Boas se voete en Squid Game

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“In die 16 dae van aktivisme moet ons nadink oor wat die lewensomstandighede en ekonomiese werklikhede is wat maak dat vroue en kinders soms hulle liggaam moet prysgee ter wille van oorlewing. Om geweld teen en seksuele misbruik van vroue en kinders te beëindig, moet die finansiële en maatskaplike werklikhede aangespreek word wat maak dat sommige vroue en kinders se enigste hoop op uitkoms is om by ’n man se voete te gaan lê,” skryf Tinus van Zyl.

Rut bly sekerlik een van die mees fassinerende boeke in die Bybel. Dit is ’n kortverhaal met soveel rykdom en diepte dat ’n mens lang preke kan maak oor verskillende fasette van die verhaal.

Maar daar is een aspek van die verhaal wat predikante gewoonlik vinnig systap, alhoewel die skrywer van die verhaal nogal baie aandag daaraan gee. En dit is natuurlik die ongemaklike deel waar Naomi vir haar skoondogter sê om haarself te was, olie aan haar lyf te smeer wat lekker ruik en haar mooiste klere aan te trek. Dan moet sy gaan na die dorsvloer waar Boas, die familielid wat goedgunstig teenoor Rut was, besig is om partytjie te hou na die oes. Naomi beveel haar om seker te maak dat Boas haar nie sien nie, maar om te wag totdat Boas geëet, gedrink en gaan lê het. En dan die opdrag: “Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar.”

Vir menigte teologiestudente, myself ingesluit, was dit ’n groot skok om in die Hebreeuse klas te ontdek dat “voete” in Ou-Testamentiese Hebreeus ’n eufemisme was vir manlike geslagsdele. Alhoewel hierdie hele episode in die verhaal nog altyd ’n bietjie vreemd gevoel het, was die ongemak nou in jou gesig. Want die skrywer noem vier keer Boas se voete. Ons lees dat Boas wakker skrik en ontdek dat daar ’n vrou by sy voete lê! En nadat Rut vir Boas gevra het om haar in sy sorg te neem en Boas ingestem het, lê Rut nog tot die môre toe by sy “voete”.

Op ’n manier is hierdie verhaal so oud soos die geskiedenis self. Hoe dikwels in die geskiedenis is dogters van 14, 16 of 18 jaar oud gedwing om te trou met ’n man, ter wille van die finansiële oorlewing van die familie. Hoe dikwels was vroue genoodsaak om hulle liggaam prys te gee uit ekonomiese nood. Dit is die storielyn van soveel klassieke verhale wat my dogters graag lees, soos Pride and prejudice, want dit was deur die geskiedenis so ’n algemene en lewensbepalende werklikheid van vroue se lewe.

En dit bring my by die Netflix-reeks wat so baie mense aan die gesels het, naamlik Squid Game. Nou, ek moet verklaar dat ek net twee episodes gekyk het, want ek is ’n sensitiewe kyker wat nie sulke geweld kan hanteer nie, en ek sal dit defintief vir niemand aanbeveel nie.

Maar wat die reeks goed illustreer, is hoe die huidige ekonomiese stelsel in ons wêreld mense in so ’n wurggreep van skuld kan vashou, dat mense mettertyd bereid is om hulle liggaam prys te gee vir die moontlikheid om uit daardie wurggreep te ontsnap.

In Rut se situasie – ’n weduwee wat geen grond mag besit nie (slegs mans mag grond besit het) en boonop ’n veragte vreemdeling in ’n onvriendelike, vreemde land – het sy nie veel ander opsies gehad as om haar liggaam prys te gee in die hoop dat ’n man vir haar in sy sorg sal neem en ook haar skoonma se grond sal terugkoop nie. Dit was die enigste manier om uit haar bedelaarslewe te ontsnap, waarin sy koringare moes optel agter die snyers.

In die 16 dae van aktivisme moet ons nadink oor wat die lewensomstandighede en ekonomiese werklikhede is wat maak dat vroue en kinders soms hulle liggaam moet prysgee ter wille van oorlewing. Om geweld teen en seksuele misbruik van vroue en kinders te beëindig, moet die finansiële en maatskaplike werklikhede aangespreek word wat maak dat sommige vroue en kinders se enigste hoop op uitkoms is om by ’n man se voete te gaan lê.

  • Dr Tinus van Zyl is ’n leraar by NG gemeente Durbanville.
Word 'n vriend van Kerkbode