Só kies oud-kapelaan koers

In Christus: Van toeskouer tot spoor­trapper deur Callie Roos
Uitgewer: Jonathan Ball, 2020


Callie Roos skryf in sy boek In Christus: “Die kern van my boodskap in hierdie boek is dat jy nie veronderstel is om te glo in ’n instelling nie, maar in ’n persoon – in Christus.” Roos vertel van sy reis deur die kerk as instelling, asook sy teleurstellings met die kerk. As oud-kapelaan in die Suid-Afrikaanse Weermag en ook ’n oud-operateur van die spesiale magte, met ’n passie vir die natuur en mentorskap, skryf hy van sy soeke en ontdekking van wat dit beteken om “in Christus” te wees.

Ek vind aanklank by baie van die seer oor die kerk, van gebroke verhoudinge tot strukture wat dinge moeilik maak. Roos moes in sy lewe onderskei tussen om te glo in die instelling aan die een kant, of om te glo “in Christus” aan die ander kant. Dit klink asof hy sê dat diegene wat aktief deel is van die kerk, in die kerk glo en nie in Christus nie, of dalk minderwaardig in Christus is. Tog lees ’n mens ook die storie van iemand wat lief is vir Jesus, in sy voetspore daagliks op ’n aktiewe manier volg en juis mense wil aanmoedig om alles te wees wat God hulle ge­roep het om te wees.

Roos is ’n doener. Hy gee telkens punte wat hom en ander kan help om doelgerig te leef. Wanneer ’n mens die boek lees, sien jy die avonturier, die Recce, die spoorsnyer en verstaan jy Roos gaan nooit gemaklik wees tussen die skare nie. Dinge is vir hom duidelik en dit is die enigste spoor wat hy volg. Eg eerlik en aangewese op homself gaan hy op sy gemak wees in die skepping.

Tog, nadat ek die boek neergesit het, was ek hartseer – hartseer dat hy uitmis op die genade en liefde wat te vinde is in dieselfde kerk waar die seer ook ’n werklikheid is. Ek sou graag om die vuur saam met hom wou sit en my ervaring wou deel dat – meer as ooit vantevore – ek bewus is van die genade van behoort aan ’n kerk, veral in tye soos nou, in die Covid-tyd. Meer as ooit vantevore het ek ’n smagting na mede-gelowi­ges wat saam met my “in Christus” is.

Dr Paul Barnard is ’n predikant by Helderberg Gemeente in Somerset-Wes.