Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Is daar ’n ‘belynings­kloof’ tussen die Algemene Sinode en lidmate?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Arnold Griesel van Bethulie skryf:

Die gerespekteerde sakeman Brand Pretorius – bekend veral as hoof van Toyota en McCarthy Holdings – het onlangs aan ’n na-Covid-konferensie deelgeneem wat deur Kairos Netwerk (KN) aangebied is. Pretorius tref ’n analogie tussen sakebestuur en kerkbestuur. Bekende bedryfsbegrippe soos visie, missie, slagspreuke, produkdifferensiasie, spesifikasie en degradasie, is ook in kerkbe­stuur bruikbaar. By Toyota is betrou­baarheid as die unieke verkoop­voorstel geïdentifiseer. Produkdifferensiasie word daarop geskoei en reklame en fokus sentreer daarom. Slegs Toyota-opgeleide tegnici mag voertuie diens; ’n afwyking van die voorskrif mag daartoe lei dat die eienaar sy waarborg verbeur. Handleidingprotokolle word aan verbruikers verskaf. Dit belyn produk­spesifikasies en gebruiksaanwysings met verwagte en voorgeskrewe verbruikersgedrag. Slegs oorspronklike Toyota-onderdele is toelaatbaar (voor­koming van produkmodifikasies of diversifikasies lei tot produkintegriteit) en voorkom produkdegradasie. Uit bo­staande word die inhoud van die beginsels van belyning (’n term wat gereeld in die aanbieding gebruik word) betekenis gegee. Met die slagspreuk “Alles loop reg, altyd reg, Toyota” het Toyota mark­leiers geword.

Analogies sou ’n mens soortgelyke afleidings kon maak betreffende ge­loofs­differensiasie in die NG Kerk. Die NG Kerk bely amptelik die algemene Christelike geloof soos vervat in die bekende Drie Formuliere van Eenheid. Hiermee word die NG Kerk se leer gedifferensieer. Dit is duidelik dat die heilige Skrif gesag dra in die kerk, en, “niemand, selfs nie die apostels nie, anders mag leer as wat deur die heilige Skrif geleer word nie”. Met ander woorde, die Skrif is die kerk se gesag­hebbende handleiding van geloof en praktyk – waaraan bedienaars van die Woord volkome onderhewig is. Kerklike kontroles in hierdie verband: eer­stens, ’n kuratorium met oorsig en remediërende funksies, en tweedens, persoonlike integriteitsvereistes, naamlik die aflê van ’n legitimasie-eed, waarin predikante belowe om die Woord ten alle tye suiwer te verkondig, en die belydenisse te handhaaf. Daar is dus duidelike analogieë tussen produk- en geloofsdifferensiasie, soos Pretorius gevisualiseer het.

Maar, net soos Toyota-motors degradeer wanneer die handleiding ver­ontagsaam word, so kom die NG Kerk se produkintegriteit (suiwer geloof) in gedrang deur onskriftuurlike modifikasies. Baie lidmate ervaar ’n wyerwordende belyningskloof tussen die Algemene Sinode (AS) se sieninge en handelinge met die kerk se amptelike leer, maar wekroepe tot regstellende maatreëls word geïgnoreer. Hierdie wekroepe word feller by die dag. In skrywes soos Ontmoet Kairos Netwerk, Die Strand se brief, en Sola Scriptura van Namibië word besonderhede van die dwaalleer uitgewys. Die kort van die saak is dat die AS se belyningsbestuur nie op “eenheid in waarheid” fokus, soos die belydenisskrifte beoog nie, maar op wanbelyning van “glo-soos-wat-jy-wil” geloofsdiversiteit.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top