‘Moenie trane laat val nie … ek is kaal na die Here toe. So kaal as toe ek gebore is’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Requiem – vir die lewe, deur Jan Bezuidenhout

Die ou man bly ’n rukkie stil, sluk, vroetel met sy verknopte hande en vertel verder: “Toe mak hy my aan ’n paal vas en slat my. Vreeslik. Die ander mense het my daarna kom los maak. Ek was oral stukkend. Ek het galoop en by my ma se begraaf gaan lê en die hele nag daar geslaap. Die mense het my die volgende dag daar gekry en hospitaal toe gevat.”

Dié verteller is eerwaarde Frans Mcala Koli, die bejaarde herder van ’n gemeente in Khayelitsha, Kaapstad. Dominee Frans, soos ek graag aan hom dink, het etlike jare gelede so een keer per maand op ’n Saterdagoggend by ons kom kuier en homself genooi. Dan kry ek en my vrou ’n Saterdag-preek, wat altyd met dié vermaning afsluit: “Julle moet mooi kyk agter mekaar.” Dit is gewoonlik ook sy afskeidswoorde.

Wanneer Frans die Saterdag aangeklop het, weet almal in ons huis hy is hier. Met sy vrolike, klokhelder stem is al wat leef en beef gou wawyd wakker en almal kom maak ’n draai om te groet, ’n drukkie te gee en om te lag oor ’n sêding of oor sy tergery.

Dominee Frans het een Saterdag aan ons voordeur geklop, netjies aangetrek en met ’n groot glimlag. Bo-oor sy hemp en trui het ’n kruis om sy nek gehang – sy kenteken van die Man vir wie hy onverpoosd werk.

Frans se kuiers is ’n belewenis. Kuier ná kuier ontvou sy merkwaardige verhaal. Van die harde lewe vir ’n swart man met ’n passie vir die plaaslewe. “Ek kan skaapskeer, beeste melk, trekker bestuur en lusern plant. Ja, ek kén van harde werk,” het hy trots vertel. Hy was toe ’n herder in sy gemeenskap, wat by woonhuise in die noordelike voorstede van Kaapstad aanklop en geselsies maak.

Wanneer Frans jou groet, vat hy jou hand met al twee syne vas. Dit is asof sy groot hande deur artritis op knoppe getrek is. Nee, hy is gesond, sê hy, dié hande is nie so krom van siekte nie, dié hande vat nie lekker nie vandat hy in die groot ongeluk was.

“Ek het op Johnnie Potgieter van Fort Beaufort se plaas gewerk toe ons in ’n groot ongeluk was. Ek het daar op die teerpad gelê, my kopvel was losgeskeur en daar was ’n gat in my kop.” Hy wys met sy groot en krom vingers na waar insinkings en knoppe onder die vel op sy blink, kaalgeskeerde hoof duidelik wys. Frans was ná die ongeluk lank in ’n koma in die Frere-hospitaal in Oos-Londen. Toe hy sy bewussyn herwin, het hy sy lewe aan die Here gegee.

Ons vriendskap het begin deur Frans se kuiers: Die tweede of derde keer wat hy kom aanklop het, het ek hom ingenooi vir tee. Ons het heerlik gesels en hy het die tee en beskuit wat my vrou kom bedien het só geniet. Dit was weliswaar vir hom iets spesiaals. Ons het daarna gereeld vir hom iets vir die beursie in die hand gestop, en my vrou het graag kruideniersware, of vleis wat ons van die plaas af gekry het, vir hom saamgegee huis toe. Dan het Frans sy vrou in Khayelitsha dadelik gebel en vertel van die vleis. Hy het isiXhosa met haar gesels, maar ek kon dié woorde volg: Ek is by die witmense, en bring vleis. En Frans lag dat jy hom waar kan hoor.

Só, op dié uitgesoekte Saterdae leer ons al hoe meer van Frans ken.

Een Saterdag was hy van meet af baie aangedaan. Hy vertel: “Ek het op 16 April 82 jaar klaargemaak.” Hy was nie meer vandag se kind nie en was die afgelope twee maande by sy dogter in Kimberley, waarheen hy sy vrou vir ’n operasie en versorging geneem het. “Ek sê vir my vrou, as sy in die oggend wakker word, en ek bly lê, het ek weggegaan na die Here toe. Sy moet nie haar trane laat val nie, ek is kaal na die Here toe. So kaal as toe ek gebore is.”

Frans het ’n groot gemeente in Khayelitsha bedien en nie hy of die gemeente het dit breed gehad nie, maar, soos die Goeie Herder, pas hy die skape in sy kraal op. Na die beste van sy vermoë. Hy deel alles. Hy help om weeskinders groot te maak, in sy eie huis. “Soms, dan kyk daardie kinders in jou oë as die meel en die suiker op is. Wat doen jy?” vra hy. Maar hy vind altyd uitkoms.

“Weet jy, Jannie,” vertel hy, “ek is ’n weeskind. My pa het gedood toe ek jong was. My ma was baie lief vir my. Sy vat toe ’n ander man, my stiefpa. Maar my ma is ook oorlede en ons het haar begraaf.”

Toe hy so 18 jaar oud was, het ’n stiefbroer van hom ’n lusernland op die plaas waar hulle gebly het, aan die brand gesteek. Die stiefpa het gedink dis Frans, en hom daardie verskriklike loesing gegee. Daarna het Frans op die myne gaan werk, en is nie weer terug huis toe nie. Toe sy stiefpa oorlede is, het die familie Frans in kennis gestel. Hy vertel hy het “huis toe” gegaan en vir dié man ’n ordentlike begrafnis gereël. ’n Kis gekoop en vir daardie man ’n goeie afskeid gegee. Frans se onderlip bewe en ons haal almal sakdoeke uit.

