“Reik uit na gemeentes en gelowiges in Mosambiek en vra vir hulle hoe julle kan help en saam met hulle kan bid.”
Só vra ds Llewellyn Oliver, predikant by die Lewende Gemeente Mosambiek en die Afrikaanse gemeente van die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), te midde van die nood wat tans in dié Suid-Afrikaanse buurland heers.
LEES OOK: Koronastryd: Só maak Malawi met maatreëls
Die koronaviruspandemie is die laaste jaar op almal se lippe en die nuusblaaie is vol Covid-nuus oor dood, entstowwe en oorvol hospitale in Suid-Afrika. Maar behalwe die Covid-pandemie word Mosambiek deur twee ander krisisse geteister – die toenemende konflik met Islamitiese rebelle in die noorde van Mosambiek en die siklone in die sentrale deel van die land.
Oliver vertel dat inwoners in die noorde van Mosambiek sedert 2017 gedwing was om weens die toenemende konflik met Islamitiese rebelle te vlug. Daar word konserwatief geskat dat oor die 200 000 persone as gevolg van die konflik deur Isis-gekoppelde militante in die Cabo Delgado-provinsie van Mosambiek reeds gevlug het, brei Oliver uit.
“Hiermee saam het die siklone Idai en Kenneth in 2019 grootskaalse verwoesting gesaai wat soveel as 1,3 miljoen mense geraak het. Midde-in die hulpverlening in die geteisterde gebiede tref die volgende ramp, ’n wêreldwye pandemie, wat veroorsaak dat die hulp wat via kerke aan die IRM gelewer word, in sy spore gestuit word. Die reisverbod en sluiting van grense veroorsaak dat noodsaaklike spanne nie die betrokke gebiede kan binnekom nie. Alternatiewe planne is skaars in plek of die volgende ramp tref Sentraal-Mosambiek – sikloon Eloise. Dit alles teen die agter-grond van grootskaalse droogtes in die suide van Mosambiek,” vertel Oliver van die verwoesting in Mosambiek.
LEES OOK: Hulp na sikloon Idai: Só staan sake nou
Oliver sê dat daar in die verlede met elke ramp wat Mosambiek getref het ’n fenomenale gebaar van gelowiges was wat hulle in nood wil bystaan. Reeds met die waarskuwing van sikloon Eloise was daar navrae oor hoe gehelp kan word. Hy vertel dat daar deur baie jare ’n verhouding tussen die kerk in Mosambiek en die kerk in Suid-Afrika gebou is en dat hulle beleef hoe die Here die kosbare verhouding gebruik om mekaar te ondersteun en bemoedig. In baie gevalle is dit nie fisies of finansieel moontlik nie, maar die wete dat daar mede-gelowiges in Suid-Afrika is wat bid en omgee, gee vir hulle hoop, sê Oliver.
“Ons wil dus vra dat gemeentes en individue sal neerbuig in gebed vir Mosambiek. Ons begeerte is om by die Here te hoor hoe ons die vinnige verandering in natuurverskynsels aan die een kant en die dreigende politieke onstabiliteit aan die ander kant moet hanteer. So dankbaar soos ons is vir elke donasie, het ons veral die gebede van gelowiges nodig om in dié tyd ons te dra,” sê Oliver.
Dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het vandeesmaand luidens ’n verklaring gesê die NG Kerk staan saam met gemeenskappe in Mosambiek en roep al haar lidmate op om te bid vir broers en susters in daardie land.
Onweer teister Mosambiek
Die tropiese storm Eloise het op 22 Januarie vanjaar die sentrale hawestad Beira in Mosambiek getref en verwoesting gesaai, berig Netwerk24. Dít terwyl die gebied nog herstel van die verwoesting wat sikloon Idai, wat in Maart 2019 hier geland het, en ses weke daarna, sikloon Kenneth, in April 2019.
Teen Augustus 2019, na afloop van siklone Idai en Kenneth, het 2,5 miljoen mense in Mosambiek humanitêre dienste benodig en altesaam 603 mense is weens die tropiese storms dood, het UNICEF berig.