Grendeltyd – ’n pelgrimstog na heelheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die teoloog Cas Wepener, so hoor ek, verwys na grendeltyd as ’n soort statiese pelgrimstog. So, watter groei kan kom uit grendeltyd? skryf Nico Simpson.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Dorothy Sayers kommentaar gelewer oor hoe mense in haar tyd oor werk dink. Sy het gesien dat mense in Engeland tydens die oorlog spaarsamig en opofferend geleef het. Mense het saamgespan vir die oorlogspoging. Dit was soveel anders as net voor die oorlog. Volgens haar was die samelewing voor die ontwrigting gefokus op verbruik, selfsug en ambisie.

Sy verwoord haar wens vir hoe hulle oor werk dink vir die samelewing na die oorlog. Sy droom dat werk minder sleurwerk moet raak. Dat mense nie slegs sal werk om geld te maak nie. Dat werk ’n lewenswyse, in lyn met hoe ons gemaak is, moet wees. Dat mense vervulling in hulle werk vind en God so verheerlik mag word. Dat ons dagtaak beskou word as ’n kreatiewe aktiwiteit wat gedoen word uit liefde vir die werk self. Dat mense, geskape na God se beeld, skep as hulle werk, soos God.

Volgens Os Guinness skuif die betekenis van ‘roeping’ tydens die Industriële Revolusie. In die Bybel word mense in die eerste plek nie ‘geroep’ na ’n beroep of ’n plek nie, maar na ’n persoon, Jesus Christus. Dit het verander. Nou is ‘roeping’ sinoniem met beroep. Jou werk het alles geword. In die 1920’s sê die sakeleier Henry Ford: “Every thinking man knows that work is the salvation of the human race, physically, morally, and spiritually.” Die Amerikaanse president Calvin Coolidge verwoord hierdie siening so: “He who builds a factory builds a temple, and he who works there worships there.”

Met sulke denke lê ons hoop nie meer in ’n lewe met Jesus nie, maar in ons beroep. My beroep moet my red. Wanneer ek ’n sperdatum in die gesig staar word my prestasie die maatstaf van my waarde. Dit veroorsaak geweldige druk.

In die Oscar-bekroonde film Chariots of fire gebruik die Olimpiese atleet Harold Abrahams sy prestasie as hardloper om betekenis aan sy lewe te gee. Voor ’n belangrike wedloop verwoord hy sy vrese: “I will raise my eyes and look down that corridor, four feet wide, with ten lonely seconds to justify my existence. But will I?”

In die toneel erken Harold dat as hy verloor, is hy niks. Hardloop is sy lewe. Indien iets verkeerd loop met sy wedloop, is hy ’n mislukking. Hy leef onder die druk om heeltyd die beste te wees.

Maar hy was nie net bang vir verloor nie, hy was ook bang vir wen. Harold erken: “I’ve known the fear of losing, but now I am almost too frightened to win.” Ná jare se afrigting en opoffering is hy bewus van die leegheid van prestasie ter wille van prestasie. As jou lewe rondom prestasie draai, moet jy aanhou presteer om betekenis te kry. Jy moet presteer en aanhou presteer. Dit is asof Harold die sinloosheid van so ’n manier van lewe aanvoel wanneer hy vra: “Is this what life is really about?”

Tim Keller merk op dat Jesus nie gekom het as ’n filosoof nie – iets wat die Grieke hoog op prys gestel het. Hy het ook nie gekom as ’n staatsman nie – iets wat vir die Romeine belangrik was. Hy was ook nie ’n magtige militêre generaal nie – iets wat vir die Jode gewig gedra het.

Jesus het gekom as ’n timmerman. Volgens Tim, ’n vakbondman. Die timmerman sou die wêreld kom red.

Tim droom dat ons ontslae sal raak van ons opvattings dat slegs sommige werk waarde het. Dat ons minder waarde sal heg aan die vergoeding en aansien wat party beroepe het. Dat ons sal ophou dink dat sommige werk minder werd is omdat dit minder betaal, minder geskoold is en meer handearbeid is.

Sayers dink dat die samelewing tydens vredestyd mense van haar tyd gedruk het om slegs te werk om geld te maak. As geldgesentreerde mense raak hulle gefokus op spandeer en spaar van die geld wat hulle verdien het. Maar die oorlog het hulle gedwing om te fokus op werk wat die gemeenskap dien. Sy wou hê die oorlog moet eindig, maar sy wou nie die les vergeet nie.

In Chariots of fire leer ons ook vir Eric Liddell, ’n mede-atleet van Harold Abrahams, ken. Die fliek eindig met Eric wat ’n goue medalje wen. Hy is ’n nasionale held. Wat die fliek nie wys nie, is dat Eric slegs een jaar na die Olimpiese Spele na China vertrek as ’n sendeling.

Eric Liddell het beter as baie verstaan dat ons speel (en werk) ter wille daarvan dat dit die moeite werd is om dit goed te doen. Hy getuig: “God made me fast. And when I run, I feel God’s pleasure.” Dalk is dit die les van grendeltyd.

Dr Nico Simpson is die hoof- uitvoerende beampte van Bybel-Media.

Word 'n vriend van Kerkbode