Bekendstelling: BibleProject in Afrikaans

Met 2,28 miljoen Youtube-intekenaars is BibleProject seker een van die grootste skeppers van aanlyn-Bybelmateriaal in die wê­reld. Sedert die ontstaan van die organi­sasie in 2014 is hulle video’s al byna 200 miljoen keer gekyk. Wat dryf hierdie kreatiewe groep teoloë en grafiese kuns­tenaars uit Portland, Oregon in Amerika? “Om gewone mense te help om die Bybel beter te verstaan,” volgens Michael McDonald, direkteur van strategiese verhoudings vir BibleProject.

Terwyl derduisende Suid-Afrikaners alreeds hulle video’s gesien het, is die organisasie besig om dit nog makliker te maak vir Afrikaanssprekendes om meer van die onderskeie boeke, spesifieke terme en belangrike temas van die Bybel te leer deur hulle grootste reeks, die Read Scripture-reeks, nou in Afrikaans vry te stel met nog van hulle reekse wat op pad is.

En dit is nie vertalings nie, maar eerder video’s wat ten volle begrond is in die Afrikaanse konteks, volgens McDo­nald.

Die video’s kry nie net Afrikaanse onderskrifte nie, maar word geheel en al in Afrikaans geskep met Afri­kaanse teks, sprekers, teksverwysings en ani­ma­sie wat vir die Afrikaanse kyker bekend sal wees. Om dit te doen werk hulle nou saam met ’n span Afrikaanssprekende vertalers en teoloë sowel as Suid-Afrikaanse animasie-ateljees om te verseker dat die hoë kwaliteit sowel as die inhoud van die video’s getrou bly aan hulle visie: Om die Bybel as een groot storie wat na Jesus lei uit te beeld.

Hierdie is baie goeie nuus vir enig­een wat graag meer van die Bybel of ’n spesifieke boek of konsep daarin wil leer. Natuurlik is dit ook ’n aanwins vir enige leier, predikant, mentor en kategeet wat soms wens daar is iets wat kan help om die Bybel meer verstaanbaar te maak. BibleProject se meer as 150 vi­deo’s is almal gratis op Youtube beskikbaar.

Afrikaans is nie die enigste taal waarin hulle hulpbronne omgeskakel word nie – hulle is tans in die proses om dit in 60 verskillende tale beskikbaar te stel regoor die wêreld. ’n Proses waarvan die kostes gedra word deur mense wat opgewonde is oor die visie van BibleProject en dit finansieel moontlik maak vir hulle om alles wat hulle skep gratis weg te gee.

Die doel, volgens McDonald, is om te dien. Die eerste van die video’s is nou al beskikbaar op BibleProject se Afrikaanse YouTube-kanaal en meer word elke week bygevoeg. Die uitnodiging is daar vir elke Afrikaanssprekende individu, groep of gemeente om dit te gebruik om die Bybel meer toeganklik en verstaanbaar te maak. Baie van hierdie video’s word reeds met groot sukses as aanvullende materiaal vir klein- en kate­gesegroepe gebruik en die Afri­kaan­se video’s gaan dit nog meer ge­brui­kersvriendelik maak.

  • Ds Francois Lamprecht is predikant van die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein.