Wat is die doel van jeugbediening?

The end of youth ministry? Why parents don’t really care about youth groups and what youth workers should do about it deur Andrew Root
Uitgewer: Baker Academic, 2020


Die leefwêreld van moderne jongmense (Gen-Z) is een waar kalenders oorvol is met sport, ekstra klasse en kultuur, om nie eens te praat van TikTok en Instagram nie. As die Google Calendars te vol raak, is kerk gewoonlik die eerste ‘aktiwiteit’ wat die trekpas kry. Vandag voel dit vir baie wat betrokke is by jeugbediening, of ‘kerk’ net nog een van 20 ander aktiwiteite geword het waaruit jongmense kan kies.

Andrew Root plaas hierdie ge­dagtes in perspektief in The end of youth ministry? Hierin probeer hy die vraag beantwoord: Wat is die doel van jeugbediening? Root, wat in baie toeganklike taal skryf, gebruik ’n outo-etnografiese benadering om lesers, deur verskeie verhale, op reis te neem en uiteindelik hierdie vraag te probeer beantwoord.

Hierdie is nie net nóg ’n boek oor jeugbediening wat jou gaan help met jou volgende aanddiensreeks of jou volgende pizza-aand by die kerk nie. The end of youth ministry? is nie ’n praktiese boek met aktiwiteite en idees nie. Dit gaan jou uitdaag om dieper oor jeugbediening te dink en die onderliggende vrae van jeugbediening te vra: Waarmee is ons besig, en waarom is ons daarmee besig? Die boek help jou dalk nie met praktiese raad nie, maar dit help jou om die leefwêreld van moderne jongmense beter te verstaan.

Sonder om vingers te wys en oorkrities te wees, gebruik Root onder andere filosofie en popkultuur (oa Aris­toteles, Martin Luther, Dietrich Bonhoeffer, Charles Taylor, Taylor Swift, Stranger Things en Demi Levato) om die moderne (gesekulariseer­de) leefwêreld van Westerse middel­klas-jongmense te beskryf.

Hy lei lesers deur die geskiedenis van jeugbediening tot vandag, om die dikwels onbewuste filosofiese moti­verings wat individue in die Wester­se samelewing dryf, te onthul en te beskryf.

Terwyl hy die vraag van die boek beantwoord, plaas Root die rol wat ouers in jongmense se besige lewe speel ook in perspektief, terwyl hy stoei met verskeie ander onderwerpe soos verbruikersmentaliteit, geluk, moraliteit en identiteit.

Sonder om te veel spoilers oor die boek te gee, is dit volgens Root, gelukkig nié die einde van jeugbediening nie. Hy bied ’n breedvoerige argument oor die doel van jeugbediening, wat van groot waarde kan wees vir ons konteks.

Alhoewel dit ’n ongewone boek oor jeugbediening is en vanuit ’n Amerikaanse konteks geskryf is, is dit na my mening ’n uiters belangrike boek vir enige persoon wat met jongmense in die kerk te doen het. Dit is ’n uitdagende boek wat jou sal konfronteer met verskeie “vanselfsprekende” jeugbediening-gewoontes wat ook in ons gemeentes kop uitsteek. Kenda Creasy Dean, self ’n swaargewig jeugbedie­ningskrywer, sê oor dié boek “Root’s most important youth ministry book to date.”

Ds Gerrie Bodenstein is leraar by NG Gemeente Skuilkrans in Pretoria.