Genade met haarverlies, grappe en mekaar

Sedert gister gons die nuus- en sosiale mediawêreld oor die insident Sondagaand tydens die 2022 Oscar-toekenningseremonie toe akteur Will Smith en komediant Chris Rock in ’n onderonsie betrokke was.

Die konteks is breedweg die volgende: Rock (die aanbieder van die glansgeleentheid) het ’n grap gemaak oor Smith se vrou (aktrise Jada Pinkett Smith) se voorkoms. Die grap het betrekking gehad op ’n toestand waaraan Pinkett Smith ly wat veroorsaak dat sy oneweredige haarverlies beleef.

Will Smith het in reaksie op Rock se grap na die verhoog gestap, kru taal gebruik, Rock gaan klap en weer harde woorde laat klink. Hy het kort daarna die Oscar vir beste akteur gewen en voortgegaan om in sy toespraak verskoning te vra vir sy gedrag.

Soos met baie ander sake van die dag, het die insident die publiek bykans onmiddellik verdeel.

Die Rock-ondersteuners voel dat dit bloot ’n grap was, dat Smith dit op etlike ander maniere kon hanteer het, te sensitief was en eerder selfbeheersing aan die dag moes lê.

Die Smith-kamp voel weer dat Rock onvanpas opgetree het deur met iemand se voorkoms (wat in hierdie geval buite die ‘normale’ skoonheidsnorm val) te spot en dat die klap die uiteinde was van iemand wat oor die ‘edge’ gestoot is.

Die ander gevolg van hierdie insident is dat ’n mediese kondisie in die kollig beland het. Die toestand waarmee Rock indirek die spot gedryf het is alopecia areata, ’n outo-immuunafwyking wat meebring dat ’n persoon sy/haar hare verloor in oneweredige kolle wat enige plek op die liggaam kan voorkom. Wanneer dit egter op die kopvel voorkom, veroorsaak dit vir die meeste mense wat daaraan ly ’n ongemaklikheid, vanselfsprekend in sosiale omstandighede.

Waarom die ongemak? Eenvoudig geantwoord: Dit lyk vreemd om kaal kolle op jou kop te hê. Moet asseblief nie verkeerd verstaan nie: Ons praat nie hier van normale patrone van haarverlies nie; alopecia areata is nie dieselfde as ‘male pattern baldness’ nie.

Mense wat aan alopecia areata ly (soos ek), probeer gewoonlik wegsteek dat hulle hare vreemd voorkom deur die oorblywende hare langer te laat groei. Dit werk soms, of tot ’n mate, omdat die kondisie byvoorbeeld kan vererger tot algehele haarverlies (alopecia universalis), waar daar uiteindelik nie ’n enkele liggaamshaar oorbly nie.

Soms besluit die lyer om eerder die oorblywende hare heeltemal af te skeer.

Persone wat hierdie toestand het, ervaar dikwels komplekse gedagtepatrone en emosies totdat hulle gewoonlik by ’n plek van aanvaarding uitkom. Maar die pad tot daar is heel dikwels ’n ingewikkelde proses en stryd waarin selfbewustheid ’n groot opdraande kan wees.

So dink jouself in: Jy is ’n bekende aktrise met ’n ewe bekende man (die Smith-egpaar). Jy – en jou voorkoms – is voortdurend in die kollig. Julle raak moeg van verduidelik en in hierdie geval besluit die persoon om haar hare eerder alles af te skeer en bekend te maak wat die eintlike probleem is.

Nádat jy bekend maak dat jy aan ’n mediese kondisie buite jou beheer ly, ag iemand dit oulik om ’n kwetsende grap ten koste van jou te maak.

Openbare mening is uiteraard grootliks verdeel oor die aangeleentheid, maar ’n paar gedagtes verdien dalk verdere aandag/besinning, ook van gelowiges:

  • Het ons die grense van behoorlikheid as dit by humor kom te ver gevat, of is ons te fyngevoelig en is ons besig om humorloos te word?
  • Tot watter mate mag ons opstaan vir onsself (of vir ander) as ons disrespekvol/spottend behandel word?
  • As iemand ’n ‘fout’ maak in hulle reaksie op ’n situasie (deur byvoorbeeld ’n klap uit te deel), verdien daardie persoon om ge‘cancel’* te word?
  • As iemand ’n ‘fout’ gemaak het deur ’n kwetsende grap te maak, verdien hulle op hulle beurt om ge‘cancel’ te word?
  • As almal wat foute maak genadeloos hanteer word, waar gaan dit ons (die mensdom) uiteindelik bring?
  • Hoe kultiveer ons groter begrip vir mense wat ‘anders’ is en ‘anders’ lyk?
  • Hoe hanteer ons ongemaklike situasies, waar ons dalk nie weet hoekom iemand ’n buitengewone voorkoms het nie?

Dalk is daar ’n paar waardevolle lesse vir ons almal hier: Dink twee (of meer) keer voor jy ’n grap oor iemand se voorkoms maak. Probeer jouself in iemand anders se skoene indink. Bemagtig jouself en betoon respek deur die inwin van betroubare inligting.

En onthou dat ons almal op een of ander stadium (of by herhaling) GENADE gaan nodig hê.

Ds Rudi Swanepoel is leraar by die Andrew Murray Gemeente in Johannesburg. Hy ly al die afgelope 21 jaar aan alopecia areata, ’n nie-lewensbedreigende mediese toestand. Red.

  • “Cancel culture” of “skrapkultuur” soos akademikus Johann Rossouw dit vertaal, word deur die Merriam-Webster-woordeboek gedefinieer as die tendens om steun te onttrek van ’n bekende persoon wat iets gesê of gedoen het wat nie sosiaal aanvaarbaar is nie. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode