26 Februarie 1931 – 9 September 2019
George Madder Steyn is gebore op 26 Februarie 1931 in ’n klein sinkdakhuisie op die plaas Rietvlei, agt kilometer van Swartruggens in die Wes-Transvaal. Sy vader was Coenraad Christoffel Steyn, ’n onderwyser vir wie die onderwysberoep ’n roeping en ’n lewenstaak was. Sy moeder is Grace Cathrine Ingram, ’n moeder wat omgegee het vir haar gesin. Madder se oupa Herman Steyn was ’n man van min woorde en sterk oortuigings, wat ’n sterk invloed gehad het op die jong Madder.
Oupa Herman het in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) geveg en is as krygsgevangene weggevoer na Ceylon en het geweier om die eed van getrouheid aan Engeland te teken. Sy plaas Melkkraal in die distrik Smithfield, is aan ’n joiner gegee, waarna hy in die dorp gaan werk het. Soos baie van sy tydgenote, kon hy die Engelse nie verdra weens die Anglo-Boereoorlog nie. Toe die dominee tydens huisbesoek met hom daaroor praat, was sy antwoord dat toe die Bybel geskryf is, daar toe nog nie Engelse was nie. Oupa Herman het so ’n gevoel teen die Engelse gehad, dat hy in Madder se standerd sewe jaar, aan hom ’n halfkroon beloof het as hy sy Engelse vraestel op skool dop.
Madder begin sy skoolopleiding in 1938 aan die Laerskool Swartruggens en matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Rodeon op Swartruggens. Hy word in die geskiedkundige Klipkerk op Swartruggens gedoop deur die legendariese ds Jan Roos, oor wie ds Madder later skryf met die gemeente se eeufees in 2011. Toe Madder dertien jaar oud was en ’n CSV-kamp in die Heidelbergkloof naby Heidelberg (Tvl) bygewoon het, gee hy sy hart vir die Here. Madder wou graag landmeter word, maar die roeping om predikant te word, het al hoe sterker aan sy menswees geklop. In die tyd is hy geestelik ondersteun deur ds Kootie du Toit, vroeër sy leraar op Swartruggens en nou in Pretoria. Intussen doen die jongman uitstekende mensekennis op en werk in die staatsdiens en later by Sanlam.
In 1951 begin Madder met sy BA-studie en studeer dit buitemuurs, waarna hy in 1953 die BA-graad verwerf met Grieks en Hebreeus wat hom toegang gee tot die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria. Eie aan Madder se aard, is hy baie aktief in die studentelewe en dien hy op die studenteraad van die UP. Madder is ook betrokke by die studentekoerant Die Perdeby en UP se jaarblad Trek. Aan die einde van 1957 word prop GM Steyn gelegitimeer, waarna hy met ’n Abe Bailey-beurs op ’n kort besoek is na universiteite in Engeland. In die vreemde kom sluit sy geliefde verloofde mej Maretha Bosman by hom in Londen aan, waar hulle op 29 Januarie 1958 in die huwelik bevestig word deur ’n Nederlandse teoloog wat ’n Afrikaanse huweliksformulier gebruik het. Hier in die vreemde ontvang hy ’n beroep na die NG Gemeente Waterval-Boven, ’n spoorwegdorp in die Oos-Transvaalse Hoëveld. Uit hulle huwelik is twee seuns gebore, Christo en Dolf.
Prop Madder Steyn word op 14 April 1958 met handoplegging in die NG Gemeente Waterval-Boven ontvang en bevestig, terwyl prof AB du Toit van Pretoria die bevestigingsrede lewer. Hier volg ’n besondere tyd van eerstes in die bediening, waar die jong ds Madder en Mariet Steyn met oorgawe in die dorp werk waar ’n mens destyds dag en nag die geluid van ’n lokomotief gehoor het. Aan die einde van 1960 word ds Madder Steyn bevestig as leraar van die NG Gemeente Belfast, ’n koue dorp met ’n warm hart in die Transvaalse platteland. In sy dienstyd word die historiese NG kerkgebou gerestoureer, ’n pragtige baken in die plat wêreld. In dié tyd was daar ’n stryd tussen die Natte en die Sappe, wat die leraars goed hanteer. Ds MHO Kloppers, die medeleraar, is ’n vredemaker by formaat, wat later professor in Ou Testament word aan die Teologiese Fakulteit van die UOVS in Bloemfontein.
In die herfs van 1964 word ds Madder Steyn beroep as studenteleraar van die NG Gemeente Universiteitsoord in Pretoria. Hy wou aanvanklik bedank, maar na ’n broederlike gesprek met dr Frans O’Brien Geldenhuys aanvaar hy die beroep. Sy spanmaats tydens sy bediening in Pretoria was aanvanklik ds Kobus Potgieter en dr Frans O’Brien Geldenhuys, terwyl dr Andrie du Toit en ds Maans Steyn later bygekom het, gewaardeerde kollegas met wie hy wonderlik kon saamwerk. ’n Nuwe uitdaging kom toe ds Madder Steyn op 27 Mei 1972 leraar word van die NG Gemeente Aucklandpark in Johannesburg. In hierdie stadsgemeente beleef ds Madder en Mariet Steyn wonderlike jare, toe die gemeente dramaties vergroot met die Goudstadse Onderwyskollege en die Randse Afrikaanse Universiteit. Dit was die begin van televisie in Suid-Afrika, die Soweto-onluste en die Angolese Grensoorlog (1976-1989), waar ds Madder Steyn op versoek van sy kerkraad as vrywillige kapelaan van tyd tot tyd diens gedoen het.
In 1981 word ds Madder Steyn leraar van die NG Gemeente Wilgespruit by Roodekrans, ’n gebied wat ’n groeipunt word en binne jare ontwikkel tot ’n makrogemeente. Met die wyse ds Madder Steyn as deel van die leraarspan, word nuwe geestelike paaie na mense se harte gevind. Op 1 April 1982 kom ’n draai op sy bedieningspad toe ds Madder Steyn organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika word in die Sinodale gebied van Oos- en Suid-Transvaal. Die egpaar koop ’n eie huis in Edleen te Kemptonpark, waar hulle woon tot na sy aftrede en op wye akkers saai. Na sy aftrede help hy in verskeie gemeentes, iemand met ’n groot gees wat ander mense steeds aanraak.
Met die wenteling van die eeu verhuis ds Madder en Mariet Steyn na Pretoria, waar hy steeds op sy eie manier op wye akkers saai. In 2003 help hy ’n paar maande lank in die gemeente Masvingo in Zimbabwe uit, waar hy beleef hoe swaar die mense kry en mense met moed en krag bemagtig om voort te beur. Mettertyd verhuis die egpaar na ’n aftreeoord in die hart van Pretoria. Ds Madder skryf ’n outobiografie van sy lewe en die boek Madder Steyn: Genadejare is ’n kosbare geskenk aan die NG Kerk wat die lewensbeeld van hierdie besondere man van God beskryf.
Hy sterf op 9 September 2019 na ’n kort siekbed en tydens ’n dankdiens word sy toewyding as man van God wat die genadepad geloop het, in herinnering geroep. “Ds Madder Steyn het ook my lewe aangeraak. Jy ken hom waarskynlik, hierdie begenadigde mens wie se voetspore dwarsdeur ons land, ons buurstate en Europa lê. Waar sy hand geraak het, en waar sy stem geval het, het net liefde en begrip geval”.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2020 verskyn.