Diep, ryk boek verdien wye gehoor

Dominion: The making of the Western mind deur Tom Holland
Uitgewer: Little Brown, 2019


In ’n tyd wanneer die kerkbanke in Europa leegloop en konflikte in die wieg van die Christendom die oorblywende Christelike gemeenskappe uit die Nabye-Ooste verdryf, bied Tom Holland ryke stof tot nadenke. Holland is ’n agnostikus wat in die Christelike tradisie grootge­word het. Ondanks sy eie oortui­gings, probeer hy om objektief te skryf oor die invloed van die Christendom op die vorming en waardes van die Westerse beskawing.

Dominion is ’n diep en ryk boek, wat drie millennia omspan. Dit skop af in die Persiese Ryk van Darius en strek tot die onlangse #MeToo-beweging. Van antieke Persië en die Griekse filosowe loop die verhaal deur die Romeinse Ryk, die Middel­eeue, die Kruistogte, die Hervorming en Verligting, die Franse en Amerikaanse rewolusies, die opkoms van anti-Christelike ideologieë – Kommunisme, Fascisme en Nasionaal-sosialisme – en die “All I need is love”-generasie, soos vergestalt deur die popgroep die Beatles.

Die roede word nie gespaar vir Christelike oorywerigheid nie. Die strewe sedert die Romeinse tyd om die kerk en die Christendom universeel uit te brei, het uiteraard gelei tot fanatisme, geweld en wreedheid, terwyl die Christendom op die rug van kolonialisme en verowering na Afrika en die Nuwe Wêreld ge-abba is. Deur die twee millennia sedert die kruisiging van Jesus, word die Christendom gekenmerk deur spanning tussen tradisie en vernuwing; die letter en gees van die Bybel; gesag en vryheid.

Maar waar die antieke ryke van die Perse, Grieke en Romeine gebou was op ’n stelsel van heerskappy van die sterkes oor die swakkeres, is die goue draad wat deur die geskiedenis van die Christendom loop, die vermenslikende mag daarvan. Ongeag van baie afwykende strominge en magsvergrype deur die eeue, is die idee van die inherente waardigheid van die mens wat uit die Bybel ontspring het, die leitmotiv vir ’n totale en dur­ende transformasie van die wêreld. Die Christelike geloof lê so die grondslag van die moderne liberaal-demo­kratiese versorgingstaat en die filoso­fie van menseregte. Paradoksaal on­derlê die Christelike waardes van verdraagsaamheid en godsdiensvryheid die Westerse sekulêre staatsvorm wat dan juis kritiek teen en die ver­werping van die Christendom toelaat.

Deurlopende temas is hoe die Christelike etos bygedra het tot die afskaffing van slawerny en die Nuwe-Testamentiese monogame huwelik die basis gelê het vir die gelykwaardigheid van vroue.

Die boek maak ook ’n draai in Suid-Afrika: Die skrywer postuleer dat die drie hooffigure, Mandela, De Klerk en Tutu, se onderlegdheid in die Christendom die basis gevorm het vir die vreedsame oorgang na demokrasie. Die Afrikaners, wat apartheid op Bybelse grondslae ge­regverdig het, kon tot die besef kom dat rassediskriminasie onbybels en onregverdig is: “The same faith that had inspired Afrikaners to imagine themselves as a chosen people was also, in the long run, what had doomed their supremacy”.

Die boek is wyd in Christelike kringe verwelkom, maar kritiek het nie uitgebly nie. Die Nederlandse dagblad De Volkskrant skryf: “… een boek voor conservatieve christenen die hun simpele wêreldbeeld graag bevestigd sien. Of een boek je heerlik aan te ergeren.”

Maar ’n boek wat verdien om wyd gelees te word, en nie net deur akademici, teoloë en historici nie, maar enigiemand met ’n belangstelling in die Christendom en die moderne samelewing.

  • Andre Stemmet is Raad: Regsaan­geleenthede by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Den Haag, Nederland.