Stille Nag: Elvis het dit ook gesing … En Frank Sinatra. En Taylor Swift. En Gé Korsten. En Rina Hugo

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Waar en wanneer ek die lied “Stille Nag” vir die eerste keer gehoor het, weet ek nie. Ek moes baie jonk gewees het, moontlik nog ’n baba. Miskien het ek iewers gelê, dalk toegedraai in ’n kombersie, en toe speel dit oor die radio: “Stille nag, heilige nag …”

Dit voel vir my of “Stille Nag” van altyd af daar is.

Die heel eerste boek wat my pa en ma vir my gekoop het, bewaar ek steeds ná al die jare: Die Kindjie in die Krip geskryf deur Alida Geldenhuis – ’n groterige boek vol illustrasies van Josef en Maria: Hulle twee op pad na Bethlehem, hulle twee in die stal, hulle twee by die krip, met die herders en wyse manne wat verwonderd na die baba in die krip staar. Jesus.

Die woorde van “Stille Nag” is in daardie boek, maar ek sou dit nie kon gelees het toe ek die boek gekry het nie. Ek kon skaars loop.

Ek is taamlik seker ek kon “Stille Nag” sing voordat ek behoorlik kon lees en skryf. Moontlik het ek die lied die eerste keer in die Kinderkrans geleer sing.

Ons het een Desember die Kersverhaal in die Kinderkrans opgevoer en ek was een van die herders aan wie ’n engel verskyn het. Ek het my pa se groen japon gedra en het ’n besemstok in die een hand gehou – my staf. Monica Cloete was die engel, met vlerke wat laag op haar rug hang terwyl sy die blye tyding vir ons bring: “’n Kindjie is gebore …”

Iewers tydens daardie Kersspel sou ons “Stille Nag” gesing het – moontlik heel aan die einde. Die Kerssangdienste van my jong dae is altyd afgesluit met “Stille Nag”. Of het ons die “Onse Vader” laaste gesing?

Oorlede Pa het nie juis ’n sangstem gehad nie, hy het nooit hard saamgesing van die preekstoel af nie, maar wanneer ons “Stille Nag” gesing het, kon jy hom daar van voor af hoor: “Alles rus, eensaam wag. Slegs Maria, geseënde vrou, by haar kindjie met Josef so trou …” Ek vermoed almal wat gewoonlik maar saamgebrom het wanneer in die kerk gesing word, het met “Stille Nag” harder gesing.

Dit is die een kerklied, naas Psalm 146, waarvan almal die woorde ken: “Soete hemelse rus! Soete hemelse rus …”

Hoeveel verskillende weergawes van “Stille Nag” het ek al gehoor? Dit is onmoontlik om te sȇ. Elvis het dit ook gesing – die Engelse weergawe, uiteraard. En Frank Sinatra. En Taylor Swift. En Gé Korsten. En Rina Hugo.

Een jaar, net voor Kersfees, toe ek by Pa op Ventersdorp kom, toe sit hy en luister na die Klipwerf-orkes se instrumentele weergawe van “Stille Nag”: “Oor die veld, lief en sag, klink die lied van die engelekoor …” Eers wou ek lag vir hierdie Klipwerf-weergawe wat jou hier by die tweede versie rond lus maak om ’n paar wye draaie deur ’n kerksaal met ’n vrou te sakkie-sakkie. Maar toe luister ek mooi en maak dit vir my tog sin: Miskien sou die Bybelse herders daarvan gehou het. Hulle was plaasmense, boere – en Klipwerf se mense kom hoeka van Calvinia af.

“Stille Nag” is daar vir elkeen om op allerhande maniere jou eie te maak, as jy wil. “Stille Nag” is genade.

Ek onthou hoe die Sendingkerk se koor een keer per jaar, op Oukersaand, op ons voorstoep op Daniëlskuil verskyn het en altyd was dit een van die liedere wat hulle gesing het, hoog en skril, terwyl die torre om en om bokant hulle kop om die geel stoeplig draai: “Juig die Redder is daar! Juig die Redder is daar! ”

Ek onthou hoe oorle Ma na Tenessee Ernie Ford se weergawe luister, met toegeknypte oë oor ons Blaupunkt radiogram: “Silent Night, Holy night …” Ek onthou hoe ek iewers in die jare tagtig, ’n paar dae voor Kersfees, oor die stoepreling van ’n woonstelgebou in Sunnyside, Pretoria, leun en ’n muntstuk laat val na waar ’n Salvation Army-blaasorkes se note aamborstig opklink: “Jesuskind, vriendelik lag, liefde teer uit u goddelike mond …”

Ek onthou ’n verdrietige, dronkerige Julie-middag in ’n Toyota Conquest tussen Oudtshoorn en die George-lughawe: hoe ek een of ander Afrikaanse Kers-CD in die speler druk en Rina Hugo oor die krapperige luidsprekers sing: “… tans daag heerlik die vrywordingstond …” En die vrou saam met my in die Conquest vir my sê: “Dit gaan nie help nie. Alles is verby.”

Ek het Stille Nag al in motors en bakkies gehoor, in kerke en huise en in woonstelle, in Wimpy Bar’s en winkelsentrums, in die dag en in die nag, in tye van voorspoed en in tye van teëspoed; en elke weergawe was vir my mooi.

Dit is of iets in Stille Nag alle menslike gebreke en weerloosheid verdra en besweer.

“Heer gebore vir ons! Heer gebore vir ons!”

Word 'n vriend van Kerkbode