bly luister na die Gees.” Mag ons vasklou aan hierdie woorde om ons kerk se deure oop te maak, juis in krisistye.
▶ Karlie Liebenberg doen tans haar praktiese gemeentejaar by die NG gemeente Franschhoek.
- Kyk gerus ook na ’n gesprek oor Oop deure tussen Coenie Burger, Gideon van der Watt en Frederick Marais.