Die laaste Kerstablo

’n Skets, gebaseer op ’n ware gebeurtenis.

Klokslag twee-uur op Sondae gedurende die skooltermyn vertrek die sendingwerkersbus van Villieria na Walmansthal, noordoos van Pretoria. Die sendingwerk is ’n inisiatief van die Kerkjeugvereniging (KJV) van die NG Kerk se Ring van Villieria.

Kobus Gerber neem die leiding. Fried Ferreira bestuur die bus en dan is daar die span hoërskoolleerlinge en universiteits- en kollegestudente wat meewerk. Enkele jong werkende mense soos Dries Drost en Elbet Viljoen is ook betrokke.

Wanneer die bus by die trustgebied arriveer laai hy elke vyf- tot seshonderd meter ’n spannetjie van twee tot ses af. Party doen twee-twee huisbesoek en ander trek die kinders bymekaar om Sondagskool te hou. Met die huisbesoek tel die sendingwerkers die frustrasies van die swart bevolking op. Hulle sal binnekort, weens gedwonge verskuiwings, iewers in die Wintersveld, ver noord van Pretoria-Noord, moet her­vestig. Hulle is gefrustreerd oor werkreservering, slegte infrastruktuur en die Bantoe-onderwys waaraan hulle en hulle kinders blootgestel is. Baie is openlik vyandig en vertrou nie die blankes wat Sondae hierheen kom nie.

Dit is die laaste Sondag van die skooljaar van 1971. Vandag word daar nie huisbesoeke gedoen of Sondagskool gehou nie. Vandag gaan al die sendingwerkers ’n Kerstablo aanbied op een sentrale punt. Daarna gaan hulle die kinders verras met koekies en koel­drank.

Die kinders kom van alle rigtings by die konsertpunt aan. Die omgewing vorm daar ’n natuurlike amfiteater. Die weer bou op, soos vir ’n regte laatmiddag staatsdiens-reënbui. As alles vlot verloop sal die bus reeds op pad terug wees, as reën begin uitsak.

’n Mooi getal groter kinders kom aangestap. Hulle bring ook kleingoed saam. Die klein boeties en sussies ry op die heup of is agter op die rug met ’n kombers vasgemaak.

Die sendingspan het regtig moeite gedoen. Hulle kostuums is te pragtig. Die engel se vlerk het so ’n bietjie gebuig op die bus en Josef se kopdoek het by die huis agtergebly. Hy improviseer en, met ’n paar mans se sakdoeke, is sy probleem gou opgelos. Die soldate het lang swaarde van stewige karton. Die lemme is silwer geverf. Die wapens hang in skedes om hulle heupe. Hulle lywe is in lakens gedrapeer. Goue helms, van papierpap, rond hulle uniform af. Die papierpap is nie glad nie en die helms lyk asof hulle deur ’n paar veldslae kom.

Die kinders leef hulle in by die tablo. Die spelers praat en die tolk vertaal. Hy is ’n goeie tolk en vertaal nie bloot die sinne nie. Hy boots ook die intonasie en klem na en as hy hom weer kry maak hy die spelers se bewegings na. Hy word deel van die toneel.

Tot op ’n punt gaan alles klopdisselboom. Die spelers ken hulle woorde, die gehoor se aandag word gehou, die wolke maak oop en die son breek deur. Die engele bring aan die herders die goeie tyding. Die wyse manne kom met hulle geskenke …

Dan verander sake. Herodus se soldate storm, van agter die gehoor, die arena binne. Die soldate trek hulle swaarde. Die son skitter daarop. Met fanfare word aangekondig dat ALLE kinders onder twee jaar doodgemaak moet word.

Pandemonium breek los. Die groter kinders gryp hulle bababoeties en -sussies en vlug gillend uit Betlehem uit … direk in die verstrooiing in. Voor jy kan sê mes is daar nie meer ’n enkele toe­skouer oor nie. Een van die soldate besef waarom die kinders geskrik het en hardloop agterna om hulle te kalmeer. Hulle sien hom aankom en hulle vlug net vinniger. Die geween van Rama hang oor Walmansthal.

Van die kinderpartytjie het daar niks gekom nie. Die sendingspan kon ook nie weer hulle werk voortsit nie, want die gedwonge verskuiwings het kort daarna plaasgevind en die hervestigings­plek was onbereikbaar ver, vir ’n Son­dagmiddagaksie.