Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Verwarring oor die kerk se doel?

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

In die teksdeel, Markus 9:2-10, vertel Markus ons van die verwarring wat daar in die gemoed van Petrus, Johannes en Jakobus was toe hulle van die berg van verheerliking af gekom het. Ons moet nou mooi verstaan dat hierdie gebeure gevolg het op Petrus se belydenis dat Jesus die Messias is en opgevolg is deur wat Petrus en die ander twee so pas op die berg beleef het. Hulle het teen hierdie tyd verstaan dat Jesus die Messias is en het op die berg sy heerlikheid, mag en krag gesien. Maar dit verklaar nie hulle verwarring nie.

Om hulle verwarring reg te kan verstaan, moet ’n mens terug delf in wat die Jode se verwagting van die Messias was. Reg deur hulle geskiedenis was die Jode bewus daarvan dat hulle in ’n baie spesiale sin God se uitverkore mense was. In die vroeë dae het hulle na die tyd van Dawid as die goue jare van hulle bestaan verwys en verlang. Hulle het ook verlang na nog so ’n koning soos Dawid wat uit sy geslag sou kom en die volgende goue tydperk sou inlei. (Vir dié wat dit wil oplees, kyk na Jesaja 9:6; 11:1; Jeremia 22:4; 23:5; 30:9.)

Soos wat die tyd verloop het was dit vir die volk duidelik dat hulle droom van glorie nie op ’n natuurlike manier sou kon geskied nie. Want die 10 stamme van Israel het na Assirië se inval vir alle doeleindes verdwyn. Juda is uiteindelik op hulle beurt deur die Babiloniese leër in ballingskap weggeneem en vandaar is hulle deur die Perse, Grieke en Romeine oorheers. In die tyd tussen die Ou en die Nuwe Testament is daar baie voorspellings gemaak wat in die Apokriewe boeke opgeneem is oor die koms en werk van die Messias (byvoorbeeld 2 Barug 27; 4 Esra 12:32-33; 13:33-35 asook Henog 52:7-9). Die prentjie wat dit skilder is dat die Jode tot ’n groot mate baie nasionalisties was. Hulle het verwag dat die Messias met wraak en verwoesting sou kom, en deur ’n bloedbad sy oorwinning oor hulle vyande sou behaal en so hulle volkome verlossing sou bewerkstellig.

LEES OOK: Bydraes deur Kerkbode se DINKSTOF-skrywers

Dit is dus geen wonder dat Jesus sy dissipels tot stilte gemaan het oor sy ware identiteit nie, want Hy het goed verstaan dat hulle verwagting van Hom as Messias verkeerd was. In al die tyd wat hulle saam het Hom was, het hulle tog geen aggressiewe praatjies oor hulle oorheersers by Hom gehoor nie. Daar was by Jesus geen opsweping van nasionalistiese emosies nie. Dit was dinge wat Jesus baie doelbewus vermy het. Wat sy dissipels by Jesus gesien het, was ’n diepe omgee en liefde vir mense in hulle nood, fisies of geestelik. Dit is waarom die dissipels so in verwarring was oor wie Hy nou eintlik was en wat Hy kom doen het.

Jesus het geweet dat Hy nog baie opvoedingswerk met hulle het voordat hulle sou verstaan wat sy werk, en uiteindelik hulle werk, sou wees. Hulle het nog onder mekaar geloop en stry oor wie die grootste in Jesus se ryk sou wees. Hulle het nie verstaan, of wou nie verstaan, dat Jesus sou moes sterf nie. Ons moet onthou dat hulle met ’n leeftyd se leringe sit oor wie die Messias sou wees. Vandag sê die sielkundiges vir ons dat dit tot 21 herhalings vat voor iemand vasgelegde inligting kan vervang met nuwe inligting. Dus moes hulle dit wat hulle gedink het hulle van die Messias weet, afleer en iets nuuts aanleer. Hoe kon die Messias van hulle verwagting deur hulle eie godsdienstige owerheid gevange geneem en doodgemaak word? Dit het net nie by hulle prentjie van die Messias ingepas nie.

Jesus se dissipels het drie jaar saam met Hom geleef en elke dag by Hom geleer. Hulle het na drie dae die verheerlikte, opgestane Jesus gesien en nog meer by Hom geleer. Tog het hulle nog by sy hemelvaart vir Hom gevra of dit nou die tyd was vir die oprigting van die koninkryk van Israel. Dit het die koms van die Heilige Gees geverg vir die dissipels om dit wat Jesus kom doen het, werklik te begryp en dit aan ander te kon leer.

LEES OOK: Die jongste lesersbydraes

As ek om my kyk na die wêreld se siening van wie Jesus is, en hoe min hulle verstaan wat Hy kom doen het, kan ek verstaan dat hulle verward is en Hom nie verstaan nie. Maar wanneer ek na die leer en verwagting van sommige van die sogenaamde Christelike kerke kyk, en wat hulle leer oor Jesus en die werk van die Heilige Gees, wil ek huil.

Die kerk het gemaklik geword met gebruike, rituele en diensordes wat goed verstaan en aanvaar word deur die gemeentelede, maar totaal verwarrend en onverstaanbaar is vir die nie-kerklikes. Ons gebruik kerklike taal en begrippe en sing liedere in die dienste waarvan die woorde nie altyd vir nie-kerklikes of die ongekerktes sin maak nie. Wat ek daarmee wil sê is dat ons kerke en eredienste ingestel is op die onderhouding van hulle kerkgenootskappe se beleid en die gemak en die tevredenheid van hulle lidmate.

Hier volg ’n paar vrae om my punt te bewys:

  • Wat het in ons kerke/gemeentes oorgebly van Jesus se hart vir die sondaars en verworpenes in die gemeenskap?
  • Wat het geword van die inbring van die verlore skape in die kraal van die ware Herder wie se stem hulle nog moet leer ken?
  • Wat het geword van die doel waarmee die dissipels die wêreld ingestuur is om bekering na God toe, en die koms van God se koninkryk, te gaan verkondig?
  • Is die kerk van ons Messias nog ingestel om dit wat Jesus geleer het te versprei en die verlore mense te leer oor God se genade?
  • Of het ons gemaklik geword met mekaar en ons koinonia van Sondae waar ons mekaar kan druk, saam kuier en mekaar se geselskap kan geniet?

Dit kom my voor dat ons ook soos die dissipels nie nou meer mooi begryp wat en wie Jesus as Messias is nie. Ons het weer nodig om terug te gaan na wat die Bybel ons leer van die werk en doel van ons Messias. Dit wat Jesus gedoen en geleer het, is wat ons aan die mense moet leer en wat ons moet uitleef.

Ons moet meer bekommerd wees oor die opskryf van name in God se Boek van die Lewe, as om name in ons gemeentes se register van lidmate op te skryf. Dan sal ons weer ware kerk wees wat die doel en ideale van ons Meester uitleef. Het ons weer ’n reformasie nodig vir dit om te gebeur?

 

  • Marius Rautenbach het vanaf 1991 vir 17 jaar as Godsdienswerker by die Medium A- en B-afdelings in die Westville-gevangenis in KZN gedien. Hy is deesdae ouderling met preekvoorregte in die NG gemeente Port Natal.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top