Moet jy altyd inpas by die ‘kudde’?

Wat kan ons leer uit die herder wat 99 skape los en die een wat weggeraak het gaan soek? vra MARIUS MAREE.


In sy onlangse studie oor die gelykenisse, Puzzling the parables of Jesus: Methods and interpretation, beklemtoon Ruben Zimmermann, Duitse Nuwe-Testamentikus wat ook al by kongresse in Suid-Afrika opgetree het, die soepelheid (“flexibility”) van metafore. Jesus gebruik baie metafore in sy gelykenisse – saad, suurdeeg, on­kruid, voëls, blomme ensovoorts – om iets van die aard van God se koninkryk te illustreer.

Metafore speel met die verbeelding. Dit daag ons uit om verby die ooglopende te kyk. Metafore rek ons verstaanshorison. Daarom, sê Zimmermann, is daar nie net één korrekte uitleg van ’n gelykenis nie. Verskillende interpretasies is moontlik.

’n Voorbeeld is die gelykenis van die “verlore” skaap in Lukas 15:1-7. Die herder wat die 99 skape los en die een wat weggeraak het gaan soek tot hy hom kry. Zimmermann bespreek drie verskillende interpretasies van dié gelykenis en hy beklemtoon die geldigheid van elk.

  • Teologies-Christologiese interpretasie – God gee om vir verlorenes.

Dit is waarskynlik die mees algemene uitleg van die gelykenis. Om die troos hierin raak te sien. God is die barmhartige Herder wat in Christus gekom het om sondaars te soek en te red. Die klem val hier op God se soekende liefde vir sondaars en die blydskap oor die afge­dwaalde een wat hom bekeer het en terug is by die 99. Hierdie interpretasie klop ook met die res van die gelykenisse in Lukas 15 wat elk handel oor die tema verlore/gevind/vreugde.

  • Etiese interpretasie – gaan soek na die verlorenes.

Dié lees van die gelykenis nooi die leser om met die goeie Herder te identifiseer. Zimmermann gaan hier uitvoerig in op die slegte, onbetroubare herders in veral die Ou Testament wat nie omgegee het vir God se mense nie. Die gelykenis maak dus ’n etiese appél op elke gelowige: Wees, soos God, ’n goeie herder! Gaan soek na hul­le wat wegge­raak het uit die geloofsgemeenskap en bring hulle terug. Reik in liefde uit na hulle wat buite staan. Só word ons navolgers van die liefdevolle Herder. Die meeste van die kommentare wat ek geraadpleeg het, maak ook ruimte vir dié etiese strekking van ons gelykenis.

  • Groep-dinamiese interpretasie – kies om weg te loop!

Zimmermann wys daarop dat die her­der wel die “verlore” skaap soek en vind, maar dat daar geen teken van be­rou of sondebesef by die verdwaalde is nie. Hy keer ook nie op eie inisiatief terug nie. Eksegete soos Animosa Oveja maak die verdere punt dat daar geen inherente samehang tussen vers 7 (blyd­skap oor die bekering) en die “plot” van die gelykenis is nie.

Hierdie uitleg van Lukas 15:1-7 nooi ons – verrassend! – om met die een wat weggeloop het te identifiseer. Die “verlore” een is klaarblyklik ook die be­vryde een. Jy kan kies om te breek met die groep en nuwe ruimtes te verken. Dit is hoegenaamd nie sonde of ongeloof nie. Mis­kien is die “tropding” net nie vir jou nie. Identiteit setel immers nie daarin om te behoort aan die groep nie, maar in wie jy as unieke mens is.

Dit is bevrydend om die gelykenis só te lees. Hierdie interpretasie skep ruimte vir individualiteit, vryheid en jouself wees. Animosa Oveja stel dit so: While trusting in God’s care, going astray can be tested, whether it be in play or in reality.

Tegelyk ondermyn dié uitleg ’n ker­kistiese teologie wat neerbuigend verwys na “kerkverlaters” en “kerkloses”. Dit vra respek vir mense se keuses. En begrip vir die “outsiders”. Om hulle nie as projekte vir die getuieniskommissie te sien nie. God gee ons immers elkeen die ruimte om ons eie pad te loop. Jou reis is nie my reis nie en omgekeerd. Daarom ontdek die een wat weggeloop het nuwe lewensmoontlikhede wat waarskynlik onmoontlik was, sou sy deel van die homogene groep gebly het.

Natuurlik hou onafhanklikheid van die groep risiko’s in. Die veld is ’n gevaarlike plek as jy alleen is. Máár, be­langrik, al is die een sonder die groep, hy is nooit sonder die Herder nie. Die Herder bly op sy spoor, want dit bly sy skaap. En ’n uiteindelike hereniging met die groep? Dit is nie onmoontlik nie.

Dit sal ons loon om baie noukeurig oor hierdie derde interpretasie na te dink. Die kerk bly agterdogtig oor mense wat anders is. Ons praat maklik oor “heidene” en “verlorenes”. Die 99 is eenvoudig nie vir ons genoeg nie. Jy moet inpas, konformeer, die 99 se waardes deel. Jy moet inkoop by die visie en die missie van die gemeente. Die 99 is die vromes, die regverdiges. Die een is die sondaar, die verlorene. Dit is ons en hulle, en hulle het bekering nodig.

Ons vergeet dat die een se keuse om weg te breek nie uit ongeloof of onverskilligheid spruit nie. Dit is eerder ’n keuse om nie langer jou andersheid te ontken nie, maar te omarm.

Alleen, ja – maar nie sonder die Herder nie. Dalk is 99 tog genoeg.

Ds Marius Maree is leraar in Bloemfontein.