Lekkerlees-jeugboeke vir die Kerskous

Wolf1

Wie skrik vir Wortel Wolf? deur Leon-Ben Lamprecht

Uitgewer: Tafelberg, 2021

Wolf is bekend as die skurk in verskeie klassieke kinderverhale, maar somtyds “is” iemand ’n skurk omdat dit die storie is wat nog altyd oor hulle vertel is … Wie van ons doen regtig die moeite om ’n storie van alkant te beluister, voordat ons ’n oordeel vel? Wie skrik vir Wortel Wolf? bevat drie kortverhale, elk met ’n verfrissende “twist” op die storie en karakters wat jy gedink het jy ken … Hierdie kreatiewe boek, met kostelike illustrasies daarby, sal die jongspan (en selfs grootmense!) se verbeelding aangryp.

Beskikbaar by NB-uitgewers.


Hotel Ietermagô deur Dianne Hofmeyr

Itermago1

Uitgewer: Tafelberg, 2021

Weet jy wat is ’n ietermagô? Dís nou nie iets waarvan jy elke dag hoor nie! In Dianne Hofmeyr se Hotel Ietermagô word opvoedkundige inligting oor vreemde gediertes slim verweef met ’n lekkerlees-storie uit Diereland. Ietermagô is ’n alleen-dier en hy hou daarvan. Hy hou ook van slaap en termiete eet … maar NIE van voor-op-die-wa diere wat hom pla en oopmond kou nie. Wel, o wee, wat ’n verrassing kry Ietermagô toe nie! En ons word saamgeneem op dié avontuur! Die storie herinner dat almal ’n vriend nodig het (selfs al dink hulle nie so nie!) en dat vriende jóú soms kies eerder as jy vir hulle.

Beskikbaar by NB-uitgewers.


Hoephoepie

Hoephoepieland deur Ronél van der Watt

Uitgewer: Naledi, 2021

Hoephoepieland deur Ronél van der Watt, ’n ervare kindersielkundige, hoort in elke huis en klaskamer. Hierin word soms moeilike, maar noodsaaklike temas aangespreek deur middel van stories wat gebaseer is op traumatiese ervarings in die kinderdae, byvoorbeeld konflik in die huis, ’n afwesige ouer en boeliegedrag. Dit kan kinders (sowel as hulle ouers) help om hulle ervaring te verstaan en te hanteer, sowel as om empatie by hulle te kweek vir ander. Van der Watt begelei ook ouers en/of onderwysers om na afloop van die storie met hulle kinders ’n gesprek te hê, deur gespreksvrae wat ingesluit is in die boek.

Beskikbaar by loot.

  • Die resensent is ds Thania Botha, ’n predikant by die NG gemeente Somerstrand in Gqeberha.
Word 'n vriend van Kerkbode