Stefaans Coetzee het eers bomme geplant, nou plant hy groente

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek onthou nog goed waar ek die eerste keer gehoor het van die Peace Train. Dit was by ’n jeugweek op Worcester. Hans Steyn, ’n do­minee van die NG gemeente Worcester-Valleikerk het my die storie vertel.

Daar was ’n bomontploffing in Shoprite, die bom is geplant deur ’n seun, ’n klomp mense is dood en beseer, die Peace Train was ’n trein vol slagoffers van Worcester wat met die seun wou praat in Sentraalgevangenis in Pretoria …

Dit het geklink soos ’n fliek. Iets wat net in fiksie kon gebeur.

En daar is vandag ’n fliek, maar dit is nie fiksie nie. ’n Paar jaar gelede sien ek die film Black Christmas, kort daarna ontmoet ek vir Stefaans Coetzee by ’n konferensie. Ek nooi hom saam plaas toe. Ons ry op ’n bootjie op die Wilge­rivier, Stefaans se eerste keer, want hy was vir die grootste deel van sy volwasse lewe toegesluit in ’n tronk. Tot laat daai nag, vertel hy my sy storie.

Sy kinderjare was ’n amper klassieke tragedie.“Ek het grondpad geloop, dit was hard, maar my kinderjare is ongelukkig nie uniek nie, elke tweede kind wat ek vandag in die townships raakloop het ’n soortgelyke verhaal, my storie is hulle storie,” sê hy.

Stefaans was vyf jaar oud toe sy ma vir hom geld gegee het om lekkers te gaan koop. Toe hy terugkom by die huis, was sy ma weg. Sy pa was ’n volslae alkoholis. Kort daarna beland hy in ’n kinderhuis.

Dit was rof. Stefaans dra vandag nog ’n litteken van hoe die kinders hom geboelie het. Hy het gou geleer baklei, aanvanklik om homself te verdedig, maar later ook om homself te bewys. Ste­faans vertel hoe hy en ’n groep skool­vriende gereeld in die aande rondgeloop het op soek na swart mense om aan te rand. Hulle het geglo swart mense is die vyand.

Een van sy grootste inspirasies in die tyd was sy skoolvriend se pa wat ’n leier was in ’n verregse groep genaamd die Israelvisie.

Stefaans het die skool op ’n vroeë ouderdom verlaat en op die Israelvisie se plaas gaan woon. Die man het baie moeite gedoen met Stefaans en hom begin onderrig in die Bybel.

In sy boek Wit Wolf skryf Stefaans: “Een van die gewilde teksverse was Deuteronomium 17:15: ‘Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie ’n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie.’ Om die kampvuur het die toekomstige terroriste besluit om swart en bruin mense met die ‘banvloek te tref’, want God verbied dit in sy Woord dat hulle oor sy wit volk mag regeer. Hulle moes dus uitgemoor word.”

Hy was 19 jaar oud toe hy op Oukers­dag ’n bom in die Shoprite in Worcester plant. Vier mense sterf en baie is beseer.
Stefaans vertel dat hy destyds kort na die ontploffing teleurgesteld was toe hy hoor dat so min mense dood en beseer is, “ek en die ander wou soveel moontlik van die vyand se koppe vat”.

Iets wat hom wel later ontstel het, was toe hy hoor dat daar kinders onder die slagoffers was. Dit het hom so gepla dat hy besluit het om homself oor te gee aan die polisie.

Hy is uiteindelik skuldig bevind en gevonnis tot 40 jaar tronkstraf.

In die tronk moes hy weer baklei om te oorleef. Stefaans het gou sy reputasie as rassis gestand gedoen en onder ande­re deel geword van verregse groepe in die gevangenis en via briewe kontak gemaak met neo-Nazi’s en ander White Supremacist-groepe oorsee. Die ander gevangenes het hom Hitler begin noem.

Maar daar het ook ’n paar vreemde dinge in die tronk gebeur. Dinge waarteen hy nie kon baklei nie.

’n Leier van een van die swart bendes in die tronk, wat Stefaans sê eintlik ver­onderstel was om hom te vermoor, het die mense in die massa-sel begin stilmaak sodat hy vir sy matriekeksamen kon studeer.

Toe hy in ’n saak op ’n ander dorp moes getuig, het ’n klomp gevangenes, wat geweet het wie hy was en hoe hy oor swart mense voel, vir hom ’n klomp toe­broodjies gebêre, want hulle het geweet hy gaan honger wees as hy terugkom.

’n Swart bewaarder het geweet Stefaans hou van lees en het vir hom die boek Who moved my cheese? gegee – wat ’n groot indruk op hom gemaak het.

“Dié mense was veronderstel om my te haat, en nou was hulle goed vir my,” sê Stefaans.

Eugene de Kock, saam met wie hy toegesluit was, het in dié tyd baie met hom gepraat oor vergifnis. Hy het vir Stefaans gesê dat die Boerevroue en -kin­ders wat dood is in die konsentra­siekampe hom eendag in die hierna­maals sou kwalik neem, want hy het vroue en kinders seergemaak.

’n Klomp goed het gebeur, in kort: Stefaans het tot bekering gekom en ingeskryf vir ’n kursus in restitusie. Sy lewe het verander. Stefaans was nou ’n vredemaker.

Een van die mees aangrypende dinge in sy lewe was sy interaksie met die slagoffers van Worcester. Van die mense het hom persoonlik kom sien en later was daar die Worcester Peace Train, ’n treinrit na Pretoria Sentraalgevangenis met onder andere die 67 oorlewende slagoffers aan boord. Stefaans het ’n kans gekry om jammer te sê en hulle vrae probeer beantwoord. Hy het be­sluit dat hy enigiets sal doen wat hulle pyn kon verlig. Dit gaan oor húlle, nie oor hom nie.

Stefaans Coetzee. Foto verskaf

Die plaaslike gemeentes het ’n enor­me rol gespeel in die genesende verhaal van die gewonde mense van die Worcester-bomaanval. Vir een keer was die kerk regtig ’n brug – of ’n trein – na vre­de en versoening.

Stefaans is na 18 jaar vrygelaat. ’n Vrou wat vroeër in sy gesig vir hom gesê het, sy haat hom, en sy sal hom nooit vergewe nie, het met die paroolraad gaan praat. Iets wat hy geensins verwag het nie.

Vandag plant Stefaans groentetonnels, meestal in townships. “Die tonnels gee vir my tyd saam met mense, tyd saam met kinders en die gemeenskap, dis maar my simbool wat ek gebruik om vir mense te sê, liefde en vergifnis is iets wat ’n mens dóén, iets wat geleef moet word.”

Sy derde boek word een van die dae voorgelê aan die uitgewers, hy is onlangs verkies as die bestuurder van Life FM Radio en trou vroeg volgende jaar.

Sy storie kan ’n mens help om weer te glo.

Hierdie is die kortste moontlike opsomming van Stefaans Coetzee se lewe! Lees gerus sy boek Wit Wolf, kyk die film Black Christmas.

  • Ds Jaco Strydom is predikant by die NG gemeente Villieria in Pretoria.