VIDEO: Lofsang en goue oues lig gemoedere op Citrusdal 

Met kitare, ’n viool en ’n tamboryn het ’n sanggroep onlangs sommer in ’n straat die ingeperkte inwoners van ’n tehuis op Citrusdal gewys die dorp se mense sien hulle nood. 

Elke inwoner het ook ’n protea met ’n naamkaartjie gekry.

Die Ons Huis-ouetehuis is al geruime tyd gesluit vir besoekers ná nege inwoners in ’n kort tyd oorlede is, nie almal weens Covid nie, vertel ds Martin Steyn, leraar by die gemeente vir Kerkbode. Die voortslepende pandemie tref dié Weskusdorp swaar. Steyn sê hy hou steeds gemiddeld drie begrafnisse op ’n naweek.

“Dit het ons ou mense erg geslaan en vir ons as gemeenskap,” skryf Martine Kriel, gemeentebestuurder by die Facebook-plasing. “Die inwoners kan nie in en uit nie en hulle mag ook nie besoekers ontvang nie. Dit het die NG Gemeente Citrusdal in die laaste tyd laat beleef dat die bejaardes baie alleen en eensaam voel.

 “Ons as kerkspan het toe met die idee vorendag gekom om vir hulle proteas af te lewer – vir elkeen van hulle en dan vir hulle ’n ‘praise and worship’ oggend te hou buite die hekke van die tehuis. En dit is wat ons gedoen het en toe aan die einde het die sanggroep vir hulle ’n paar ‘golden oldies’ gespeel waarop die mense heerlik gedans het. Dit was baie spesiaal en het beslis die gemoedere gelig en vir hulle weer krag gegee vir die pad vorentoe. Ons kan almal ’n verskil maak. Ons moet net begin!” eindig sy haar plasing af.

Die proteas is geskenk deur ’n plaaslike bloemiste. Die kerk het nou besluit hulle gaan elke maand só ’n uitreik by die ouetehuis doen vertel Kriel vir Kerkbode. “Die ouetehuis is steeds toe en hulle voel soms alleen in die donker wêreld omdat niemand hulle kan besoek nie,” sê sy. 

Te oordeel aan die kommentaar op NG Citrusdal se Facebookblad het dié gebaar ook die gemeenskap se gemoedere gelig. “Dit is ’n wonderlike gebaar van (die) musiekgroep! Vanaand gaan die inwoners van Ons huis nog met daardie musiek in hulle ore ‘rustig’ slaap” skryf Marna Cartens.