Matthys Machielse Agenbach is op 7 November 1928 gebore te Ghaams by Wallekraal langs Hondeklipbaai in die omgewing van Garies. “Ghaams” is ’n Koisan-woord wat “dik sand” beteken. Sy voorsate is baanbrekers van die Sandveld en Namakwaland. Sy oupa is Willem Adriaan Agenbach van die plaas Diknek naby Hondeklipbaai. Hy was ’n hardwerkende man en iemand met gesag, baie gedissiplineerd en het geen teenstand geduld nie. Thys se oupa aan moederskant was Jakob Andries van Lill van Piketberg wat later ook na Namakwaland verhuis. Thys se ouers is Willem Adriaan Agenbach en sy moeder is Susanna Johanna van Lill. Uit die huwelik is 14 kinders gebore, waarvan Thys die jongste is.
Thys begin in 1935 met sy skoolopleiding aan Laerskool Wallekraal naby Hondeklipbaai en word in 1944 leerling aan die Hoërskool Garies waar hy in 1947 matrikuleer en deel was van ’n Geesvervulde CSV-groep. Hy word sterk beïnvloed deur die karaktervolle skoolmeester KFH Meiring, wat ’n mentor vir hom is. Hy wou eers gaan boer, maar in 1946 tydens Pinkster roep die Here Thys om as sendeling opgelei te word op Wellington aan die voet van die Groenberg. Aan die Hugenote Universiteitskollege voltooi hy die BA-graad en word toe student aan die Sendinginstituut. Hy was ’n inwoner van Huis Samuel en word einde 1952 as sendeling gelegitimeer. Ds Thys skryf: “Aan ons sendingstudente is die voortreflike naam ‘Donkies’ gegee, ’n erenaam waarmee elkeen van ons in die graf sal ingaan. ’n Donkie was die Here se vervoermiddel op pad na Jerusalem. Ons donkies moes die evangelie van Jesus Christus, die Here, die ganse wêreld indra.”
Op 14 Februarie 1953 word eerwaarde Thys Agenbach met handoplegging in die NG Sendinggemeente Citrusdal bevestig, waar die sitrusboere sy sendingtaak subsidieer onder die bruin werkers. Intussen trou Thys op 12 Desember 1953 met mej Susanne van Lill van Klein-Drakenstein in die Paarl. Sy is ’n onderwyseres en orrelis en onder hulle leiding word Citrusdal ’n selfstandige gemeente. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Elra (mediese dokter), Santie (arbeidsterapeut), Jansie (apteker) en Willem (sakeman).
Intussen kry die sendelinge wat op Wellington afgestudeer het predikantstatus in die NG Kerk en word ds Thys Agenbach op 27 Januarie 1962 sendeling op Bonnievale, waar hy diep spore trap en dr Koekjan de Villiers hom help om as sendeling nie bekommerd oor ’n salaris te wees nie, maar met oorgawe sy geestelike werk te verrig.
’n Roepstem kom na die verre Namakawaland met sy unieke granietkoppe en eiesoortige kokerbome, waar hy op 16 Oktober 1965 leraar word van die NG Moederkerk op Springbok, die bekende klipkerk wat deur dr WP Steenkamp ontwerp en gebou is. Hier werk hy ’n dekade lank met oorgawe en geniet die liefde en omgee van die gasvrye Namakwalanders. Intussen groei Springbok teen ’n geweldige tempo en die NG lidmate op die dorp is genoodsaak om ’n nuwe gemeente op die dorp te stig, ’n groot uitdaging vir ds Thys Agenbach en die kerkraad van die Moedergemeente. In 1966 sluit ds Dirk Venter, ook ’n ou Donkie, aan by ds Thys, waar die twee soos mak gemaakte karperde goed in die tuig pas en groot werk verrig in die koninkryk.
Met die afstigting van die NG Gemeente Boesmanland op Springbok, word ds MM Agenbach op 3 Mei 1975 die eerste leraar van die gemeente Boesmanland. Hy was twintig jaar lank die voorsitter van die Ring van Namakwaland. Onder sy leiding word ’n nuwe kerkgebou opgerig en hy werk met gemak in die groot gemeente tot hy op 21 November 1988 sy emeritaat aanvaar. Die egpaar vestig hulle op Gordonsbaai en woon gelukkig daar tot hulle vroeg in 1996 na die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verhuis. Na ’n leeftyd van diens sterf ds Thys Agenbach op 5 Julie 2021 en daar word met deernis van hom afskeid geneem in die kille Covid-19-tydperk. Hy word oorleef deur sy vrou Susanne (94), wat mooi saam met hom oud geword het. Hulle laat vier kinders agter: Elra, Santie wat met haar gesin in Kanada woon, Jansie en ook Willem wat met sy gesin in Australië woon en werk. Die klein seuntjie van Ghaams in die Sandveld by Hondeklipbaai, wat as jongste kind van ’n baanbrekersfamilie gehoorsaam was aan die stem van die Meester, het na ’n leeftyd van diensbaarheid die poort van die Hemelstad betree. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
