Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Geldsake: Hierdie ‘padkaart’ wys ook slaggate

God en geld – Bybelse beginsels vir finansiële vryheid deur Wilco Naumann
Uitgewer: WN Uitgewers, 2019


God en geld is ’n boek wat elke Christen wil help om finansieel gesond te wees. Werklike finansiële gesondheid word gemeet aan God se standaarde, nie die wêreld se stan­daarde nie. Dit vra ook of jou denke oor geld gesond is.

In hierdie boek, wat Wilco Naumann self gepubliseer het, het ek veral drie dinge waardevol gevind:

Die eerste is die waarde wat daar is in iemand wat sy eie storie vertel. Wilco Naumann het ’n pad met geld geloop wat vir baie mense bekend is. Nie almal is egter so eerlik soos hy oor wat geld aan jou kan doen nie. Hy het grootgeword met ’n armoedige ingesteldheid en het gevolglik geglo dat hy bedoel is om altyd arm te wees. Toe, op ’n dag by ’n rooi verkeerslig, besef hy dit hoef nie so te wees nie. Daarna word hy binne ’n kort tydjie welvarend. In sy welvaart val hy egter vas in die ander moerasse wat die afgod Mammon daarstel, soos om sy eie waarde aan geld te meet en te koop om mense te beïndruk. Dit was nodig vir hom dat sy besigheid nie uitwerk nie om weer daaruit bevry te word.

Dit is tweedens waardevol dat die boek ons konfronteer met hoe ons regtig oor geld dink. Geld kan ’n houvas kry op mense. Dit beïnvloed ons meer as wat ons besef. Naumann beskryf dit as ’n gees wat in papier toegedraai is. Die boek lys 28 eienskappe van geld en ’n mens kan gaan nadink oor elkeen daarvan. Neem byvoorbeeld net twee: Geld is ’n vergrootglas. Hoe meer ’n mens daarvan kry, hoe meer word jy wat jy reeds is. Suinige mense word meer inhalig en vrygewige mense meer vrygewig. Nog ’n eienskap is dat geld misleidend is. Dit laat jou glo jou geestelike lewe is gesond as jy baie geld het, hoewel dit nie noodwendig die geval is nie.

Derdens bied Naumann praktiese riglyne oor hoe om met geld te werk. Dit sluit in die opstel van ’n begroting, hoe om jou inkomste te vermeerder, jou uitgawes te verminder, tiendes en belasting en beplanning vir aftrede. Dit gee ook tien stappe om van skuld ontslae te raak. Ek dink bykans elke Bybelse riglyn oor hoe om met geld te werk, word êrens in die boek vervat.

Enige iemand wat graag finansieel gesond wil wees en wil toesien dat geld die regte plek in hulle lewe inneem, sal die boek nuttig vind.

▶ Ds Willem Schoeman is predikant by die NG gemeente Alexandria, Oos-Kaap, met ’n BSc graad in Wiskunde en Statistiek.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top