Kinderteater vertel van God wat tweede kanse gee

Hoe kry jy kinders opgewonde oor die Bybel? Hoe vertel jy ’n antieke storie op ’n nuwe manier, sodat dit mense se lewe in vandag se tyd verander en inspireer? Jy ontmoet kinders op hulle speelgrond, natuurlik. Met Storie, Speel en Skaterlag. Maar dit verg geloof en vertroue: Geloof dat God se Woord self sal praat. En vertroue dat God in die oomblik gaan opdaag volgens dít wat nodig is, vertel ds Christo Botha en dr Siegfried Louw.

Tydens Pinkster 2022 het Proteahoogte-gemeente in Brackenfell hulle 6de kindergefokusde Pinksterreeks aangebied. Die boek Jona is op ’n kreatiewe manier deur ’n dramaspan op vier aande oorvertel, met ’n bondige boodskap deur Christo Botha na elke aand se oorvertelling.

Die belangrikste vertrekpunt was dat jong kinders die storie moet verstaan en beleef. “As jy wil hê dat mense die waarheid hoor, moet jy dit aantrek in storie en skoonheid,” vertel Christo. Die verrassende en onbeplande gevolg was dat volwassenes en senior lidmate ook getuig: “Ek hoor die boodskap van Jona soos ek dit nog nie voorheen verstaan het nie!”

Sedert 2017 bied Proteahoogte-gemeente slegs kinderpinkster in die vorm van kinderteater aan. Tydens die pandemie het 2020 en 2021 se kinderpinkster alleenlik in die vorm van aanlyn video’s plaasgevind, wat steeds aanlyn beskikbaar is. Verhale uit Daniël en Josua is toe oorvertel. Maar 2022 was ’n nuwe begin vir die gemeente se dramabediening. Dit was asof die gemeente ’n tweede kans gekry het om nuut en vars ’n verskil in die woonbuurt te maak.

Kinderteater gee aan almal teenwoordig ’n ander ervaring. Dit is nie net ’n kognitiewe ervaring en informasie wat verstaan moet word nie. Al jou sintuie word ingespan om ’n storie te beleef. Die gevolg is dat jou hele menswees ’n Bybelstorie ervaar – met emosies, houdings, voorveronderstellings en oortuigings wat uitgedaag word.

So hoe het Proteahoogte se 2022 kinderteater ontluik en wat kan ons daaruit leer vir die pad vorentoe?

Die eerste stap was om ’n Bybelstorie te identifiseer wat smeek om oorvertel te word. Jona vertel van ’n profeet, asook ’n hele stad, wat beide ’n tweede kans gekry het. So byna soos die kerk tans ’n tweede kans na die pandemie gekry het.

Die tweede uitdaging was die vraag: Hoe vertel ons dit nuut, sodat mense dit kan hoor, asof vir die eerste keer? ’n Konkrete uitdaging was byvoorbeeld die idee van die stad Nineve. Vroeë lesers sou dadelik geweet het hoe om “Nineve” te verstaan as ’n stad vol antagoniste. Hoe vertel ons die storie van Jona oor, sodat kinders sou begryp dat Nineve ’n wrede en wilde stad was, wat nie juis goedhartigheid verdien het nie?

Dit het dus alles te make met die vertrekpunt: Die dramateks moes kinders help om die intrige van Jona te snap, sonder om ’n swaar eksegese van die teks uiteen te sit. Maar so mettertyd het nuwe uitdagings uitgedop: Hoe wys ons op die verhoog hoe ’n vis ’n mens insluk? En hoe sal Jona 2 se dialoog lyk, sonder om kinders beangs huis toe te stuur of om bo-oor hulle kop te praat?

Voor die geboorte van die teks, moes Siegfried Louw ’n paar belangrike gesprekke met vrywilligers voer. Is dit dalk moontlik om ’n verhoog-vis aanmekaar te timmer, wat ’n karakter op die verhoog kan opeet? Hoe sal dit lyk? Hoe sal dit werk? Almal betrokke se eerste reaksie was: Dit kan nie eintlik gedoen word nie. 

Voor die geboorte van die teks, moes Siegfried Louw ’n paar belangrike gesprekke met vrywilligers voer. Is dit dalk moontlik om ’n verhoog-vis aanmekaar te timmer, wat ’n karakter op die verhoog kan opeet? Almal betrokke se eerste reaksie was: Dit kan nie eintlik gedoen word nie. Maar daar is vasgebyt … en so is ‘Guppy’ is gebore.. Foto: Bianca Louw

Maar rolspelers het vasgebyt aan die beginsel: Ons moet dat die Bybelstorie homself vertel. Uiteindelik het een van die pa’s van die gemeente ’n idee gehad oor hoe om ’n teater-vis se raamwerk uit aluminium, ogiesdraad en tentraamwerke aanmekaar te slaan. ’n Ma met kreatiewe aanslag agter die naaimasjien het onderneem om met materiaal lyf aan die vis te gee. Beligting, musiek en draers het lewe aan die vis gegee. Die vis van Jona het belofte getoon en “Guppy” is gebore.

“Gustaf en die Guppy” het uiteindelik die hele boek Jona op ’n nuwe manier oorvertel. Die teks wat Siegfried geskryf het, is interaktief. Die gehoor is ingespan om die stormsee te word, om antagoniste op hulle plek te sit en om protagoniste te help.

Iets was in 2022 wel anders as vorige jare.

Die jong skare was besonders stil na elke aand se bedryf, terwyl daar oor die betekenis van die storie gesels is. Aangesien die produksie ’n oorvertelling van ’n bestaande Bybelse teks was, was dit maklik om te verwys na karakters en gebeure in die storie. Die kinders was immers sommer net-nou nog ontsteld of opgewerk oor iets wat gebeur het. Hulle het self as byspelers aan die storie deelgeneem. Die goed wat Christo besig was om te verduidelik, het direk met hulle ervaring van ’n paar minute gelede gepraat. Skaterlag, Storie en Speel het almal se ore oopgemaak om te hoor wat die Bybelstorie in hulle lewe te sê het.

Die somtotaal van elkeen se bydrae was meer as bloot al die stukkies saam. Die teks was een bydrae. Die dekor ’n volgende een. Die amateur-akteurs en regie ’n volgende. Die gemeente se kosverkope en gasvryheid voor die vertonings was nóg ’n waardevolle bydrae. Lofprysing en kindervriendelike prediking het die teks verder ontsluit.

Die volgende beginsels is boustene vir volgende kinderteaterprojekte, vir enige gemeente:

  1. Kies ʼn Bybelstorie wat vra om oorvertel te word.
  2. Werk eenvoudig met wat jy het (mense en tegnologie).
  3. Bly by die intrige van die Bybelstorie.
  4. Sorg dat alle ouderdomme welkom voel (begin by die kinders).
  5. Dink buite die grense oor wie jy kry om te help. Maak dit ’n gemeenskapsprojek, nie ’n gemeenteprojek nie.

Vrywilligers was nog besig om dekor na die week op te pak, toe ’n 7-jarige blou-oog opdaag met ’n belangrike vraag op die hart: Wat is die volgende Bybelstorie wat ons gaan doen? Die man tussen die klomp leeus? Of die een van die ou met die lang, bont jas?

Dit laat ons anders kyk na die Bybel op ons boekrak. Dit is ’n skatkis, volgeprop met stories wat nie kan wag om oorvertel te word nie.

Word 'n vriend van Kerkbode