Pepuda: Hou kommentaar so uniek moontlik

“Moet asseblief nie net die NG Kerk se verslag kopieer en aanstuur nie. Laasgenoemde poging sal nie deur die wetgewer as outentiek oorweeg word nie.”

Só sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk in reaksie op die talle navrae vanaf gemeentes wat graag kommentaar wil lewer op die omstrede voorgestelde konsepwysigingswet op die Pepuda (kort vir Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act).

“Ons verwelkom die baie belangstelling wat ons vanaf gemeentes ontvang het. Daarom gaan ’n brief dié week uit aan alle predikante met riglyne hoe gemeentes kommentaar kan lewer,” sê Claassen.

In die brief word gesê die NG Kerk se algemene sekretaris sal namens die kerk kommentaar lewer voor die sperdatum van 30 Junie, maar gemeentes is welkom om ook hulle eie kommentaar in te stuur. In die opstel hiervan kan hulle gebruik maak van die kommentaar in die NG Kerk se verslag wat verlede week volledig in Kerkbode verskyn het. Claassen benadruk egter dat dit belangrik is vir leraars om daarop te let om die bewoording aan te pas en dit nie net te kopieer nie. Die wetgewer, wat die kommentaar ontvang, heg groter waarde aan outentieke kommentaar.

LEES OOK: Pepuda ‘bedreig demokrasie, vryheid’ – NGK

Pepuda sal ’n dubbelstandaard handhaaf deur diskriminasie deur die staat toe te laat, terwyl daar aansienlik hoër eise aan “gewone Suid-Afrikaners” gestel sal word, lui die verslag.

“Ons sal alles moontlik moet doen om die voorgestelde Pepuda-wetgewing teen te staan. Dit is ’n radikale bedreiging vir godsdiensvryheid, demokrasie en is ’n vergryp aan mag,” het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk, verlede week in VrydagNuus in reaksie op die verslag gesê.

Die drukgroep Freedom of Religion South Africa (For SA) moedig sedert Mei die publiek met ’n petisieveldtog aan om beswaar aan te teken.

Regskenners soos adv Mark Oppenheimer het ook ernstige kommer uitgespreek oor die “verontrustende” gevolge wat die wetsontwerp se voorgestelde wysigings aan die definisie van “diskriminasie” en “gelykheid” kan inhou vir nie-regeringsorganisasies sou dit as wetgewing deurgaan.

Word 'n vriend van Kerkbode

5 thoughts on “Pepuda: Hou kommentaar so uniek moontlik

  1. Kotie Bothma says:

    Dit sal ‘n hartseer dag wees as ons nie ons geloof vrylik kan verkondig en uitleef nie. Dit sal nog hartseerder wees as ander gelowe jou dwing om te glo en te doen soos hulle wil. Ek pleit dat ons die vryheid sal hê om ons Christen-geloof binne Bybelse konteks uit te leef en te verkondig. Ek pleit dat elke geloof net mense in hul leiersposisie mag aanstel wat 100% die geloof se beleid wil volg. Ek pleit vir vryheid van geloof.

  2. Jan Bosman says:

    Kerke is geslote organisasies en beheer hul eie interne sake. Lidmate sluit vrywillig aan. Dit is nie ‘n openbare ruimte waar nie-lede inspraak het nie. Dit geld ook die staat.

  3. Naomi van Niekerk says:

    Ongeag aan watter geloof ons aanhang, bly dit ‘n baie persoonlike en belangrike aspek van ons lewens. ‘n Aspek wat in die Grondwet aan elkeen die reg gee om hulle persoonlike gelowe uit te leef. Hierdie moontlike wysiging aan die wet gaan eerstens elke Suid Afrikaner se reg op keuse beinvloed en tweedens onnodige spanning tussen mense van verskillende gelowe veroorsaak.

  4. Ds DPV Enderstein says:

    I think PEPUDA is totally against the right of any person to choose the religion of his choice and also freedom of belief and speech.
    I am totally against it.

  5. Susan says:

    Ek is heeltemal daarteen! Ons godsdiensvryheid gaan in die gedrang kom – en heel moontlik, op subtiele wyse, heeltemal verdwyn.

Comments are closed.