Soms, tydens ons Saterdag-geselse, vertel hy van sy swaarkry, die vrae waarmee hy worstel, maar ook die liefde vir sy medemens, en sy onwrikbare geloof.

Frans het gewoonlik Vrydae gebel en gevra of ons tuis is, hy wil die Saterdag kom inloer. Een oggend staan hy voor die deur, netjies uitgevat in ’n donkerkleurige pak klere. Spiekeries, met ’n bypassende onderbaadjie, boordjiehemp en das. Hy lag van oor tot oor. “Jannie, hoe lyk ek?” lag hy. “Ai, Frans, jy lyk soos ’n prentjie uit die tydskrifte,” erken ek. “Kom in. Wat het gebeur dat jy so uitgevat is?”

Frans vertel met groot omhaal van ’n kennis van hom, ’n vrou wat in ’n ander buurt bly. Sy het ’n paar dae gelede vir Frans gebel en hom gevra om haar in een van die inkopiesentrums te ontmoet. Daar gekom, het sy hom na ’n klerewinkel vir mans geneem en gevra dat hulle vir Frans ’n netjiese pak klere met al die bykomstighede moet uitsoek. Hemp, das, gordel, kouse, skoene en hoed. Die lot! En hier staan Frans voor die deur, uitgevat soos jy weet wie!

Hy het die gebaar baie waardeer, en besluit hy wou sy nuwe klere vir ons kom wys. En hy lag van oor tot oor. Dit was een van die heerlikste dae in sy lewe. En ons geniet dit saam met hom!

Ons het ook heelwat pret gehad: “Frans, as ’n man voor sy vrou wegval, kan sy maar weer trou?” terg ek. Hy antwoord: “Die vrou is anders as die man, as hy voor haar gaan, dan sal sy soos ’n hen haar vlerke wyd hou en die kinders sal daar inkom. Maar as ’n man oorbly, dan moet hy nie weer trou nie, want die kinders sal baklei,” lag hy.

Een Saterdag, met Frans se besoek, was my skoonpa by ons aan ’t kuier. Skoonma is onlangs oorlede en dit was ’n byt-op-die-lip-tydjie vir ons gesin. Die hartseer en verlies was maar naby. Frans het ingekom, vir Skoonpa ontmoet en anders as normaalweg, het hy met sy prekie begin. Oor die lag in die lewe en hoe ons as egpare na mekaar moet omsien. Die trane het gerol. Dit is asof Frans daardie dag spesiaal met Skoonpa gesels het, sonder dat hy geweet het hoe goed en hoe mooi Skoonpa na sy eggenote omgesien het.

Frans se gewildheid as prediker het hom op ’n slag in die hospitaal laat beland. Hy is genooi om ’n saamtrek van sy kerk in Gauteng by te woon en daar te preek. Hy was verskriklik opgewonde, aangesien hy en sy vrou soontoe sou vlieg. Met sy netjiese pak klere en al! Die opwinding was groot, so ook die spanning.

Frans het kom terugrapporteer: Dié nuus was nie so goed nie. Hy moes verskeie kere preek en op die derde dag het hy inmekaargesak. Die stres van die hele okkasie was vir hom net te veel. Hy is inderhaas hospitaal toe geneem en moes enkele dae daar deurbring om aan te sterk. Sy saamtrek was verby, maar hy het nietemin goed herstel en hy en sy vrou is daarna terug en het weer veilig in die Kaap aangeland.

“Jannie, daardie vliegtuig. Dit was iets erg. Ons was baie bang, ons was nog nooit naby ’n vliegtuig nie.” Hy sê die vlugbemanning het hulle twee met baie aandag versorg en op hulle gemak gestel. “Maar dit was lekkerder op die grond,” lag hy.

Soms kon ek en Frans koppe bymekaar sit oor knelpunte waarteen Frans te staan gekom het. Gewoonlik was daar uitkomste, soos om ietsie bymekaar te maak vir ’n seun wat ’n inisiasieskool moes bywoon, of ’n begrafnis in die Oos-Kaap: Tradisies en kultuur waarvan ek min geweet het. Soms het mense Frans gevra om na Fort Beaufort te reis om van dié seremonies te hanteer. Kenmerkend van Frans het ek nooit-ooit die indruk gekry het dat hy met die Bybel onder die arm rondloop om daardeur guns by mense te wen nie.

Eendag op die voorstoep, net voordat hy weer regmaak om ’n taxi Khayelitsha toe te haal, sê hy: “Ek sal jou nooit nie vergeet nie, Jannie,” belowe hy driftig. “As ek gaan, ek sal vir jou daar Anderkant wag.” En hy vat jou hand in al twee sy groot, knobbelrige hande vas.

Maar, Frans, jy het ongesiens vertrek. Skielik was sommige Saterdae leeg. Jou foon het net gelui en gelui. Niemand het geantwoord nie. Geen terugvoering op teksboodskappe nie. Niemand het geweet wat met jou gebeur het nie. Eendag het jy net nie teruggekom nie en ek het nie geweet waar om jou op te spoor nie, want ek was voorheen AmyBiehl-bang om jou tuis te besoek. Ons mis jou, Frans, met jou flenterse lyf, maar met die sterre in jou oë, die glimlag op jou lippe en die lewe ruisend deur jou hart.

En ja, intussen kyk ek en Jo-Anne mooi agter mekaar, Frans.

Tot Anderkant.

  • Jan Bezuidenhout is ‘n oudjoernalis by Landbou.com.
Word 'n vriend van Kerkbode